Die Suid-Afrikaanse wynbedryf herdenk op 2 Februarie 2021 die eerste wynoes op Suid-Afrikaanse bodem 362 jaar gelede, soos dit op hierdie dag in 1659 deur Jan van Riebeeck in sy dagboek opgeteken is. Die jaarlikse Wynoesherdenkingsgeleentheid word vanjaar vir die tiende keer te Groot Constantia, Suid-Afrika se oudste wynlandgoed, aangebied.

Die geleentheid vind egter vanjaar virtueel plaas. Dit behels drie aspekte, naamlik die Seën op die Oes, die herdenking van die 362ste bestaansjaar van die wynbedryf en die verering van rolspelers. Elke jaar ontvang ’n wyn-ikoon die spesiale 1659-Toekenning vir Visioenêre Leierskap vir sy/haar/hul bydrae tot die bedryf.

Drie nuwe toekennings word ook vanjaar as deel van die Wynoesherdenkingsgeleentheid ingestel. Heelwat mense lewer onskatbare bydraes tot die uitbouing van die wynbedryf. Die doelwit is om die poel van erkenning te verbreed. Dié toekennings dek die kategorieë Diversiteit en Transformasie, Wynwaardering en Wynbevordering, asook Wingerdbou en Wynskepping.

Die virtuele geleentheid vind op 2 Februarie 2021 om 19:00 plaas. Die program sluit optredes deur die internasionaal bekroonde operasangers en susters, Pretty en Nombulelo Yende in.

Finansiële ondersteuning en vennootskappe vir die geleentheid kom van Groot Constantia Landgoed, Die Burger, Standard Bank, Vinpro en die TOPS @ SPAR Wine Show. Agri-Expo is die organiseerder. Diegene wat belangstel om die virtuele Wynoesherdenking by te woon, word hartlik uitgenooi. Kontak Razelle Galant by 021 975 4440 of razelle@agriexpo.co.za vir meer inligting. – Persverklaring, Agri-Expo