Ricky de Klerk, Wiehan Jordaan, Robert de Klerk en Werner Rautenbach is van Cradock en almal by versekering betrokke.

Tam Safari’s se sesde wildlewe-fondsinsamelingsgala ten bate van die Amy Bell Charity Trust is op 4 Oktober, by Custom Motors in Cradock gehou. Feitlik almal wat dié jaarlikse liefdadigheidsgeleentheid bygewoon het, is iewers in die wildbedryf betrokke. Vanjaar se tema was die Wilde Weste en die nasionale sewesrugbyspan se afrigter, Neil Powell, was die gasspreker.

’n Gedugte span

Irvin Tam is die meesterbrein agter die Amy Bell CharitableTrust, waarvan die leuse ‘Opheffing deur onderrig’ is. Hy word daarin ondersteun deur sy twee seuns, Peter en Stephen Tam.

’n Motor is tydens die gala aan Bongani Matika oorhandig. Dié 24-jarige het danksy die Amy Bell CharitableTrust ’n graad in argitektoniese tegnologie aan die Nelson Mandela Universiteit behaal. Hy het sy dank teenoor Irvin uitgespreek vir al sy ondersteuning en die geloof wat hy in hom gehad het.

Ander liefdadigheidsprojekte

Die liefdadigheidstigting sluit verskeie projekte vir kinders in. Vanjaar se gala is voorafgegaan deur die volgende aktiwiteite, wat gedurende die dag plaasgevind het:

  • Opening van JA Ncaca Public Primary School.
  • Besoeke aan die Amy Bell Africa School (wat uit die Amy Bell Centre for Children ontstaan het) en Lidie Moolman Special Needs School.
  • Opening van die Amy Bell-meisieskoshuis.
  • Opening van die Amy Bell-speelgrond.
Bev Muller en Nicole Nortjé het die gala vanuit ’n produsente-oogpunt ondersteun.

Tam Safari’s is in 2018 tydens Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se galadinee as die Oos-Kaapse beroepsjagter van die jaar aangewys, asook as wildboer van die jaar. Hulle is ook op die nasionale WRSA-galadinee in Pretoria as die nasionale biodiversiteits- en sosiale ontwikkelingswildplaas van die jaar aangewys. – Carin Venter, Plaas Media

Vir meer inligting, skakel Irvin Tam by 082 652 6610 of stuur ’n e-pos aan info@tamsafaris.com.