“Suidwes Landbou het ’n trotse geskiedenis van 109 jaar en die maatskappy se toewyding tot sy aandeelhouers, klante en personeel word oor jare heen weerspieël in die maatskappy se betrokkenheid by die gemeenskap. Slegs deur die interafhanklikheid tussen Suidwes, sy lede en die gemeenskap kan uitdagings die hoof gebied word en ’n volhoubare platteland in stand gehou word.”

Dit was die boodskap van dr Herman van Schalkwyk (groep hoof uitvoerende beampte, Suidwes Landbou) tydens die jaarlikse Suidwes Top-klantefunksie.

Die glans geleentheid het plaasgevind by die Riverside Sun Hotel in Vanderbijlpark waar gaste tydens ’n bootvaart op die Vaalrivier onthaal is. Tydens die bootvaart is heerlik gekuier en is gaste vermaak deur die groep Touch of Class.

Volgens Hansie Viljoen (voorsitter: Suidwes direksie) het Suidwes se betrokkenheid en verbondenheid tot sy lede uitgebrei en word Suidwes se teenwoordigheid in die gemeenskap waargeneem. Viljoen het ook erkenning gegee aan die lojaliteit en ondersteuning van Suidwes se aandeelhouers en die rol wat elke aandeelhouer speel ten einde die maatskappy suksesvol te maak.

“Die maatskappy se trefreël, ‘Uit die lede, vir die lede’, het weereens vanjaar bewys dat Suidwes sy klante, aandeelhouers en personeel as die hoogste prioriteit ag,” het Viljoen gesê. – Persverklaring