Survivor Sauvignon Blanc wen internasionale dubbelgoud

361

Survivor, die Swartlandse reeks van Overhex Wines International, het skoonskip gemaak by die 2018 Ses Nasies-wynuitdaging met ’n dubbelgoud vir die bekroonde 2017 Sauvignon Blanc.

Read it in English. 

Hierdie is die derde noemenswaardige toekenning wat dié oesjaar van die lewendige Survivor Sauvignon Blanc losslaan. Die wyn spog reeds met goue toekennings van die 2018 Old Mutual Trofee-wynskou en die 2017 Michelangelo Internasionale Wyn- en Spiritualieë-toekennings.

Om gekies te word as een van die nuwe wêreldse kampioene by die Ses Nasies-wynuitdaging is beslis ’n klop op die skouer vir die wynmaker, Ben Snyman. Hierdie jaarlikse kompetisie is ’n skouspel van wyne uit Australië, Kanada, Chili, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en die VSA.

“Ons is ongelooflik trots op die Survivor-reeks en beskou hierdie wonderlike toekennings as bevestiging dat ons op die regte pad is met ons doelwit om wyne te skep wat eg is aan hul Swartlandse herkoms,” sê Snyman.

Die top 2017 Sauvignon Blanc met sy romerige tekstuur is gedeeltelik in die vat verouder. Dit betower met lekker geure van tropiese vrugte, terwyl die vars suurgehalte en subtiele mineraalagtigheid tot sy aanloklikheid bydra.

Die Ses Nasies-wynuitdaging erken en vertoon “die beste van die beste” nuwe wêreldse wyne en bevorder hul uitstaande gehalte, diversiteit en rykheid. Wyne word slegs per uitnodiging vir hierdie kompetisie ingeskryf. Hier word ’n totaal van 600 wyne beoordeel deur ’n paneel van verteenwoordigers uit elke deelnemende land. Elke jaar word die beoordelaars genooi om 100 wyne te kies wat die beste uit hul afsonderlike lande verteenwoordig.

“Net om genooi te word om op hierdie internasionale vlak deel te neem is erkenning genoeg, en die dubbelgoud is beslis ’n hoogtepunt vir ons toegewyde wynmaakspan en die Rust-familie wat die druiwe vir ons Survivor-reeks voorsien,” sê Gerhard van der Wath, eienaar en voorsitter van Overhex Wines International. – Persverklaring