
Plaas Media se Old Mutual Landboustudent van die Jaar-kompetisie word vanjaar vir die tweede agtereenvolgende jaar aangebied.
Vanjaar se kompetisie
Hierdie baanbrekerkompetisie is daarop gemik om studente aan te moedig om loopbane in ’n landbourigting te volg. Die kompetisie fokus op studente oor die hele spektrum van landboustudies (landbou-ekonomie, gewasbou en veekunde) by verskillende universiteite in die land.
“Old Mutual is trots daarop om vir die tweede jaar as die naamborg van die Old Mutual Landboustudent van die Jaar op te tree. Plaas Media is nie net die stigter van die kompetisie nie, maar ook ons mediavennoot. Saam is ons deel van hierdie opwindende kompetisie en sien ons hoe dit jaar na jaar groei. Net so groei die belangstelling van die landboufakulteite soos meer universiteite betrokke wil raak,” sê Riana Grobler, bemarkingsbestuurder by Old Mutual.
“Die kompetisie bied ‘n platform en geleentheid vir landboustudente regoor Suid-Afrika om mee te ding en die kroon te dra in een van die drie kategorieë. Hiermee saam ontvang hulle ‘n gesogte Old Mutual Landboustudent van die Jaar ‘groen baadjie’ wat reeds sinoniem geword het met die kompetisie. Old Mutual se fokus op die landboujeugmark is absoluut in lyn met ons strategie om ’n nalatenskap van sosiale en ekonomiese transformasie asook ’n positiewe toekoms te skep.”
Vyf universiteite het aan 2019 se kompetisie deelgeneem: Die Universiteit van die Vrystaat, Stellenbosch Universiteit, Universiteit van Fort Hare, Noordwes-Universiteit en die Universiteit van Pretoria. Altesaam elf finaliste dring deur na die finale rondte wat by ALFA beslis sal word.
Finaliste vir 2019
Landbou-ekonomie
Michelle Marais | Universiteit van die Vrystaat |
Fabio de Wet | Universiteit van Pretoria |
Kamvalerha Meuze | Universiteit van Fort Hare |
Ruan Nel | Noordwes Universiteit |
Gewasbou
Wian Visser | Universiteit van die Vrystaat |
Grant Carstens | Universiteit van Pretoria |
Hamond Motsi | Universiteit van Fort Hare |
Veekunde
Carina Lues | Universiteit van die Vrystaat |
Enrike Maree | Universiteit van Pretoria |
Pieter Theron | Stellenbosch Universiteit |
Qhamani Mandlana | Universiteit van Fort Hare |
Finale rondte by ALFA
Studente wat deurgedring het na die finale rondte by ALFA, sal op 18 en 19 September die geleentheid kry om hul universiteit én fakulteit se naam hoog te hou. Tydens ALFA sal hulle teen die ander finaliste in hul kategorie meeding om as die nasionale wenner weg te stap.
Die nasionale wenners ontvang elk R1 500 prysgeld, ‘n Old Mutual aandeleportefeulje ter waarde van R5 000, ‘n Old Mutual groen baadjie en blootstelling op Plaas media se televisieprogram, Grootplaas, sy radioprogram, RSG Landbou, asook in die tydskrifte, Veeplaas, Stockfarm en Farmbiz, en natuurlik op www.agriorbit.com.
2018 wenners op Grootplaas
Verlede jaar se nasionale wenners het die geleentheid gehad om op Grootplaas te gesels oor dié kompetsie. Kyk hieronder na ons 2018-wenners, Darren Maree, gewasbouwenner van Stellenbosch Universiteit, Mario van den Heever, veekundewenner en Chéri-Lynn Steyn, landbou-ekonomiewenner, beide van die Universiteit van die Vrystaat.

Vir meer inligting oor die kompetisie kontak Albert Loubser by 082 562 2188 of stuur ‘n e-pos na albert@plaasmedia.co.za.