Die Bloemskou het vanjaar van 26 April tot 4 Mei in Bloemfontein plaasgevind en dit was definitief ’n landboufees. Die skou het omtrent gewemel van die diere en word nie verniet die mekka van die stoetveebedryf genoem nie. Sewe nasionale en 16 streeks- en provinsiale kampioenskappe, asook ’n wêreldskou, het vanjaar by dié skou plaasgevind.

Elite Bulgroeitoetsklas

Die Elite Bulgroeitoetsklas lok altyd groot belangstelling by die Bloemskou. ’n Rekord 18 bulle is vanjaar deur die onderskeie telersgenootskappe genomineer en die wenner is op 29 April in die hoofbeesring bekendgestel. Die Elite Bulgroeitoetsklas-wenner vir 2019 is ZEC Match, ’n Rooi Angusbul van dr Enslin Coetzee en sy skoonseun, Issie Liebenberg, van die ZEC Angusstoet by Bothaville.

Anton Vos, uitvoerende direkteur van Vleissentraal, en Issie Liebenberg by die wenbul in die Elite Bulgroeitoetsklas, ZEC Match. (Foto: Mario van den Heever)

PLAAS Landboujeugstigting

Die PLAAS Landboujeugstigting is weer vanjaar by die skou verteenwoordig. Dié stigting dien as die sambreelliggaam wat na die Veeplaas Skole-kuddeprojek omsien. Die kuddeprojek is reeds vier jaar aan die gang en die skole neem gereeld deel aan streeks- en provinsiale skoue. Al drie skole wat aan die Bloemskou deelgeneem het, het goed presteer.

Die volgende prestasies is behaal:
  • Veeplaas Blouskool Santa Gertrudisstoet van Hoërskool Kroonstad, beter bekend as die Blouskool: Bul (24 tot 30 maande) – tweede plek.
  • Veeplaas Unicom Braunvieh-stoet van Unicom Landboukollege: Koei (ses tot tien jaar) – eerste plek.

Absa Vleisbeesinterraskampioenskappe

Die Absa Vleisbeesinterraskampioenskappe is altyd ’n hoogtepunt op die landboukalender. Die twee wenners in hierdie jaar se interraskampioenskappe is:

  • Koeiwenner: Milagro Amy, ’n Simmentalerkoei van die Andrew Masterson-familietrust.
  • Bulwenner: Xourel Italia, ’n Limousinbul van Andrew le Roux se Xourel Limousins.
Die wenner van die kategorie vir koeie in die Absa Vleisbeesinterraskompetisie is Milagro Amy, ’n Simmentalerkoei van die Andrew Masterson-familietrust. Van links is Danwill Daniels, hanteerder, Jan de Jong, beoordelaar, Colette Masterson, eienaar, en Alex van der Watt van Hinterland. (Foto: Christopher Richards)
Xourel Italia, ’n Limousinbul van Andrew le Roux se Xourel Limousins, is die wenner van die kategorie vir bulle in die Absa Vleisbeesinterraskompetisie. Van links is Tituse Motsumi, hanteerder, Derick du Toit, eienaar, Jan de Jong, beoordelaar, en Alex van der Watt van Hinterland. (Foto: Christopher Richards)

Kleinveekampioenskappe

Die Ile de France- en Suffolk-kampioenramme by die Bloemskou. Agter van links is Ashley Clark, Stephanus Simons, Daniel Clark, Bossie Clark, eienaar van die Ile de France-ram, Awie Nel van Barnlab, Albert Loubser van Plaas Media en Carel Greyling, eienaar van die Suffolk-ram. Voor is Basie Erasmus en Oompie Mohlaba, hanteerders. (Foto: Mario van den Heever)

Agt kleinveekampioenskappe het by die Bloemskou plaasgevind. Die Boerbok-, Savanna- en Kalahari Red-wêreldskou is ook vanjaar by dié skou gehou. Al die kleinvee het uitstekend gevaar en ses rasse kwalifiseer vir die Barnlab ‘Best of the best’-uitstalling, wat by ALFA 2019 gehou gaan word en waar die grootkampioen van elke ras uitgestal gaan word. Die rasse wat gekwalifiseer het is: Suffolk, Ile de France, Merino Landskaap, Boerbok, Kalahari Red en Savanna. – Michelle Verster, AgriOrbit

Klik op die skakel om meer te lees oor die SA Stamboek Elite 2019-toekenings.