RSG Landbou, Suiwelproduk
Lactalis South Africa se 10-maande beleë (mature) gouda, is as die Suid-Afrikaanse Suiwelproduk van die Jaar gekroon.

Lactalis South Africa se 10-maande beleë (mature) gouda, wat uitsluitlik vir Woolworths vervaardig word, is op 26 Maart tydens vanjaar se Suid-Afrikaanse Suiweltoekennings by Cavalli Estate buite Stellenbosch vir ’n ongeëwenaarde derde keer as die Suid-Afrikaanse Suiwelproduk van die Jaar gekroon. Dié prestasie is ’n eerste vir die SA Suiwelkampioenskappe, wat vanjaar sy 188ste bestaansjaar vier.

Die gouda, ʼn aromatiese en intens-gegeurde kaas, was een van byna 900 suiwelprodukte van 68 vervaardigers wat meegeding het om die aandag van 60 beoordelaars. Slegs agt produkte uit die groot getal inskrywings is met die Qualité-merk van gehalte vereer (sien ’n volledige lys van die crème de la crème onder), terwyl 106 as SA Kampioene  – die wenners in elke kampioenskapklas – aangewys is.

“Vir ’n produk om in ’n kompetisie van hierdie omvang as Produk van die Jaar gekies te word, is die droom van elke kaasmaker,” sê suiwelkenner en hoofbeoordelaar, Alan Fourie. “Dat hierdie eer vanjaar se wenner van die gesogte titel vir die derde keer te beurt val, is uitsonderlik. Die Woolworths 10-maande beleë gouda is voorwaar ’n produk wat die toets van die tye deurstaan het, maar ook ’n bewys van volgehoue gebruik van uitstekende bestanddele. Tegnies en gastronomies is dit so na aan perfek as wat ’n kaasproduk kan kom.”

Marek Warzywoda, hoofbestuurder: Lactalis South Africa (LSA), sê sy span is verheug daaroor dat die besondere ekstra beleë gouda vir ’n ongekende derde keer as Produk van die Jaar aangewys is. “Boonop is dit ook die vierde keer dat ons die algehele toptoekenning in vyf jaar behaal. Die LSA-span se harde werk, toewyding en ambisie om produkte van topgehalte te vervaardig, het weer vrugte afgewerp. Ons is geweldig trots op ons prestasie.”

Warzywoda het Agri-Expo ook gekomplimenteer met die organisering van “nog ’n suksesvolle SA Suiwelkampioenskappe en -toekennings”.

Enigste groot suiwelkompetisie ter wêreld tydens Covid-19

Die SA Suiwelkampioenskappe word reeds sedert 1834 met groot sukses deur Agri-Expo aangebied. Volgens Johan Ehlers, hoof-uitvoerende beampte van Agri-Expo, is die meerderheid belangrike internasionale suiwelbyeenkomste wêreldwyd in 2020 gekanselleer en in 2021 uitgestel. “Die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe is trouens die enigste groot suiwelkampioenskap ter wêreld wat in beide 2020 en 2021 plaasgevind het,” sê Ehlers. “Om dit moontlik te maak, moes ons die beoordelingsproses aanpas tot twee dae en die toekennings as ’n hibriede geleentheid aanbied.”

Die groot getal inskrywings en buitengewone produkte wat vanjaar ingeskryf is, is volgens Ehlers redes om optimisties te wees oor die toekoms van die suiwelbedryf in Suid-Afrika: “Vanjaar se uitslae getuig van ’n innoverende bedryf en gesonde kompetisie tussen individue, klein en medium ondernemings, sowel as nasionale en internasionale maatskappye.”

Die SA Suiweltoekennings kan steeds besigtig word by www.cheesesa.co.za/sadairyawards.

2021 Qualité-wenners

Die 2021 Qualité-wenners is soos volg:

  • Clover: Mooi River Salted Butter en Clover Salted Butter Mini Tubs.
  • Lactalis South Africa: Woolworths 10-Month Mature Gouda and Président 6-Month Mature Gouda.
  • De Pekelaar Boerenkaas: De Pekelaar Boerenkaas Old.
  • Famous Brands Cheese Company: Steers Processed Cream Cheese Spread (onion and chives).
  • Fairview Cheese Company: Woolworths Chevin with garlic and herb.
  • Fair Cape Dairies: Checkers Vanilla Flavoured Custard.

Vir meer inligting en die volledige uitslae, besoek www.cheesesa.co.za of kontak Agri-Expo by  cheese@agriexpo.co.za. – Persverklaring, Agri-Expo