Die jongste nuus vanuit die kantore van Sybokhaar Suid-Afrika (SSA) is die bekendstelling van die verantwoordelike sybokhaarstandaard (Responsible Mohair Standard), wat ontwikkel is om volhoubare en etiese praktyke in die sybokhaarbedryf te bevorder.

Read it in English

“Suid-Afrika is die wêreldleier in sybokhaarproduksie en dit was ’n lang pad om hierdie punt te bereik,” sê Lindsay Humphreys, hoofbestuurder en hoof van volhoubaarheid by SSA.

“Dit is met groot opgewondenheid dat ons die bekendstelling van die verantwoordelike sybokhaarstandaard aankondig. Die standaard is deur die niewinsgewende wêreldorganisasie, Textile Exchange, ontwikkel.”

Rol van Textile Exchange

Textile Exchange, waarvan die lede verskeie handelsmerke en kleinhandelaars insluit, spesialiseer in die ontwikkeling van kodes vir beste praktyke in die bedryf. Die organisasie het nou saam met die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf gewerk om ’n standaard op te stel wat die wêreldwye sybokhaar-waardeketting kan help om verantwoordelike verkryging van ’n bedryf wat volhoubare en etiese produksiepraktyke nastreef, te verseker.

Riglyne vir die volhoubare produksie van sybokhaar is in 2009 vir die eerste keer in die bedryf geloods en suksesvol aangeneem, met 97% van die Suid-Afrikaanse sybokhaarboere wat daaraan voldoen. Hieruit was die ontwikkeling van ’n wêreldwye standaard, in samewerking met die mark, ’n natuurlike uitvloeisel om te verseker dat boerderypraktyke aan die progressiewe volhoubaarheidsdoelwitte van internasionale handelsmerke en kleinhandelaars voldoen.

In ’n verklaring wat deur Textile Exchange se Amerikaanse kantore vrygestel is, word daar genoem dat die verantwoordelike sybokhaarstandaard die model van die verantwoordelike wolstandaard (Responsible Wool Standard) volg, een van die wêreld se mees algemene standaarde vir wolproduksie.

Naspeurbaarheid van sybokhaar

“Die nuut-vrygestelde verantwoordelike sybokhaarstandaard ondersoek en identifiseer sybokhaar wat geproduseer word in boerderystelsels wat diere en die omgewing respekteer. Die standaard pas ’n streng versekeringstelsel toe waardeur gereelde oudits van die plase uitgevoer word asook die naspeuring van materiaal, vanaf oorsprong tot by die finale produk.

“Die standaard is onder meer ontwerp om te verseker dat uitkomste ten opsigte van dierewelsyn gelewer word; dat die bokke gesond is en goed behandel en versorg word,” het Hanna Denes, senior bestuurder van standaarde by Textile Exchange, gesê.

Vooruitgang en volhoubaarheid

Sy het bygevoeg dat dit bemoedigend is om te sien hoe die passie vir sybokhaarproduksie gedeel word deur elkeen wat betrokke is in die bedryf – van die boere wat na die diere omsien, tot die meulens wat die vesel verwerk, die handelsmerke wat sybokhaarprodukte vervaardig, en die verenigings wat met almal betrokke in die bedryf skakel om oplossings te ontwikkel.

Lindsay het gesê dat die sybokhaarvennootskap met Textile Exchange, die ondersteuning van internasionale handelsmerke en kleinhandelaars en die progressiewe benadering van die Suid-Afrikaanse sybokhaarbedryf die groei en bevordering van die sektor op die lang termyn sal verseker.

“Aangesien volhoubaarheid ons kernfokus is, glo ons dat gedeelde kennis en ’n sterk verbintenis tot voortdurende verbetering belangrike faktore is vir die toekomstige sukses van die bedryf. Ons beskou volhoubaarheid as ’n reis waarop ons sal voortgaan om te groei en te verbeter,” het sy gesê. – Riaan Marais, SSA

Vir meer inligting, kontak Riaan Marais van SSA by 041 581 1681 of riaan@mohair.co.za.