Die 2020 Plaas Media en Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie het weereens goeie deelname landswyd ontlok, ten spyte van die COVID-19-terugslae wat menige maatskappy en bedryf op hul knieë gedwing het. Volgens prof Robin Meeske, voorsitter van die kompetisie se protokolkomitee, het die kompetisie ’n totaal van 64 mielie-, sewe sorghum- en 13 hawer-inskrywings ontvang. Hierdie jaar het mieliekuilvoer uitgestaan.

Prof Meeske sê dat meer silosakke dié jaar in vergelyking met vorige jare ingeskryf is. “Meer produsente begin ook nou om op die regte groeistadium hul gewasse in te kuil. Vanjaar het 79% van mieliekuilvoerinskrywings met ’n droëmateriaal (DM)-inhoud van tussen 30 en 40% gespog. In 2019 het slegs 70% van die mieliekuilvoerinskrywings hierdie prestasie behaal. Die optimale DM-inhoud vir mieliekuilvoer bly steeds 35%,” verduidelik prof Meeske.

Richardt Venter van AgSci Unlimited, die kompetisiekoördineerder verantwoordelik vir die monsternemingsproses, sê die 84 inskrywings wat ontvang is, was werklik verblydend. “In die sewe jaar wat ons hierdie kompetisie aanbied, het ons vanjaar die tweede meeste inskrywings ontvang.

“Hierdie jaar is daar ook ’n kategorie vir kuilvoerbale geloods, wat vir eers net as ’n toetskategorie aangebied is. Hier het ons drie mielie-, een sorghum- en een lusernkuilvoerinskrywing gehad. Al vyf hierdie bale is met nuwerwetse, doelgemaakte kuilvoermasjiene gemaak wat die vermoë het om gekerfde kuilvoer te baal en toe te draai,” sê Richardt.

“ ’n Totaal van 16 maatskappye het hulself of hul kliënte vanjaar ingeskryf, waarvan ses vir die eerste keer ingeskryf het – voorwaar ’n baie positiewe tendens. Twee maatskappye, naamlik AFGRI Veevoere en Sparta Beef, het nog elke jaar sedert die kompetisie se bestaan deelgeneem. Ons is baie dankbaar vir hulle ondersteuning. Die meeste van die deelnemende maatskappye is plaaslik, maar een internasionale verskaffer van masjinerie, BAG Budissa Agroserv, neem ook reeds vier jaar deel,” vertel Richardt.

Gehalte van mieliekuilvoer van styg

Volgens prof Meeske is vordering veral gemaak met bolaagkompaksie en kuilvoer se algemene stabiliteit. “Deelnemers is oor die jare heen bewus gemaak van hoe belangrik bolaagkompaksie en die behoorlike seël van die bunker is. Ons sien ook hoër vlakke van asynsuur in die kuilvoer wat die aërobiese stabiliteit van kuilvoer verbeter.”

Daar is ’n opwaartse tendens in die styselinhoud van mieliekuilvoere, wat natuurlik deels verband hou met die beter, effens latere snystadium, maar ook met beter kultivarseleksie, verduidelik Richardt. Figuur 1 toon hoe mieliekuilvoer se styselinhoud toeneem soos die persentasie droëmateriaal toeneem.

Figuur 1: Die verwantskap tussen die DM-persentasie en styselinhoud van mieliekuilvoer.

“Ek dink die rede vir die verbetering is dat meer produsente aandag aan die fynere detail gee, en ook omdat hulle – deels weens die kompetisie – bewus gemaak is van die hoofaspekte waaraan ‘n mens aandag moet gee. Produsente is ook toenemend onder ekonomiese druk en as ’n mens eers besef hoe groot die totale verliese weens suboptimale kuilvoer kan wees, neig dit tot ’n tendens van verbetering,” sê hy.

Struikelblokke wat nog pla

Daar is steeds ruimte vir verbetering in die kompaksie van veral die bunker se bolaag. “Kompaksie en die seël van die bunker bly uiters belangrik,” sê prof Meeske. “Ons sien steeds heel pitte in sommige kuilvoer en daar is ook mieliekuilvoer wat te vroeg ingekuil is, met ’n DM-inhoud van onder 30%. Dit gaan gepaard met ’n verlaagde opbrengs, laer styselinhoud en laer energiewaarde.

“Hoewel kompaksie minder belangrik by silosakke is, is dit belangrik om op te merk dat dit laer is as in die bunkers. Daar was groot variasie (140 tot 215kg DM/m3) in die kompaksie van mieliekuilvoer in silosakke. Hoe meer materiaal in die sak saamgepers word, hoe laer is die plastiekkoste per ton kuilvoer. Beter kompaksie verlaag ook die risiko van aërobiese agteruitgang tydens die uitvoer van die kuilvoer.”

Prof Meeske sê dat hy graag hoër styselwaardes (variasie van 0 tot 7,8%) en laer veselinhoud (variasie in neutraalbestande vesel [NDF] van 48 tot 67%) in die hawerkuilvoer sal wil sien. “Kompaksie van hawerkuilvoer kan ook in baie gevalle verder verbeter. Daar was tot 1,3% bottersuur in een van die hawerkuilvoere. Ideaal gesproke wil ons geen bottersuur in kuilvoer sien nie, want dit maak die kuilvoer onsmaaklik.

“Bottersuur kom veral in kuilvoer met ’n lae DM-inhoud (25% of laer) voor en dit word deur Clostridium tyrobutyricum geproduseer. Dié organisme floreer wanneer die pH in die kuilvoer bo 5,5 is. Met ander woorde, kuilvoer wat sleg ruik se pH het te stadig gedaal,” verduidelik hy.

Terugvoer uit die kompetisie stel elke produsent in staat om te identifiseer waaraan hy of sy die meeste aandag moet gee, en waar daar verbeter kan word.

“Produsente moet bloot daarop fokus om die windrye tot ’n halfdag of so langer te laat lê voordat dit gekerf word. Die gemiddelde DM-inhoud van die hawerkuilvoer was goed, naamlik 35,1%, maar die voorbeelde met die hoë vlakke van bottersuur, was nog te nat,” voeg Richardt by.

Volgens prof Meeske het sorghumkuilvoer in die meeste gevalle min graan bevat en gevolglik ’n lae styselinhoud gehad. Die voedingswaarde en kompaksie van sorghumkuilvoer was beduidend laer as dié van mieliekuilvoer.

“Sorghumkuilvoer word ook oor die algemeen te vroeg gesny, en dit word in die kuilvoer se gemiddelde DM-inhoud van 32,1% teenoor mieliekuilvoer se 36,4% weerspieël. Produsente is geneig om haastig te raak met sorghumkuilvoer, omdat die plante aan die einde van die reënseisoen redelik dood en vaal begin lyk, terwyl die meeste voersorghumplante dan eintlik steeds redelike vogvlakke bevat,” verduidelik Richardt.

Let op na dié kuilvoertendense

Volgens Richardt het die sentrale binneland tydens die 2019-somerseisoen oor die algemeen laer hitte-eenhede as normaal getoon, veral van Desember af. As gevolg hiervan het mieliekuilvoer oor die algemeen langer geneem om die optimale kuilvoersnystadium te bereik. Hierdie probleem word deur effens laer styselvlakke gereflekteer, in vergelyking met die vorige jaar se inskrywings.

“In terme van hawerkuilvoer bly ons bekommerd oor te lae kompaksie, soos ons ook in vorige jare se inskrywings gesien is. Hawer is natuurlik een van die moeilikste gewasse om te kompakteer, maar dit maak die probleem van suurstof wat in die bunker vasgevang word, net soveel erger,” verduidelik hy.

Nuwe deelnemers

Elke deelnemer kry terugvoer oor sy kuilvoerinskrywing, verduidelik prof Meeske. “Sterk- en swakpunte word uitgelig en alle eienskappe en metings word met die gemiddeld van die betrokke kategorie vergelyk. Die gedagte is om elke jaar op minstens een aspek te verbeter.”

Volgens Richardt is daar verskeie nuwe deelnemers of plase wat nou vir die tweede keer ingeskryf is, en wie se kuilvoergehalte reeds baie verbeter het. “Ek is ook bewus van produsente wat die kompetisie oor die laaste jaar of twee begin volg het, maar eers hul kuilvoer wou verbeter voordat hulle deelneem, en toe vanjaar met hul eerste deelname baie goed gevaar het.”

Terugvoer uit die kompetisie stel elke produsent in staat om te identifiseer waaraan hy of sy die meeste aandag moet gee, en waar daar verbeter kan word.

Richardt meen dat die maak van suksesvolle kuilvoer op die optimalisering van alle aspekte berus – van kultivarkeuse, grondvoorbereiding, plant van die gewasse, besproeiing waar van toepassing, bemesting, inkuil op die regte stadium, tot optimale kerflengte en kompaksie, deeglike seël van die bunker en, laastens, goeie bunkerbestuur wanneer kuilvoer gevoer word.

Nuwe inskrywings

Volgens prof Meeske was daar twee baie interessante inskrywings vanjaar, naamlik ’n sojakuilvoer en ’n kuilvoermengsel wat mielies en soja bevat het. “Alhoewel daar nie ’n aparte gewaskategorie vir hierdie soort inskrywings bestaan nie, en omdat dit eers met die plaasbesoek bekend geraak het dat die produsente wel sulke kuilvoer gemaak het, het ons probeer om dié inskrywings te akkommodeer.

“Ons wil in die toekoms graag meer voersorghum- en hawerinskrywings sien. Ons beoog ook om weer die toetskategorie vir kuilvoerbale aan te bied, maar hoop om dan ook ondersteuning uit die meer tradisionele kuilvoergewasgeledere te kry, soos hawer- en graskuilvoer,” sluit prof Meeske af. – Prof Robin Meeske, spesialiswetenskaplike, Outeniqua-navorsingsplaas, en Richardt Venter, veekundige en kuilvoerkonsultant, AgSci Unlimited

Vir meer inligting, kontak Richardt Venter
by 083 590 3014 of unlimited@agsci.co.za.