Onder die huidige droogtetoestande is dit baie moeilik om te voorspel wat die seisoen gaan oplewer en watter probleme om te verwag. Die voorkoms van die meeste peste en plae is totaal afhanklik van hoe omgewingstoestande gaan lyk tydens die kritiese groeistadia van die gewas.

Voordat ons meer klem kan lê op die voorkomende beheer en bestuursplanne wat ons kan maak, is dit belangrik om jou te vergewis watter faktore ’n bydrae kan lewer tot swamsiektes in mielies.

Die plantsiektedriehoek

Die bekende plantsiektedriehoek word in Figuur 1 geïllustreer. ‘n Siekte kan slegs voorkom wanneer al drie faktore oorvleuel. Hulle is die gasheer(1), patogeen(2) en geskikte omgewingstoestande(3). Indien een van die drie faktore ontbreek, kan geen swamsiekte voorkom nie.

Figuur 1: Die plantsiektedriehoek

Dit is egter nie maklik om te voorspel watter swamsiekte wel gaan voorkom nie, aangesien die produsent slegs ’n rol speel tydens sy kultivarkeuse (die gasheer). Die produsent het geen beheer oor die patogeen wat die siekte veroorsaak nie en nog minder oor die klimaat.

Kultivarkeuse

Dit is dus baie belangrik dat die regte kultivar gekies word – een wat minder vatbaar is vir swamsiektes in jou spesifieke area. Die groei, ontwikkeling en opbrengs van die mielie is ’n funksie van die plant se genetiese potensiaal en die omgewingstoestande waaronder die plant verbou word. Hiervoor is die mielieplant grootliks van die klimaat afhanklik.

Tog kan die produsent die omgewing manipuleer met sy bestuursvaardighede, kultivarkeuse, grondbewerking, wisselbou, bemesting, besproeiing en plaagbeheer. ‘n Produsent, tesame met sy gewasbeskermingsvennoot wat die groei en ontwikkeling van mielies verstaan, sal betyds die regte produksiepraktyke vir hoër opbrengste en wins toepas.

Die stadiums van mieliegroei

Die vegetatiewe stadiums van die mielie se groeistadia word in Figuur 2 aangedui met ‘n V tot by die VT-stadium, wanneer die pluim verskyn. Daarna word die reproduktiewe stadia met ’n R aangedui word. Elke spesifieke V- of R-stadium word gedefinieer wanneer sowat 50% of meer van die plante in die betrokke stadium verkeer.

Figuur 2: Mieliegroeistadia

Die belangrikste stadium van siektebeheer is van V5 tot R1. Tydens die V5-stadium is die groeipunt en pluim naby aan die grondoppervlak en die stam begin vinnig verleng. ’n Nuwe blaar verskyn ongeveer elke drie dae. Die opbrengspotensiaal en die aantal rye per kop word vasgelê. ’n Kop sal op elke internode ontwikkel, alhoewel slegs die boonste een tot twee koppe gewoonlik die oes sal produseer.

Die plante is baie vatbaar vir swamsiektes en dit kan hul kapasiteit vir fotosintese verminder. Dit kan die opbrengspotensiaal, staanvermoë en graangehalte negatief beïnvloed. Die V5-stadium is ’n goeie tyd om met swamdoderbespuitings te begin, ten einde voorkomend op te tree indien blaarsiektes gewoonlik ’n probleem is in die betrokke produksiegebied.

Swamdoders verleen gewoonlik beskerming vir 14 tot 21 dae na bespuiting. ‘n Gewasbeskermingskundige kan die regte kombinasie swamdoders vir die beste resultate aanbeveel. Goeie siektebeheer is ook voordelig vir staanvermoë, graangehalte en beter opbrengste. ’n Tweede swamdoderbespuiting sal nodig wees op die VT-stadium indien die swamdruk baie hoog is en die klimaat dit aanhelp.

Mielieblaarsiektes

Die blare naaste aan die primêre kop is verantwoordelik vir die meeste energie geproduseer uit fotosintese. Dit is dus belangrik om daardie blare teen blaarsiektes te beskerm. Wanneer die plant onder stres verkeer maak dit die gewas meer vatbaar vir blaarsiektes en stamvrot.

Mielieblaarsiektes wat redelik algemeen in Suid-Afrika voorkom is:

  • Swamsiektes: Noordelike mielieblaarskroei, grysblaarvlek, bruinroes, oogvlek, Phaeosphaeria-blaarvlek.
  • Bakteriese siektes: Bakteriese blaarstreep.
  • Virussiekte: Mieliestreepsiekte.

Saam met grysblaarvlek is Noordelike blaarskoei van die algemeenste en mees wydverspreide mielieblaarsiektes in Suid-Afrika.

Figuur 3: Mielieblaarsiektes in Suid-Afrika.
Foto A: Noordelike mielieblaarskroei (Exserohilum turcicum)

Blaarsiektesimptome kom normaalweg vanaf baardverskyning voor en word gekenmerk deur lang ovaalvormige, grysgroen letsels wat later verbruin. Infeksie vorm eerste op die onderste blare en beweeg opwaarts deur die plant. Oesverliese van 70% is al aangeteken. Die reël is ’n 2 tot 8% oesverlies vir elke 10% toename in siektegraad.

Hierdie siekte verkies ’n hoë humiditeit (nat blare) met ’n matige klimaat van tussen 16-25°C. Die patogeen oorleef hoofsaaklik op oesreste van die vorige seisoen. Grond met ‘n hoë oesreste-inhoud en herhaalde mielie-aanplantings verhoog die risiko vir die patogeen se oorlewing.

Onder besproeiing word aanbeveel dat swamdoders gespuit word op V6 of wanneer daar gemiddeld een letsel per plant is of wanneer letsels op blare onder die kop waargeneem word. Verdraagsame kultivars is beskikbaar. Wisselbou is baie belangrik en deur oesreste te begrawe, kan die primêre inokulumvlakke verlaag. Spore kan ook van besmette lande inwaai.

Foto B: Bruinroes (Puccinia sorghi)

Bruinroespuisies kom op enige van die bogrondse plantdele voor, meestal op en onder blare. Puisies is rond tot langwerpig, goud tot kaneelbruin in kleur en bevat spore. Die spore sal jou vingers bruin verkleur indien daaraan geraak sou word. Tydens veroudering word hulle bruin tot swart. Met hoë besmettings vergeel die besmette blare en sterf af. In ’n vroeë ontwikkelingstadium bars die puisies oop en vertoon poeieragtig.

Hoë humiditeit (95%) en koel temperature (tussen 10 en 25°C) bevoordeel hierdie siekte. Daar is al blaarverliese van 60% en opbrengsverliese van 45% gerapporteer.Verdraagsame kultivars is beskikbaar. Normaalweg is opbrengsverliese laag en moet daar ’n erge infeksie wees om ’n bespuiting te regverdig. Bruinroes word gewoonlik beheer indien ’n produk vir noordelike blaarskroei of grysblaarvlek toegedien word.

Foto C: Grysblaarvlek (GBV) (Cercospora zeina)

Letsels word eerste op die onderste blare waargeneem. Letsels begin as klein, 1mm-vlekke omring deur ’n geel ring. Soos die siekte vorder, word die letsels ligbruin en later grys. Volwasse letsels is smal, verlengde, reghoekige vlekke wat deur die blaarnerwe beperk word. Die letsels mag saamsmelt wat tot afsterwing van die blare lei.

Onder gunstige omgewingstoestande (matige tot hoë temperature en humiditeit van >95%) is GBV een van die mees verwoestende blaarsiektes in mielies. Die swam oorwinter op mieliereste en mielies is die enigste gasheer van GBV. Mieliereste as deklaag verhoog die risiko vir swamoorlewing. GBV kan van vyf weke (V6) na planttyd al voorkom. Blaarinfeksie bokant die kop kan tot 50% oesverliese ly. Die vinnige lewensiklus van ongeveer twee weke lei maklik tot sekondêre infeksies.

Verdraagsame kultivars is beskikbaar. Daar is doeltreffende swamdoders beskikbaar vir die beheer van grysblaarvlek. Dit gebeur dikwels dat ’n tweede bespuiting toegedien moet word, aangesien die swamsiekte baie aggressief is. Die eerste bespuitings kan op groeistadium V5 of V6 gedoen word. ’n Tweede bespuiting kan gedoen word op die VT-groeistadium.

Foto D: Bakteriese blaarstreep (Xanthomonas campestris pv. zeae)

Die letsels op blare is smal, donkergroen, olierige strepe en word deur are in die blaar beperk. Later word die letsels nekrotiese bruin tot grys kolle en strepe met deurskynende geel rante. Bakteriese uitskeidings mag op die blare voorkom. Dit kom veral in warm, droë gebiede voor. Wisselbou is belangrik die oesreste moet verwyder word.

Daar is nog geen swamdoders om die siekte te beheer nie.

Figuur 4: Mielieblaarsiektes in Suid-Afrika.
Foto E: Oogvlek (Aureobasidium zeae; vroeër bekend as Kabatiella zeae)

Die letsels behels klein, deursigtige watergeweekte letsels wat rond tot ovaalvormig is met geel stralekranse. Hierdie letsels mag saamsmelt om groot dooie gedeeltes op blare te vorm. Ouer letsels het donkerbruin tot pers stralekranse. Spore word binne-in die oogvlek se letsels geproduseer.

Oogvlek verkies koel, nat weer en dou. Nat blare is ’n vereiste vir infeksie. Die swam oorleef in mieliereste. Geenbewerking of monokultuurproduksie verhoog die risiko tot die siekte. Wisselbou en die inploeg van reste help met die vermindering van die siekte.

Foto F: Phaeosphaeria-blaarvlek (Phaeosphaeria maydis)

Klein liggroen, geel tot wit kolle wat gespat op die blare voorkom. Die kolle word later groter en versmelt om groter letsels te vorm. Die kolle raak later nekroties met donkerbruin buiterande. Kolle is rond tot ovaal (3–20mm deursnee). Dit lyk ook baie soos paraquat (Gramoxone) onkruiddoderskade.

Die patogeen verkies hoë reënval en gematigde temperature, met humiditeit bo 70%. Die siekte het normaalweg nie ’n groot impak op opbrengs nie en kan beheer word met swamdoders. ’n Voorkomende bespuiting op die VT-groeistadium beperk soms die voorkoms van Phaeosphaeria.

Opsommend

Aangesien ons nie presies weet wat die seisoen vir ons inhou wat die klimaat betref nie, is dit sinvol om nou saam met jou gewasbeskermingskundige te werk en voorkomend met ’n goeie swamdoderprogram op vroeë gewasouderdom te begin spuit. Wissel die produkte af sodat daar nie weerstand opgebou kan word nie en doen gereeld inspeksies.

‘n Paar bestuursriglyne om die seisoen in gedagte te hou:

  • Plant weerstandbiedende mieliebasters. Kies ‘n mieliepakket en moenie net konsentreer op een vatbare baster met ‘n hoë opbrengspotensiaal nie.
  • Korrekte bewerkings- en wisselboupraktyke kan siektedruk verlaag.
  • Gebruik geregistreerde swamdoders in ‘n goeie swamdoderspuitprogram. Dit kan die meeste van die swamsiektes op blare doeltreffend beheer. Dit is belangrik om te onthou dat die primêre doel van swamdoderbespuitings siektebeheer is. Dit beskerm genetiese opbrengspotensiaal. Verbeterde staanvermoë is sekondêr en dus ‘n bonus.
  • Bewaringsbewerkingspraktyke met al die voordele wat dit bied, bevorder ongelukkig die oorlewing van blaarsiektes soos grysblaarvlek en noordelike mielieblaarskroei aangesien die swamme hoofsaaklik in mielieplantreste oorleef. Siektebeheer in so ‘n stelsel is krities om die werklike voordele daarvan te kan geniet.
  • Betrek ‘n gewasbeskermingskundige om die beste swambeheerstrategie vir ’n boerdery op te stel.

Vir meer inligting en verwysings, kontak die skrywer by abrie@laeveld.co.za of sel 082 809 5428 of besoek www.laeveld.co.za – Abrie Venter, Landboukundige: Laeveld Agrochem