Leonie Yendall boer in vennootskap saam met haar man en het onlangs ’n staproete voltooi wat ook deur plase beweeg. Na aanleiding hiervan het sy ’n paar gedagtes oor Suid-Afrikaanse landbou gedeel.

Indlela yoBuntu is ’n Afrika-pelgrimstog van hoop wat ’n roete vanaf Grahamstad na Kaapstad volg. Dit word in vier dele gestap en ek het die voorreg gehad om die eerste been vanaf Grahamstad na Patensie te voltooi. Hierdie deel word die “Crossing Over” genoem, want die Zuurberg en die Hanekamberge moet oorgesteek word.

Indlela yoBuntu maak gebruik van roetes op distrikspaaie, 4×4-roetes en voetpaadjies oor private plase. Ons oornagplekke het gewissel van ’n skool tot ’n kerk en heerlike blyplek by boere. Ons was tien mense in die groep, ingesluit ons bagasievoertuig-drywer en roeteleier. Ons het gemiddeld sowat 23km per dag gestap en die totale afstand wat ons voltooi het, was 250km.

Passie vir boerdery

Wat motiveer ’n mens om so iets te doen? Ek is 55 jaar oud, boer in vennootskap met my man en my hart is naby aan die natuur. My passie in die lewe is boerdery en avontuur. Ek het hierdie staproete gedoen omdat dit deur plaasgebiede beweeg en ook omdat dit my ’n geleentheid sou gee om meer van my omgewing te sien.

Boerdery in ons land is tans onder groot druk. Die politieke atmosfeer is moeilik en die voortslepende droogte in die gebied waardeur ons gestap het, het ’n groot impak op die volhoubaarheid van boerdery.

Dit was vir my baie hartseer om van plaas na plaas te stap waar niemand woon nie en waar tans min of geen vee loop nie. Die veld was dor en kaal en die bietjie wild wat ons gesien het, was vermaer en oral het wit bene van dooie wild en vee in die son lê en bleik.

’n Moordende winter

Die boere wat wel nog vasklou, het wanhoop in hulle oë en met die somerreën wat nog baie ver is, gaan hierdie ’n moordende winter wees. Droogtehulp kom sover meestal vanaf private inisiatiewe, en die oordonderende stilte vanaf die regering se kant is kommerwekkend.

Hoe lank kan ons boere in hierdie droogtegeteisterde gebiede nog uithou? Om te boer, is amper soos visvang. Jy bly maar jou lyn ingooi en hoop jy vang ’n vis voordat die lyn op jou katrol op is.

Mense sal maklik sê: “Verkoop jou diere voordat hulle te maer is.” Jy weet egter dat dit nie altyd moontlik is nie. Om na die droogte van voor af te begin, is in die meeste gevalle geensins moontlik nie. Jou “katrol se vislyn” gaan klaar wees en soos ons almal weet, sonder geld is dit nie sommer net vir oor begin nie.

Sitrusgebied van Kirkwood

Ons staproete het ook deur die sitrusgebied van Kirkwood beweeg. Hier is water en die megaboere roer dat die stof staan. Daar is sitrusbome op elke beskikbare stukkie grond en presisieboerdery is algemeen.

Ons moes egter inderhaas die gebied verlaat, want oproer het uitgebreek en infrastruktuur en duur trekkers en implemente is aan die brand gesteek. Klaarblyklik het dit oor loongeskille gegaan, en duidelik is brand en verwoesting die nuwe manier van onderhandeling.

Dit is uiters kommerwekkend. Hoe gaan ons land vorentoe en hoe kan ons suksesvol boer as mense miljoene rande se skade aanrig net oor hulle R20 meer wil hê? Dié tipe gedrag maak glad nie sin nie. Hoe gaan boere en mense wat groot kapitaal in die landbou insit, hul vertroue behou?

Die pad vorentoe

Die boerdery-pad vorentoe lyk rof, maar wat my die meeste opgeval het, is dat al die boere waar ons oorgebly het nog steeds kans sien vir die pad vorentoe. Ten spyte van al die negatiwiteit is hierdie boere nog vol planne vir die dag van môre.

Nog ’n interessante aspek van ons staptoer was die persepsies wat die stadsmense in ons groep van boerdery het. Daar was nie ’n gebrek aan respek nie, maar insae in hoe die kos van die boer na die bord beweeg, was vaag. Ek het in verskeie gesprekke met ons groeplede agtergekom dat hulle nie regtig die proses van kosproduksie en probleme op die plaas begryp nie.

Ons groep bekyk boere nog meestal deur ’n romantiese bril, en die prentjie van ’n mens se eie melkkoei en koffie op die stoep blyk nog steeds die norm te wees. Die feit dat ons deur gebiede beweeg het waar met miljarde rande gewoeker word, het min insae opgelewer. Boerdery word nie as ’n besigheid gesien nie en mense het ongemaklik geword as ons oor die geldelike aspek van boerdery begin gesels het.

Die moderne  tendens van “lewenstyl-plase” en die oorskakeling van veeplase na wildplase help ook nie om hierdie uitkyk te verander nie. Die feit dat lewenstyl-plase en wildplase deur groot bedrae kapitaal van “buite” aangedryf word, was heeltemal verlore in ons gesprek.

Boere moet hulself bemark

Dit is tyd dat ons as boere onsself beter bemark. Ons is besigheidsmense wat ten spyte van moeilike omstandighede kos op die stedeling se bord sit. Ons moet ’n manier vind om vanaf die koffiestoep na die besigheidsveld te beweeg.

Ons moet wegdoen met die persepsies wat advertensies soos King Price Insurance se dom boer met die trekker skep. Ons moet waak teen die stereotipes wat deur programme soos Boer soek ’n Vrou uitgebeeld word. Ons moet programme soos Megaboere aanmoedig. Dit is tyd dat boere kennis neem van hoe stadsmense ons sien en hoe stadsmense die skakel vanaf boer tot bord sien. Dit is tyd om ons eie beeld as boere te poets.

Ek gaan later vanjaar ’n solo-fietstoer vanaf die Upington-gebied terug na my huis by Grahamstad doen. Ek sien baie daarna uit om weer met ons boere te gesels en weer hul gasvryheid te beleef.

Laat ons hoop vir mildelike reën in elke uithoek van ons land. – Leonie Yendall, Grahamstad

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here