Die week se sybokhaarveiling by die Sybokbeurs in Port Elizabeth het verskeie hoogtepunte opgelewer, ten spyte daarvan dat produsente onder ’n uitmergelende droogte in die sentrale dele van die Oos-Kaap en dele van die Wes-Kaap gebuk gaan.

Gedurende die veiling is die rekordboeke op byna alle tipes sybokhaar herskryf, behalwe vir somerkleinbokkiehaar waarvoor produsente nog steeds baie goeie pryse gekry het.

sybokhaar
Van links is Soretha Wagener, Danelle Wagener, Leon Wagener, Willem Wagener en Willem Wagener snr.

Die uitblinkers was Weeber Truter van Oudtshoorn, wat ’n wêreldrekordprys vir jongbokke teen R712,10/kg vir ’n 23,9 mikron baal opgestel het, en Willem Wagener van Willowmore wat die wêreldrekordprys vir grootbokhaar teen R570,10/kg vir ’n 27,9 mikron baal herskryf het. Willem se algehele skeersel is ook teen ’n rekordgemiddeld van R535,96/kg verkoop.

Pierre van der Vyver, algemene bestuurder by The House of Fibre, berig dat die veiling die hoogste gemiddeld tot op hede behaal het, met ’n gemiddelde markaanwyser van R364,32/kg.

Die internasionale Sybokbeurs se veilings-geskiedenis strek al 72 jaar vanaf 1949. Die aanvraag tydens die betrokke veiling was gedryf vanaf die geledere van Europa, met Italië as die dominante aankoper, en die Ooste waar China die dominante koper was. – Carin Venter, AgriOrbit