Grondeise is deel van Suid-Afrika se grondhervormingsprogram, wat in artikel 25 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996, oftewel die Grondwet) gemagtig word. Die primêre doel van grondeise is om herstel of vergoeding te bewerkstellig vir persone wat enersyds van grondverwante regte ontneem is op die basis van rasgebaseerde wetgewing en praktyke. Andersyds is dit daarop gerig om sekerheid van verblyfreg te bewerkstellig, of deur ’n program van herverdeling van grond ’n balans te probeer bring in die rassesamestelling van persone wat grond besit en/of toegang tot grond het.

Toepaslike wetgewing

Die vernaamste wetgewing wat grondeise veroorloof is die Wet op die Herstel van Grondregte, 1994 (Wet 22 van 1994, oftewel die Restitusiewet) en die Wet op Grondhervorming (Huurarbeiders), 1996 (Wet 3 van 1996, oftewel die Huurarbeiderswet).

Eise ingevolge die Restitusiewet moes voor of op 31 Desember 1998 op ’n voorgeskrewe wyse by die Kommissie vir die Herstel van Grondregte ingedien gewees het. Eise ingevolge die Huurarbeiderswet moes voor of op 31 Maart 2001 op ’n voorgeskrewe wyse by die Department van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming ingedien gewees het.

Teen staat of grondeienaar?

’n Vraag wat heel dikwels in gesprekke oor grondhervorming na vore kom, is wie in werklikheid die party is teen wie ’n grondeis ingestel word? Die persepsie en waarskynlik die eerste reaksie op hierdie vraag, is dat dit ’n eis is teen die bestaande eienaar van die grond wat geëis word. In die praktyk word dit ook só deur baie grondeienaars ervaar.

Die werklike toedrag van sake is dat grondeise binne die raamwerk van bestaande wetgewing teen die staat ingedien word. Uit hoofde van die feit dat die staat die respondent op grondeise is, dra die staat die plig om die eise, na gelang van die omvang en geldigheid daarvan, tegemoet te kom of te skik. Hierdie plig wat op die staat rus, is ’n grondwetlike en statutêre plig.

Die nakoming van die staat se bogemelde verpligting hou alleenlik gevolge vir privaatgrond en private eienaars in waar die staat gebruik moet maak van spesifieke privaatgrond om sy verpligting tot die vergoeding of skik van ’n eis, na te kom. Dit is ook van toepassing waar die beperkte regte van huurarbeiders op privaatgrond in voltitelregte omskep word deurdat die grond deur die huurarbeiders bewoon, bewerk en bewei was.

Vergoeding of onteiening?

In die gevalle waar privaatgrond by die skikking van grondeise in gedrang gebring word, moet die staat die grond van die bestaande private eienaar bekom en plaas die Grondwet ’n verpligting op die staat om die eienaar op ’n regverdige en billike wyse te vergoed.

Die staat se verpligting om regverdige en billike vergoeding vir privaatgrond te betaal, veroorsaak dat die staat die grond, vir doeleindes van die skikking van ’n eis, by wyse van ’n onderhandelde koopooreenkoms of, alternatiewelik, ’n meer gedwonge proses wat as onteiening bekendstaan, bekom. Dit is ook híér waar die kwessie rondom die beoogde wysiging van die Grondwet, om in bepaalde omstandighede onteiening sonder vergoeding te veroorloof, tans so omstrede is.

Strikke in onderhandelinge

In die geval van eise ingevolge die Restitusiewet het die staat, buiten die verkryging van privaatgrond om eise te skik, ook die reg om alternatiewe staatsgrond en/of kontantvergoeding te bied. Daar is verskeie hofsuitsprake waar die howe klarigheid gegee het oor die omstandighede waar die staat, eerder as om privaatgrond te bekom, eise behoort te skik met die beskikbaarstelling van alternatiewe staatsgrond of kontantvergoeding.

Een van die vernaamste redes waarom privaatgrond nie as ’n gepaste metode van skikking beskou sal word nie, is die onderliggende beginsel dat eisers nie méér voordeel uit die skikking van ’n eis mag ontvang as dit wat werklik die verlies was, toe regte histories van hulle ontneem was nie.

Vir privaatgrondeienaars is dit belangrik om in gevalle waar hulle grond op bogemelde wyse in gedrang mag kom, uiters versigtig te wees in die voer van enige skikkingsonderhandelinge. Daar is tans verskeie wetgewings wat ’n invloed het op die wyse waarop die staat te werk behoort te gaan met die hantering van sulke sake.

In die meeste gevalle sal dit wys wees om te alle tye tydens onderhandelinge met die staat, deur ’n regsverteenwoordiger vergesel te word. Dit moet verkieslik iemand wees wat oor ’n goeie basiese kennis beskik van die tersaaklike wetgewing en die regsomgewing waarin hierdie eise hanteer word. – HJ Moolman, Moolman & Pienaar Ingelyf

Vir meer inligting, kontak HJ Moolman by 018 297 8799, 018 297 0397 of hj@mmlaw.co.za.