ekonomie

“Suid-Afrika se ekonomie is tans in die moeilikheid en hoewel dit nie vinnig reggeruk gaan word nie, kan dit wel gedoen word.” Dit is die siening van dr Roelof Botha, ’n onafhanklike ekonoom, wat as spreker opgetree het by ’n onlangse sake-ontbyt wat deur Old Mutual aangebied is.

Botha het sy uitkyk oor die huidige makro-ekonomie gegee en veral gefokus op wat na verwagting in die tydperk voor en na die verkiesing gaan gebeur. Volgens hom behoort dit sowat 18 maande te neem om die Suid-Afrikaanse ekonomie om te draai. Hy raai mense wat wil immigreer of hulle geld uit Suid-Afrika wil neem, aan om minstens 18 maande na die verkiesing te wag voordat hulle hul besluite finaliseer.

Volgens Botha is daar ’n 98% korrelasie tussen kapitaalvorming (beleggings in toerusting, geboue ens. vir produksiedoeleindes) en die bruto binnelandse produk (BBP). “Suid-Afrika het in die laaste tyd ’n afname van gemiddeld sowat 14% in kapitaalvorming gesien, wat ’n rede tot kommer is. Positiewe tekens kan gesien word in stellings soos dié van Tito Mboweni, die huidige minister van finansies, wat tydens sy begrotingsrede genoem het dat die onkoste van staatsamptenare op die land se begroting gesny moet word.”

Onteiening van grond

Wat die onteiening van grond betref, meen Botha dat oud-president Jacob Zuma en president Cyril Ramaphosa soos dag en nag verskil. “Ek kan geensins sien dat die onteiening van grond sonder vergoeding onder Ramaphosa se bestuur sal gebeur nie. Indien dit gebeur, sal dit die skade wat Jacob Zuma aan Suid-Afrika se ekonomie veroorsaak het soos ’n piekniek laat lyk.

“Ons moet eerder fokus op die goeie voorbeeld van ’n gemengde ekonomie soos dié van Duitsland, waar die balans tussen die publieke en privaatsektor se rolle in die ekonomie van so ’n aard is dat dit ekonomiese groei bevorder.”

Waar om te begin

Volgens hom sal die regering begin om die grond wat hulle besit aan begunstigdes toe te ken. “Met die hoeveelheid grond in die regering se besit, behoort dit hulle vir 50 jaar besig te hou. Baie Suid-Afrikaners het op die oomblik ’n wag-en-sien mentaliteit, wat beteken dat hulle nie nou geld uitgee op vakansies, nuwe motors ens. nie. Dit veroorsaak dat die ekonomie swaarkry. Dié tendens sal voortduur tot met die verkiesing, wanneer Suid-Afrikaners meer sekerheid oor die toekoms sal kry.”

Hy meen die grootste faktor wat Zimbabwe se probleme veroorsaak het, was hul regering se slegte beleid. “Ramaphosa sal egter na die verkiesing rade met die regte persone op identifiseer, wat Suid-Afrikaanse beleide kan evalueer en ’n aanduiding kan gee oor watter struikelblokke in die verskillende bedrywe verwyder moet word om ekonomiese groei te bevorder.”

Onnodige hoë rentekoers

Botha het genoem dat hy ’n probleem het met die besluite wat die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee neem, wat al die landsburgers beïnvloed. “Dié komitee, waarvan die lede deur Jacob Zuma aangestel is, het veroorsaak dat landsburgers nou met ’n reële primakoers belas word wat 100% hoër is as toe Jill Marcus by die Reserwebank uitgetree het. Een van die redes wat die komitee vir hulle hoë rentekoers gee, is dat Suid-Afrikaanse huishoudings se skuldvlakke styg. Dit is egter glad nie die geval nie.”

Wanneer na die verskillende inkomstegroepe se groottes tussen 2001 en 2011 gekyk word, het die persentasie lae-inkomste huishoudings en huishoudings met geen inkomste gedaal. Die persentasie middel- en hoër-inkomste huishoudings het egter oor dié tydperk gestyg. Verder het Suid-Afrika tot dusver onder Ramaphosa se bestuur ’n rekord-invloei van buitelandse kapitaal vir beleggings beleef – dit terwyl Suid-Afrikaners se beleggings in Suid-Afrika daal.

Hy het die praatjie op ’n positiewe noot afgesluit deur te noem dat Suid-Afrika die beste grondwet in die wêreld het en dat dit amper onmoontlik is dat ons nie ekonomiese groei gaan sien nie. – WA Lombard, AgriOrbit