Ondanks die groot uitdagings van die koronavirus-pandemie, is daar aangekondig dat die Novare SA Terroir Wyntoekennings voortgaan. Dít nadat die wynbedryf van Suid-Afrika, soos alle ekonomiese bedrywe in die land, ook in die afgelope twee maande swaar getrek het onder die vlak 4- en 5-inperkings.

“Met wynhandel wat van 1 Junie af hervat is en die verdere oopstel van die ekonomie, is ons besonder bly om hierdie aankondiging te kan maak. Die kompetisie gaan nou voort, inderdaad ongeveer vyf weke later as verlede jaar,” lui die aankondiging.

Groot deelname verwag

Die Novare SA Terroir Wyntoekennings is 15 jaar gelede gestig en verlede jaar is dit amptelik deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) oorgeneem as ’n gevestigde en hoog aangeskrewe kompetisie in die Kaapse wynbedryf. Dieselfde borg, Novare, is ook sedert die begin van die kompetisie betrokke.

Ná verlede jaar se rekord aantal inskrywings en vele nuwe wyke wat as eiesoortige terreine afgebaken is, word daar vanjaar weer groot deelname verwag in hierdie kompetisie, met streng Wyn van Oorsprong-reëls. Slegs wyne wat by die Wyn-en-Spiritusraad gesertifiseer is as Wyn van Oorsprong van ’n spesifieke wyk, ’n distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, ’n landgoed-geproduseerde wyn en enkelwingerdwyn mag deelneem.

Hierdie kompetisie is uniek in die sin dat dit die enigste ter wêreld is wat gegrond is op die konsep van terroir –  ’n Franse term wat verwys na die feit dat wyne van verskillende terreine deurlopend eiesoortige karaktertrekke openbaar weens die interaksie van hul spesifieke tipografie, grond en klimaat.

Kaapse wynland geseënd met ’n verskeidenheid wynterreine

Nasionale wenners asook streekswenners word aangewys ná die beoordeling. Die Novare-trofeë vir die Top Enkelwingerdwyn, Top Landgoed, Top Wynstreek, Top Terroir Produsent en algehele Top Wyn van die kompetisie word ook toegeken.

Volgens die voorsitter van die SANWSV, Christo Pienaar, is die Kaapse wynland geseënd met ’n verskeidenheid wynterreine wat puik produkte lewer, geskep deur die grond en klimaat.

“Dit is dus uiters gepas dat Suid-Afrika ’n puik Wyn van Oorsprong-skema het en dat die produsente wat hul terroir landboukundig in die wingerd benut en kreatief en tegnies in die kelder uitleef, erkenning van die bedryf kry. Die Novare SA Terroir Wyntoekennings het oor die afgelope 15 jaar bewys dat dit die perfekte verhoog skep om die beste wyne te bekroon,” sê Pienaar.

Volgens die stigter van Novare SA Terroir Wyntoekennings en ervare wynjoernalis, Marius Labuschagne, kan min lande spog met so ’n verskeidenheid goeie gehalte terroir-gedrewe wyne. “Die kompetisie sou nie kon bestaan sonder die land se Wyn van Oorsprong-skema, die Wyn en Spiritusraad en die Suid-Afrikaaanse Wynbedryfinligting en -stelsels (SAWIS) se samewerking nie.”

’n Geleentheid om erkenning aan talentvolle wynmakers te gee

“Die vermoë om die natuurlike bates binne die wynbedryf soos ʼn streek se klimaat, grond en terrein suksesvol te kombineer, is waarom ons die Novare SA Terroir Wyntoekennings borg, sê Derrick Roper, oorspronklike stigter van die Novare-beleggingsmaatskappy. “Ons vier vanjaar die 15de geleentheid van dié gesogte toekenning en ons is trots daarop om erkenning aan ons talentvolle wynmakers, wingerdboukundiges en hul spanne te gee.”

“Die terroir-gedrewe deelnemers moet altyd die meeste lof ontvang. Hulle gee wynliefhebbers die voorreg om al die wyne en style uit spesifieke terreine regoor die wynland te ervaar,” sê Roper.

Inskrywings vir die kompetisie sluit vanjaar op 17 Julie en die aflewering van monsters vir beoordeling is op 23 en 24 Julie. Die beoordeling vind vanaf 3 tot 7 Augustus plaas. ’n Besluit sal nog geneem word oor die datum van die toekenningsfunksie se aanbieding. – Persverklaring, SANWSV

Inskrywingsvorms is aanlyn beskikbaar by www.terroirwineawards.co.za.
Vir meer inligting, kontak die organiseerders by 021 863 1599 of epos info@terroirwineawards.co.za.