Die taakspan wat deur die burgerregte-organisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand se Josef Silo’s-projek gestig is, het meer as tien ton sitrusprodukte by 20 tehuise in die Pretoria-omgewing afgelewer, ten spyte van pogings deur die regering om die verspreiding van voedsel te sentraliseer. Solidariteit Helpende Hand het ook ’n verdere tien ton sitrus direk na Benoni gestuur vir verspreiding.

Hierdie inisiatief behels dat voedsel en noodsaaklike items aan behoeftige individue, gesinne en instansies soos kinderhuise, tehuise vir bejaardes en klinieke in gemeenskappe regoor die land versprei gaan word, veral in die huidige moeilike omstandighede waarin verskeie gemeenskappe hulself bevind.

AfriForum is verantwoordelik daarvoor om in samewerking met Saai die verspreiding op grondvlak vanuit die Josef Silo’s en ander instansies se afsetpunte te behartig sodat die items – wat  byvoorbeeld deur Solidariteit Helpende Hand verpak en voorberei word – so gou as moontlik by behoeftiges uitkom.

Familieboere kan voedsel en ander skenkings by die naaste Helpende Hand Silo’s of ander afsetpunte aflaai en AfriForum sal verantwoordelik wees vir die mikroverspreiding van die voedsel en ander items aan behoeftiges.

Samelewing het ’n rol te speel in noodverligting

Volgens Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sal die burgerregte-organisasie voortgaan met die verspreiding van voedsel aan mense in die gemeenskap wat dit nodig het.

“Volgens AfriForum is daar geen regsbasis vir pogings deur die owerheid om die verspreiding van voedsel onder regeringsbeheer te sentraliseer nie. Die burgerlike samelewing het ’n rol om te speel in hierdie noodsituasie en ons sal voortgaan met die uitvoering van hierdie rol, ongeag mense wat die verspreiding van voedsel wederregtelik wil sentraliseer,” sê hy.

Wetlikheid van die regulering en sentralisering van skenkings betwis

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, voeg by dat Saai se posisie duidelik is ten opsigte van die regulering van skenkings. “Ons gaan nie toelaat dat die skenkings wat boere aan ons toevertrou om aan die mees kwesbare mense te versprei, deur die regering gereguleer word nie. Daarom is Saai deel van hierdie inisiatief, in samewerking met AfriForum en Solidariteit Helpende Hand.”

Francois Rossouw van Saai laai bokse af.

“Solidariteit Helpende Hand het reeds ons regspan opdrag gegee om die wetlikheid van hierdie regulasies te ondersoek. Ons hoor uit alle oorde dat ons mense regtig swaar trek gedurende die staat van inperking – daar is baie onsekerheid en mense verloor hoop. Mense is onseker op politieke, ekonomiese en maatskaplike vlak. Dit is nodig om in hierdie tye van nood mekaar moed in te praat en opreg dankbaarheid te toon teenoor skenkers, vrywilligers en vir alle donasies,” sê René Roux, adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand.

Saamspan bring hoop

“Die skenking vandag wys net weer dat ons saam sterker is en dat mense steeds in staat is om hoop te skep in tye van onsekerheid. Helpende Hand is elke dag opnuut dankbaar vir die samewerking en verspreidingsnetwerk tussen Helpende Hand, AfriForum, Saai en Solidariteit. Ons leuse ‘Met hart, in krag, tot hoop’, wat ons drie jaar voor COVID-19 geskep het, dra nou soveel meer betekenis,” voeg sy by.

Die uitdeel van sitrusprodukte skakel ook in by AfriForum se immuniteit-inisiatief om gesondheid binne gemeenskappe te bevorder. Mense kan ook skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun.

Besoek www.helpendehand.co.za en volg die skakel vir maatskaplike hulp om aansoek te doen vir hulp. – Persverklaring, AfriForum