Tegnologie: Gryp dit aan of gaan huis toe

303
Die Le Roux-familie van Coligny in Noordwes se Xourel Limousins is 2019 se Breedplan/Landbouweekblad Suid-Afrikaanse teler van die jaar. Van links na regs is André van der Merwe, naaswenner, Derick le Roux, wenner, Pim Bijtel, internasionale spreker, en Riaan Theron, wat derde was.

Veeboere wat nie aanhou innoveer en nuwe tegnologie aangryp wat hul doeltreffendheid kan verhoog nie, gaan agterbly. Dit was die sentrale boodskap by die elfde Aldam-vleisbeesskool, wat laat verlede jaar deur die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) naby Ventersburg aangebied is. Sowat 170 boere het geluister na sewe internasionale en 16 plaaslike sprekers wat oor presisieboerdery vir veeboere gepraat het.

Die boodskap was deurgaans dat die uitdagings van veranderende markte, stygende insetkoste en bestuur wat al hoër eise aan boere stel, geleenthede kan skep om meer doeltreffend te boer. Nuwe tegnologie, soos elektroniese oorplaatjies en hommeltuie met moderne toerusting wat oor die plaas vlieg, kan hiermee help.

Opwindende tegnologie

Boere het gehoor van die nuwe Ceres-oorplaatjie, wat voortdurend inligting oor ’n verskeidenheid aksies van die vee na die boer se rekenaar stuur. Die plaatjie word in die Ooste vervaardig en sal na verwagting heel bekostigbaar wees wanneer dit later vanjaar beskikbaar gemaak word. Dit word tans wêreldwyd (ook in Suid-Afrika) getoets.

Die Allflex SenseHub is ’n elektroniese oorplaatjie vir groter en meer gevorderde boerderye, wat swaar leun op kunsmatige inseminasie (KI). Dié plaatjie stuur feitlik elke minuut inligting uit en laat weet die boer in sy studeerkamer wanneer dit die mees geskikte tyd is om spesifieke koeie te insemineer. Die plaatjie is duur, maar maak dit skynbaar maklik haalbaar vir ’n boer om sy dragtigheidsyfer met KI met 10 tot 15% te verhoog.

Die sprekers het gesê dat Suid-Afrikaanse veeboere beslis nismarkte moet benut om hul posisie van prysnemers na prysmakers te verander.

Ekonomiese ommekeer

Dr Roelof Botha, ’n bekende Suid-Afrikaanse ekonoom, het gesê dat die eerste groen sprietjies van ekonomiese groei vir die land begin uitkom het. Hy meen dat die regering hard daaraan werk om ’n omgewing te skep waar mense met vertroue in Suid-Afrika kan belê.

“Binne ’n maand ná president Cyril Ramaphosa se bemoedigende Staatsrede het verskeie aanwysers aangedui dat daar ’n welkome ommekeer in die land se ekonomie is. In die eerste ses maande van die jaar is 13% meer minerale verkoop. Altesaam 12% meer toeriste uit die buiteland het Suid-Afrika in April verlede jaar besoek. Daar was ook duidelike tekens van herstel in die vervaardigings- en boubedryf. Vaste beleggings het in die tweede kwartaal van die jaar uitgeblink.

“Binne vier maande na die algemene verkiesing is ’n nuwe ekonomiese groeiplan opgestel waarin knelpunte aangespreek word. Die plan dui aan dat landbou een van die sektore is wat uitgesonder is vir beleidsaanpassings om die land se groeipotensiaal ’n hupstoot te gee,” sê hy.

Internasionale projekte

Vier van die internasionale sprekers het oorsigte gegee oor veebedrywe elders in die wêreld. In Australië word nou navorsing gedoen om ’n robot te ontwikkel wat skape kan skeer.

Altesaam 20 navorsingsprojekte is aan die gang oor die gebruik van hommeltuie. Vee kan al baie akkuraat met toerusting wat aan hommeltuie geheg is, getel word. Dit beteken die boer kan elke dag sy vee tel sonder om uit sy kantoor te gaan. Grasspesies en ongewenste indringerplante in weidings word op dieselfde manier geïdentifiseer.

In Brittanje geniet hommeltuie ook baie aandag onder navorsers. Hulle kan al die drakrag van weidings elke dag of so dikwels as nodig uit die lug uit bepaal. Ander aanwendings van hommeltuie in samewerking met satelliete word deurentyd ondersoek.

Prof Frikkie Neser van die Universiteit van die Vrystaat is deur die LRF vereer vir sy jarelange diens aan die vleisbeesbedryf. Van links is dr Michael Bradfield van Breedplan/LRF, prof Neser en sy vrou, Trudie.

Genetiese vordering

In Amerika is die Angus-beesras, wat weens sy uitstaande karkaseienskappe en vleisgehalte bykans agt keer groter is as al die ander beesrasse saam, in samewerking met universiteite aan die voorpunt van veenavorsing. Vordering word gemaak met nuwe tegnologie wat tot onlangs as wensdenkery beskryf sou word.

Genetiese merkers is ontwikkel om diere te identifiseer wat beter in uiterste warm gebiede sal presteer. Deur die bloeddruk van bulle te vergelyk, kan bulle en hul nageslag ook uitgewys word wat die beste sal presteer in gebiede wat uitsonderlik hoog bo seevlak lê.

Dr Pieter Vervoort van die Nasionale Dieregesondheidsforum het gesê die bek-en-klouseeruitbreking in 2012 het die bedryf drie jaar se wins wat met vee gemaak word, gekos. “As net 1% van die bruto inkomste uit veeboerdery ter ondersteuning van die bedryf gebruik word, beloop dit R1,27 miljard. Die koste aan gebrekkige siektebeheer en die feit dat daar nie ’n naspeurbaarheidstelsel is nie, laat die bedryf bloei.”

Benutting van voer

Volgens prof Gordon Carstens van Texas A&M Universiteit word wêreldwyd baie aandag aan doeltreffende voerbenutting gegee om presisieveeboerdery te bevorder. “Boere kan geslaagd diere selekteer wat minder vreet en meer groei. Navorsing wys dat sulke diere 17 tot 24% minder droëmateriaal inneem vir dieselfde groei as diere wat voer swakker benut.

“Waarneming het gewys dat sulke diere die krip minder besoek, korter tye vreet en nie so intens vreet nie. Dié eienskappe is herhaalbaar, matig oorerflik en positief gekorreleer met residuele voerinname.

“Genomiese toetse kan nou ook ingespan word om by ’n kalf se geboorte te bepaal of sy groei- en voerbenuttingspotensiaal goed genoeg is om hom later in sy lewe in ’n voerkraal af te rond.”

John Devonport, ’n bekende Limousin-teler, Lebogang Bonokwane, wat as die Pick n Pay/Rudd ontluikende boer van die jaar vir 2019 aangewys is, en Pim Bijtel, internasionale spreker.

Mik vir groen veeproduksie

Prof Michiel Scholtz van die Landbounavorsingsraad het oor groen veeproduksie gepraat. “Een van die maniere om dit reg te kry, is om veegetalle te verminder en produksie per vee-eenheid op te stoot. Die doeltreffendheid van diere ná speen moet verbeter word, eerder as om maksimale produksie na te jaag. Dié twee faktore kan deur kruisteelstelsels verbeter word.

“Veeboere moet langtermynweervoorspellings benut om hulle te help om klimaatsverandering beter te hanteer. Daarby kan landskap-genomika, wat genetiese variasiepatrone met geografiese veranderlikes korreleer, vir presisieveeboerdery gebruik word. In dié proses moet die waarde van inheemse beesrasse se aanpasbaarheid nie onderskat word nie omdat hulle oor eeue heen deur natuurlike seleksie aangepas is.

“Internasionale navorsing oor die verbruiker van die toekoms dui daarop dat die doeltreffende aanwending van tyd tydens inkopies vir 71% ’n bepalende rol speel. Vir 42% is gesondheid ’n bepalende faktor, 80% is bereid om te eksperimenteer, en vir 60% is die sosiale omgewing van produkte se produksie baie belangrik,” verduidelik hy.

Hy meen produsente sal by die veranderende mark moet aanpas. Dit kan grootliks gedoen word deur die nuutste tegnologie te omarm, dit doelgerig toe te pas en ’n produksie-omgewing te skep wat doeltreffend saam met die mark kan verander. – Andries Gouws, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak Charmaine Alberts by 051 821 1783 of palberts@telkomsa.net, en Izaan du Plooy by 076 217 7819 of office@agribsa.co.za.