Dis weer tyd om die kollig te laat val op die land se beste jongwyne. SA Jongwyn nooi wynmakers uit alle dele van die Suid-Afrikaanse wynbedryf om hul voornemende wenwyne van die 2019-oes in te skryf vir die SA Jongwynskou. Inskrywings sluit op 26 Junie by die streekswynskouverenigings en op 5 Julie by die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSA).

Geleentheid om nuwe kultivars te toets

Die SA Jongwynskou bied reeds sedert 1833 aan wynmakers die geleentheid om hul verskillende wyne, eksperimentele style en nuwe kultivars teen hul eweknieë in die bedryf te toets. Dit maak dit die oudste wynskou ter wêreld. Dit is die eerste wynskou wat in Suid Afrika aangebied is deur die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap – nou bekend as Agri-Expo – wat in 1831 gestig is.

Volgens die produsente-organisasie, Vinpro, is wyndruifprodusente en wynmakers positief oor die gehalte van wyne van die 2019-oes, ondanks die invloed van die droogte van die afgelope paar jaar en wisselvallige weerstoestande.

“Ondanks die effe kleiner oes, kan wynliefhebbers goeie gehalte wyne van die 2019-oesjaar verwag. Daar was minder trosse met kleiner wyndruifkorrels wat tot groter geurkonsentrasie bygedra het. Die wyne is ook oor die algemeen gekenmerk deur goeie suur, suiker en elegansie, wat sprekend is van goeie gehalte,” sê Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens.

Groot erkenning op die spel vir wen-wyn

Die Jongwynskou is die ideale geleentheid vir alle produsente om met hul spogwyne om SA kampioentrofeë in 17 klasse mee te ding.

Die witwynklasse is Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Chardonnay, Sémillon, Ander Wit Kultivars, Droë Wit Versnitte, Effe-droë Witwyne en Edellaatoes. In die klasse vir rooiwyn word trofeë toegeken vir die beste Pinotage, Shiraz, Cabernet Sauvignon, Merlot, Ander Rooi Kultivars en Droë Rooi Versnitte. Die beoordelaars sal ook die mees uitnemende Port-styl wyn, Dessertwyn en Muskadel aanwys.

Groot erkenning is op die spel. Ongeveer 2 000 wyne word elke jaar geproe om te bepaal wie die gesogte Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofeë sal wen. Die Generaal Smuts-trofee is die kompetisie se hoogste eerbewys en word al sedert 1952 toegeken aan die algehele kampioenwyn, terwyl die kelder met die hoogste telling vir vyf verskillende wyne, die Pietman Hugo-trofee ontvang.

Die paneel

Daar is 18 spesialispanele wat bestaan uit sewe gekwalifiseerde wynbeoordelaars per paneel. Hulle sal die jongwyne van 22-26 Julie by die Nederburg-veilingskompleks in die Paarl omvattend takseer. Soos die gebruik is, word ʼn agste beoordelaar as aspirant-beoordelaar by elke paneel gevoeg om opleiding te ontvang, maar dié junior beoordelaars se punte word nie in berekening gebring nie. 

Die nasionale wenners sal onthul word by die toekenningsgeleentheid op 24 Augustus by die Angora Stud & Klassieke Motor Museum, Bonnievale, wat vanjaar deur die Robertson-wynvallei aangebied word.

Die SA Jongwynskou-katalogus en -inskrywingsvorm vir 2019 is beskikbaar by www.youngwineshow.co.za of stuur ʼn e-pos na info@veritas.co.za. – Persverklaring