Die internasionale maatskappy, Netafim, het 29 besigheidseenhede regoor die wêreld. Een van dié eenhede is Netafim Suid-Afrika, wat reeds sedert 1992 drupbesproeiingsprodukte en -dienste aan Suid-Afrika en sy buurstate lewer.

Netafim Suid-Afrika huisves ook een van slegs 17 Netafim vervaardigingsaanlegte in die wêreld. Netafim drupbesproeiingsprodukte word dus plaaslik vervaardig en word deur plaaslike en globale kennis ondersteun.

Volgens Willem Botha, bemarkingsbestuurder van Netafim Suid-Afrika, kan die maatskappy se sukses toegeskryf word aan twee aspekte. “Eerstens struktureer ons ons verkoopspan as tegniese adviseurs eerder as verkoopskonsultante. Verkope word deur ’n handelaarsnetwerk gedoen, waar die verkoopspan die produk en die kliënt met sy kennis ondersteun.

“Ons fokus ook op wat die boer regtig wil hê. Ons mense word opgelei om te luister na boere en ander verbruikers se vrae, en om streng volgens die behoefte wat gekommunikeer word, op te tree.”

Willem vertel dat Netafim Suid-Afrika, as een van die kleiner bedryfstakke in die globale maatskappy, een van die top-presterende takke is. “Ons is in 2018 genomineer as een van die top bedryfstakke in die globale maatskappy.”

’n Gefokusde toekomsvisie

Wat die volgende tien jaar betref, sê Willem, het Netafim Suid-Afrika twee groot doelstellings. “Ons as maatskappy wil nie net groei sien binne Suid-Afrika nie, maar ook in al die SADC-lande. Die doelwit is om die voorste besproeiingsverskaffer in die streek te wees.”

Die span se volgende doelwit is om ’n groter fokus op kleinboere te plaas en by verskeie projekte betrokke te raak. “Ons kollegas in Indië het reuse-sukses behaal met ’n projek vir kleinboere en ons wil graag in hul voetspore volg.”

Nog ’n fokuspunt is om toenemend in die digitale era in te beweeg. “Die wêreld is so gewoond aan digitale tegnologieë, maar die besproeiingsbedryf het egter ’n baie basiese digitale voetspoor en die moontlikheid vir ontwikkeling in die verband is dus groot.”

Willem verduidelik dat rekenaartegnologie nie ’n vreemde konsep vir die besproeiingsbedryf is nie. “Rekenaars is gereeld ingespan, veral vir skedulering. Die fokus hier was egter net om krane oop en toe te maak. Die fokus moet nou skuif na besluitneming. Die huidige uitdaging is om besluitnemingsmodelle en -toepassings in plek te sit wat die boer in sy besproeiingsbesluite kan ondersteun.”

Willem sluit af met die belangrike boodskap dat drip- en mikrobesproeiing jou werklik kan help om meer te produseer met minder. “Dit is iets wat noodsaaklik geword het in vandag se landbou-omstandighede, en ons kan nie ’n geleentheid om dit ’n werklikheid te maak, misloop nie.

Netafim Suid-Afrika gaan oudergewoonte by Nampo 2019 wees. Moenie die kans misloop om die span te ontmoet nie.

Vir meer inligting besoek www.netafim.co.za. – Marike Brits, AgriOrbit

Netafim

Kyk gerus hieronder na ‘n insetsel van Grootplaas waar Willem Botha gesels oor hoe Netafim se nuwe tegnologiese ontwikkeling bydra tot die groei en volhoubaarheid van boere wat van Netafim se produkte gebruik maak.