Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr Nkosazana Dlamini-Zuma, het op 3 Maart 2020 in die Staatskoerant aangekondig dat Suid-Afrika as ’n nasionale rampgebied verklaar is.

Volgens dié aankondiging is die verklaring gedoen weens die voortdurende impak wat die droogte-omstandighede op baie dele van die land het. Sy het ook gesê dat die bestaande droogtehulpbystand wat deur die staat beskikbaar gestel is, aangepas moet word.

Agri SA het in ‘n persverklaring gesê die beweegrede agter ’n nasionale rampverklaring ten opsigte van droogte, gegewe aangetekende reënvalsyfers en produksietoestande in die meeste van die provinsies, is onduidelik.

Hulpbronne moet beskikbaar gemaak word

“In die geval van so ’n verklaring moet die regering alle hulpbronne beskikbaar stel om die lyding van almal in droogtegeteisterde gebiede te verlig. In die praktyk beteken dit die implementering van die nasionale rampbestuursplan en die beskikbaarstelling van bergingsfasiliteite, toerusting, voertuie, ander fasiliteite en personeel om die plan effektief en doeltreffend uit te voer – spesifiek in die provinsies waar droogte vir die afgelope vier tot vyf jaar al duur,” het Agri SA gesê.  

“ ’n Geïntegreerde en eenvormige benadering tot rampbestuur deur alle provinsiale staatsorgane, provinsiale statutêre amptenare, nie-regeringsorganisasies en landboustrukture wat betrokke is by rampbestuur in hierdie provinsies en deur die privaatsektor, is nou van kritieke belang.” – Ursula Human, AgriOrbit