Die 2018-graduandi van die Syngenta Graanakademie.

Nog ’n groep belowende jong landbouleiers is onlangs deur die Syngenta Graanakademie opgelei. Die akademie dien as ’n leierskapontwikkelingsprogram vir jong kommersiële boere. Dit word in samewerking met die Universiteit van die Vrystaat se Besigheidskool aangebied en deur Graan SA ondersteun.

’n Belangrike doel van die akademie is om deelnemers te leer hoe om uitdagings in die sosio-ekonomiese omgewing van verskeie kante te benader en op te los. Deelnemers moes ook hulle voorstelle vir die oplos van verskeie probleme aan die einde van die opleiding voorstel. “Ek is baie trots op die jongmense wat hier deelgeneem het, wat almal graag ’n verskil in Suid-Afrikaanse landbou wil maak,” was Jannie de Villiers, hoof uitvoerende beampte van Graan SA, se kommentaar.

Stefan le Roux, ’n amandelboer van die Wes-Kaap, was een van die deelnemers. “Dit was die eerste keer dat ek hierby betrokke was en dit was vir my ’n baie sinvolle ervaring. Die Syngenta Graanakademie is een van die voorste platforms in die land vir die persoonlike ontwikkeling van boere. As jy as ’n individu ’n verskil wil sien in jou onderneming, is sulke persoonlike ontwikkeling baie belangrik.”

Volgens Le Roux het die program hom veral baie deursettingsvermoë geleer. “Een van die belangrikste dinge wat ek ervaar het, is die etiek van leierskap. Ek glo leierskap-eienskappe kan aangeleer word en dat jy nie noodwendig daarmee gebore word nie.” – Mario van den Heever, AgriOrbit