Die foutiewe gebruik van elektrisiteit het elke jaar ‘n aansienlike hoeveelheid voorvalle tot gevolg en word gereeld deur onveilige, foutiewe en dikwels onwettige installasies veroorsaak.

Read it in English.

Die realiteit is ongelukkig dat daar dikwels nie genoeg aandag aan die verantwoordelike gebruik van elektrisiteit en gepaardgaande veiligheidsaspekte geskenk word nie.

Volgens Liza de Beer van Old Mutual Insure Kleinhandelbesigheid, kan elektriese brande en voorvalle meestal voorkom word. Doeltreffende voorkoming van elektriese brande en ongelukke berus op gereelde inspeksie van elektriese verbindings, voorkomende instandhouding en korrekte optrede tydens beurtkrag.

Wat kan ek doen om ’n brand of ongeluk te verhoed?

1. ’n Goeie beginpunt is om die aardlekstroombreker een maal per maand te toets deur die toetsknoppie te druk. Hierdie eenvoudige voorkomingsmaatreël word egter selde in praktyk toegepas.

2. Sorg altyd dat elektriese verdeelborde en kragpunte skoon en vry van stof en enige ander vreemde materiaal is.

3. Wees op die uitkyk vir:

  • Los konneksies en skakelaars wat nie behoorlik werk nie.
  • Tekens van oorverhitting en/of verkleuring.
  • Verslete en beskadigde koorde.
  • Onverklaarbare uitskop van stroombrekers en toestelle wat jou skok as jy daaraan raak.

4. Verlengkoorde is nie ’n permanente elektriese oplossing nie en behoort slegs op ’n tydelike basis gebruik te word. Kragkoorde moet nooit onder tapyte of los matte geplaas word nie en meubels mag ook nie daarop staan nie.

5. Moet nooit muurproppe en kragpunte oorlaai nie, aangesien dit slegs ’n gegewe hoeveelheid elektriese stroom kan hanteer. Die misbruik daarvan deur te veel toestelle daaraan te koppel, beskadig nie net die komponente in die stroombaan wanneer dit oorverhit en smelt nie, maar dit kan ook tot die ontstaan van ’n brand lei.

6. Sorg dat alle kragbronne tydens beurtkrag of ’n kragonderbreking afgeskakel is. Dit is maklik om te vergeet om toestelle af te skakel of te ontkoppel wanneer die krag onverwags afgaan. ’n Haardroër op ’n bed, verwarmers, of ’n stoofplaat wat sonder toesig gelaat word, kan ’n brand veroorsaak wanneer die krag weer aangeskakel word.

7. Indien kerse tydens beurtkrag gebruik word, sorg dat dit korrek en in die regte houers geplaas is, sodat dit nie kan omval nie. Kerse moet ook nooit sonder toesig gelaat word nie. Maak seker dat kerse nie naby vlambare voorwerpe geplaas word nie.

8. Wees versigtig wanneer jy gate in mure boor en nie seker is waar die kragdrade binne die muur loop nie.

9. Wanneer daar met kraggereedskap soos elektriese hoekslypers, bore en sweismasjiene gewerk word, maak seker dat alle konneksies veilig is. Moet nooit hierdie gereedskap in nat of klam toestande en areas gebruik nie.

10. In die beginfase van ’n brand, maak van brandblussers en -komberse gebruik wat geskik en doeltreffend vir die blus van elektriese brande is.

Kontak ’n professionele persoon indien jy onseker is oor die veiligheid van ’n elektriese aansluiting of toevoer, of die gebruik van brandblussers en -komberse. “Beskerm jouself, jou gesin, jou werkers en besoekers op jou plaas deur proaktief op te tree,” sluit Liza af.

Hierdie artikel vervat slegs algemene inligting en bied geen advies of regsadvies nie. Kontak jou versekeringsmakelaar of -adviseur, of besoek ons webwerf by www.ominsure.co.za vir inligting oor ons landbouprodukoplossings.

Alle produkte word deur Old Mutual Insure onderskryf. Old Mutual Insure Beperk is ’n gelisensieerde FDV en nie-lewensversekeraar.