Junie is bekend vir die viering van Jeugmaand, veral met die fokus op die beskerming van kinders. Die vergrootglas word ook op die jeug se menseregte, hul veiligheid, algemene lewensomstandighede en bemagtiging geplaas.

Ons kinders is die geslag wat kort voor lank die leisels sal moet oorneem, maar sonder die regte fondasie en gereedskap sal dit nie met sukses gepaardgaan nie. Suidwes Landbou streef daarna om die boere en leiers van môre so goed as moontlik toe te rus. Daarom stuur Suidwes Landbou deurentyd verskeie inisiatiewe van stapel om ons jeug te bemagtig.

Suidwes Landbou het onlangs Jongboertjiedae op Wolmaransstad en Delmas aangebied waar verskeie verskaffers en uitstallers betrokke was. Kinders is die geleentheid gebied om op ’n praktiese manier meer van die verskillende fasette van die landbousektor te leer.

Uitstallings en praktyke het gewissel van skaapskeerdery, wapens en herlaaitoerusting, konyn- en hoenderboerderypraktyke, ’n bees outopsie, die ontleding van grondmonsters, besproeiing, bok- en beesboerderypraktyke, die verskillende gebruike van hommeltuie, en meer.

Volgens die Suidwes Groep se uitvoerende hoof, dr Herman van Schalkwyk, is dit belangrik dat Suidwes op hierdie wyse betrokke is by ons gemeenskappe. “Ons moet voortdurend ons jongmense met die opwinding van die landbousektor prikkel, want hulle is die boere van môre. Vir volhoubare voedselsekerheid het ons geesdriftige en kundige jongboere in Suid-Afrika nodig.”

Nog ’n inisiatief wat Suidwes Landbou baie na aan die hart lê, is die borgskap van sportdrag vir 33 skole in die Suidwes-bedieningsgebied. Dr Van Schalkwyk sê hierdie is een van die inisiatiewe wat vir groot glimlagte op die kinders se gesigte sorg. “Ons wil sien dat plattelandse skole ook met breë borse op die sportveld uitdraf. Ons moet aanhou belê in ons kinders. Suidwes Landbou sal voortgaan om die gevoel van trots en geesdrif by ons leiers van môre te ontgin.”

Volgens Riekie du Preez, opleidingsbeampte, is Suidwes by verskeie leerlingskapprogramme betrokke om die jeug se pad vorentoe te vergemaklik. “Ons het ’n verantwoordelikheid om die vermoëns van ons jongmense verder te ontwikkel. Suidwes se leerlingskappe loop oor ’n tydperk van twaalf maande en vakleerlingskappe word oor ’n tydperk van drie jaar aangebied.” – Persverklaring