In sy sewende jaarlikse gids oor Suid-Afrikaanse wyne, meen die bekroonde Britse joernalis en Master of Wine (MW), Tim Atkin, dat die 2015- en 2017-oesjare ’n reeks briljante wyne opgelewer het, wat enigiets in die land se lang geskiedenis oortref het en dat dit “twee van die beste oesjare” in die Kaap is.

Om hierdie hoë gehalte te eer, het Atkin sy eerste 100-puntetelling ooit in die Nuwe Wêreld aan die Kanonkop Paul Sauer 2015 en 99 punte aan twee witwyne, die Alheit Wingerde Magnetic North 2017 en Sadie Family ’T Voetpad 2017, toegeken. “Ek ken nie maklik sulke hoë puntetellings toe nie, maar hierdie drie wêreldklas-wyne verdien dit,” sê hy.

Atkin meen dat die wynbedryf ’n rede vir nasionale optimisme en trots is in ’n tyd van politieke en ekonomiese onsekerheid. “Die uitmergelende drie jaar lange droogte het opbrengste in baie streke erg verlaag, maar dit het nie die wyngehalte – veral nie vir die 2015-rooiwyne en 2017-witwyne – geraak nie,” sê hy.

Volgens hom het die kleiner oeste Suid-Afrika eerder in staat gestel om meer op die uitvoermark te vra. “Kaapse wyne se pryse is steeds te laag vir die langtermyn-voordeel van die bedryf. Verbouers en produsente moet ook ’n bestaan kan voer.”

Vanjaar sonder Atkin Chenin Blanc, Chardonnay, Semillon, wit versnitte, Bordeaux rooi versnitte, Cabernet Franc, Cinsault en Syrah vir spesiale erkenning uit. Hy lewer ook kommentaar op die Old Vine Project (OVP), wat die kollig plaas op die Kaap se erfenis-wingerde. “Dis belangrik dat Suid-Afrika hierdie unieke hulpbron vertroetel, bemark en beskerm,” sê hy. “So baie van die land se beste wyne is uit ouer wingerde afkomstig.”

Atkin se Suid-Afrikaanse Spesiale Verslag 2018 beslaan meer as 250 bladsye en is die produk van twee reise na die Kaap, sowel as verdere wynproeë in die Verenigde Koninkryk en Duitsland, en sluit in:

  • Topwyne van die jaar (wit, rooi, soet, gefortifiseerde en vonkelwyn).
  • Puntetellings vir meer as 2 000 wyne, met hul kleinhandelpryse in Suid-Afrikaanse rand, wat wissel van R40 tot R25 000.
  • Meer as 1 350 proenotas.
  • Stemmingsvolle foto’s van die wynlande en wynmakers.
  • Sy 2018-klassifikasie van die 250 beste Suid-Afrikaanse wynkelders.

Atkin het ook sy algehele wenners en wynmakers van die jaar aangewys:

  • Wynmaker van die jaar: Chris Alheit van Alheit Wingerde.
  • Jong wynmaker van die jaar: Lukas van Loggerenberg van Van Loggerenberg Wyne.
  • Verbouer van die jaar: Basie van Lill.
  • Koöperatiewe kelder van die jaar: Klawer Kelder.
  • Wynmaak-legende: Jan Boland Coetzee van Vriesenhof.
  • Algehele witwyn van die jaar: Sadie Family ’T Voetpad 2017, Swartland.
  • Algehele rooiwyn van die jaar: Kanonkop Paul Sauer 2015, Stellenbosch.
  • Algehele Rosé van die jaar: Raised by Wolves Newlands Pinot Meunier 2017, Deon Joubert, Stellenbosch.
  • Algehele vonkelwyn van die jaar: Le Lude Magnum Vintage Cuvée 2012, Wes-Kaap.
  • Algehele soetwyn van die jaar: Klein Constantia Vin de Constance 2015, Constantia.
  • Algehele gefortifiseerde wyn van die jaar: De Krans Cape Vintage Reserve 2016, Calitzdorp.
  • Rooiwyn-ontdekking van die jaar: Rall Ava Syrah 2017, Swartland.
  • Witwyn-ontdekking van die jaar: Alheit Huilkrans 2017, Citrusdalberg.
  • Beste waarde wit van die jaar: Stellenrust Chenin Blanc 2018, Stellenbosch.
  • Beste waarde rooi van die jaar: Zonnebloem SMV 2016, Stellenbosch.
  • Beste waarde Rosé van die jaar: Oude Kompagnies Post Swanepoel Rosé 2018, Tulbagh.
  • Beste waarde vonkelwyn van die jaar: Villiera Tradition Brut NV, Wes-Kaap.
  • Beste waarde soetwyn van die jaar: Namaqua Noble Late Harvest 2013, Olifantsrivier.
  • Beste gefortifiseerde wyn van die jaar: Du Toitskloof Rooi Muskadel 2015, Breedekloof.

Atkin se Suid-Afrikaanse Spesiale Verslag kan afgelaai word by www.timatkin.com teen ’n koste van R395. – Persverklaring