Suider Paarl Landboukoöperasie en Die Koöperasie het met trots hul samesmelting aangekondig. Die stap verseker nou groter bedingingsmag tot voordeel van boere.

In sy 75ste bestaansjaar met 34 handelstakke en 18 spesialiteits depots in Suid-Afrika, deel Die Koöperasie en Suider Paarl Koöperasie die unieke besigheidsmodel van ‘n koöperasie.

Die eenparige besluit van Suider Paarl Koöperasie-lede om die vrywillige samesmelting te ondersteun, kan direk toegeskryf word aan die gedeelde waardes wat dié twee landboubesighede nastreef.

Volgens Derek Clift, voorsitter van die Suider Paarl Koöperasie-direksie, is hierdie strategiese besluit geneem tot voordeel van boere in die Wes-Kaap. “Ons lede het nou toegang tot ‘n wyer netwerk van produkte en dienste wat ingeligte besluitneming tot gevolg het. Daarteenoor is die sentrale stelsel van bedinging en operasionele bestuur ‘n wyse besluit om sodoende oorhoofse kostes te minimaliseer – wat op sy beurt meer sente in die boer se sak beteken.”

Die Koöperasie maak naam in die Wes-Kaap

VGK Firearms in Parow en Komkyk Motors in Touwsrivier is besighede wat reeds deel is van Die Koöperasie-groep. Met die onlangse opening van ‘n chemiese depot in Paarl en ‘n vulstasie in Vredenburg, kan Die Koöperasie nou ‘n veel groter voetspoor in die Wes-Kaap uittrap.

“Die wedersydse kundigheid kan beide ledegroepe van hulp wees”, sê Henk Agenbach, hoof uitvoerende beampte van Die Koöperasie-Groep.  “In elke streek is kenmerkende landboubedrywighede, maar tesame kan lidmaatskap uitgebrei word en die wyer verskeidenheid van dienste en ondervinding kan ook wedersyds tot voordeel van produsente aangewend word.”

Die samesmelting is effektief met ingang van 1 Julie 2019 en alle bedrywe rondom Suider Paarl Koöperasie sal deur Die Koöperasie geadministreer word.

Henk Agenbach, hoof uitvoerende beampte van Die Koöperasie-groep.

Lanboukenners wat winsgewindheid in die oog het

Die Koöperasie is ‘n Suid-Afrikaanse landboukoöperasie met sy hoofkantoor in Humansdorp en is in 1944 gestig. Dit bied ondersteuning aan boere van alle boerderyvertakkings regdeur Suid-Afrika en is een van slegs ‘n paar landboukoöperasies in die land. Daar is 34 handelstakke en 16 gespesialiseerde depots in die land.

Die Koöperasie maak gebruik van kundige tegniese personeel, insluitend landboukundiges, landbou-ekonome en besproeiingstegnici. Hierdie kundige dienste, sowel as veeartsenykundige dienste, word aan boere beskikbaar gestel om die winsgewende produksievermoë van hul besighede te verbeter.

“Die Koöperasie se visie is om die toonaangewende landboubesigheid in Afrika te wees wat die winsgewendheid van ons lede en ontwikkeling van ons gemeenskappe en omgewing volhoubaar verseker,” sê Agenbach. “Ten einde dit te verwensenlik, is ons missie om volhoubare winsgewendheid te handhaaf deur koste-doeltreffende dienslewering en kollektiewe bedinging vir gehalte produkte in vennootskap met personeel, kliënte, verskaffers en gemeenskappe.”

Alomvattende dienste

Ander spesialisafdelings sluit in boerdery-ontwikkeling, kunsmis, sade en landbouchemikalieë, landboubeplanning, alternatiewe energie, besproeiing, landbounette, vuurwapens en ammunisie, veevoervervaardiging en graansilo’s.

Die Koöperasie word deur boere oor generasies heen aangedryf met die primêre doel om uitstaande, innoverende en unieke produkte en dienste aan sy lede en kliënte te lewer sodat hulle hul boerdery op ‘n winsgewende en volhoubare manier kan bedryf.

Besighede wat deel van Die Koöperasie-Groep is: VGK Firearms (Parow); Kareedouw Kreosoot Werke (Kareedouw) – ‘n paalverwerkingsaanleg; Umtiza Farmers’ Corporation – ‘n direkte landbou-insettebesigheid; PSP Investments (Kokstad) – voervervaardiger en graanverhandelingsbesigheid; en Komkyk Motors (Touwsriver) – 24-uur brandstof en diensstasie, restaurant, geriefswinkel en verblyf- en kampeerfasiliteite. – Persverklaring