Suid-Afrika se grootste landbougeleentheid vir die jeug, die Old Mutual Insure Nasionale Jeugskoukampioenskappe, vind van 30 September tot 3 Oktober op George in die Suid-Kaap plaas. Die kampioenskappe word vanjaar vir die 19de keer aangebied, maar vir die eerste keer ooit in die Suid-Kaap. Meer as 400 deelnemers van al nege provinsies word verwag.

“Die sukses van hierdie kampioenskappe kan jaarliks aan die hoë standaard van die deelnemers gemeet word, asook aan die gees waarin die deelnemers meeding,” vertel Breyton Milford, voorsitter van die Nasionale Landbou Jeugvereniging. “Dit is ’n unieke geleentheid waar die land se beste skoumanne en -dames wat reeds provinsiale kleure verwerf het, in aksie te sien sal wees.”

Deelnemers ding vanjaar in 15 kategorieë mee, naamlik vleisbeeste, suiwelbeeste, wolskape, vleisskape, vleisbokke, sybokke, melkbokke, wedvlugduiwe, sierduiwe, varke, kulinêre kuns, suiwelbereiding, konyne, pluimvee en perde.

Volgens Milford is ’n nuwigheid vanjaar die betrokkenheid van voormalige jeugskoudeelnemers. Hulle sal as junior beoordelaars hul kennis en ervaring in die kampioenskappe terugploeg.

“Dit is belangrik dat hierdie kinders se passie vir diere bevorder word, omdat ons deur middel van jeugskoue die volgende geslag boere oplei. Ons is dankbaar dat Old Mutual Insure, Agri as naamregteborg, jeugskoue as ’n belegging in die toekoms van landbou beskou,” sê Milford.

Dit sal vir die publiek ’n genotvolle plaasuitstappie wees waar hulle kan ervaar hoe met diere gewerk moet word en met pluimvee geskou word. Hulle sal ook kan sien hoe kaas en jogurt gemaak word. Die kampioenskappe, wat by die George-skouterrein plaasvind, sal gepaardgaan met stalletjies en vermaak vir oud en jonk. Toegang is gratis. Volg die SA Jeugskou Facebook-blad om op hoogte van sake te bly.Persverklaring