Suiwelkampioenskap lok 882 inskrywings

384
Van links na regs is Lucio Lepera (Suiwelspesialis van Sacco Systems in Italië), Beverley Schäfer (Wes-Kaapse Minister van Ekonomiese Geleenthede) en Johan Ehlers (HUB, Agri-Expo).

Die grootste suiwelkompetisie in Afrika, die beoordeling van die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskap, het pas by GrandWest in Kaapstad plaasgevind. Vanjaar het 76 vervaardigers ’n totaal van 882 suiwelprodukte in meer as 100 verskillende klasse ingeskryf.

Read it in English. 

“Dié groot getal inskrywings is goeie nuus vir die suiwelbedryf wat deur ’n trae ekonomie en voortslepende droogte gekniehalter word,” sê Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, die organiseerder van die kampioenskap sedert 1834.

“Dit is bemoedigend dat daar weer etlike eerste-keer-inskrywings is en dat vervaardigers ook nuwe produkte in ander klasse inskryf, wat dui op ’n groei in produkontwikkeling,” voeg Ehlers by.

Bedryf erken uitnemendheid

Volgens Ehlers is die kampioenskap se uitsluitlike doel om uitnemendheid in die suiwelbedryf te erken en te bevorder.

“Die kompetisie het die maatstaf geword waarvolgens groot én klein vervaardigers hulself teen mekaar meet,” sê Ehlers. “ ’n Span van 75 beoordelaars wys ’n SA Kampioen in elke klas aan. Slegs enkele produkte van besonderse hoë gehalte ontvang die Qualité-merk, wat as die enigste merk van gehalte vir suiwelprodukte in Suid-Afrika erken word. Die Produk van die Jaar word deur ’n paneel van vyf kundiges bepaal.”

Potensiaal van agri-verwerking

Beverley Schäfer, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, sê die kampioenskap is ’n geleentheid vir agri-verwerkers om nasionaal mee te ding op ’n baie hoë vlak van gehalte en vernuwing. “Deur uitnemendheid te bevorder, stimuleer die toekennings groter vraag en nuwe produkontwikkeling wat help om hierdie sektor van ons ekonomie te laat groei,” sê Schäfer.

Volgens Schäfer is die agri-verwerkingsektor ’n belangrike fokus vir die Wes-Kaap. “Agri-verwerking het uitstekende groei- en uitvoerpotensiaal, wat die ekonomie kan laat groei en nuwe werk skep.”

Die kampioenskap maak juis voorsiening vir kontinuïteit deur jonger beoordelaars in te sluit, waaronder vorige deelnemers aan die Boergondië-kaasmakersuitruilprogram, ’n bilaterale ooreenkoms tussen die Wes-Kaapse regering en die streeksregering van Boergondië, wat deur Agri-Expo gekoördineer is. Hierdie oudstudente beklee vandag senior posisies in die bedryf en ploeg só hul kundigheid terug.

Die 2019 Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskap word moontlik gemaak deur vennootskappe met Lake Foods, Santam Landbou, die Melkprodusente-organisasie (MPO) en The Dairy Mail. Die wenners word by die Qualité-toekenningsdinee op 29 Maart 2019 by GrandWest in Kaapstad aangekondig. Belangstellendes kan www.cheesesa.co.za en www.agriexpo.co.za besoek, of Agri-Expo by 021 975 4440 of cheese@agriexpo.co.za kontak. – Persverklaring

Kyk die video vir ’n kykie na die beoordeling: