President Cyril Ramaphosa het op 11 November nuwe regulasies vir internasionale reise aangekondig. Dit vorm deel van die regering se planne om ondernemings in die toerisme- en gasvryheidsektore in staat te stel om so vinnig as moontlik ten volle te heropen. Dit is goeie nuus vir internasionale jagters wat na Suid-Afrika wil kom.

Daar sal egter eers gewag moet word totdat die regulasies amptelik gepubliseer is, om duidelikheid rondom die streng gesondheidsprotokolle wat van toepassing sal wees te kry, byvoorbeeld, dat reisigers ’n negatiewe COVID-19-toetsresultaat van nie ouer nie as 72 uur moet hê. Waar van toepassing, sal reisigers moontlik in verpligte kwarantynfasiliteite op hul eie koste moet bly.

“Ons is baie dankbaar dat die land nou oop is vir internasionale reisigers van alle lande – dit is presies wat ons nog heeltyd gevra het: ‘Wat is die verskil tussen ’n negatiewe toets van ’n hoërisiko-land en een vanaf ’n laerisiko-land?’,” het Pieter Potgieter, president van die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika, gesê.

Klimaat en ander hindernisse vir internasionale jagters

“Ongelukkig is dit baie laat vir ons bedryf, aangesien die hoof jagseisoen agter ons is en die huidige temperature vir die meeste jagters nie baie gemaklik is nie, veral vir Amerikaners wat verkies om in die koeler maande te jag. Daar is ook die risiko van skade op trofees. Verder gaan reën in baie dele van die land toegang belemmer en jagdae inperk.

“Die 72-uur COVID-19-toets is ongelukkig ’n noodsaaklikheid en iets waarby ons nie kan verby kom nie. Dit bied wel aan reisigers ’n mate van berusting en sekuriteit, waarsonder hulle sekerlik nie bereid sal wees om te reis nie, veral wanneer hulle ingehok tussen onbekende passasiers sit.

“Dit is nog onbekend wat van die jagter vereis gaan word as hy terugkeer na sy eie land. Die meeste lande vereis slegs self-isolasie, maar in die geval van Amerika glo ek daar gaan binne die volgende weke baie veranderinge wees en die vereistes gaan moontlik verskil tussen die verskeie state.” – Wild & Jag