Agri SA doen ’n beroep op die regering om waaksaam te wees wat handel in landbouprodukte betref. Die globale afname in vraag na landbouprodukte het aanleiding gegee tot voorraadsurplusse en oorvol bergingsfasiliteite. Dit het ’n toename in uitvoervolumes en lae-waarde markte tot gevolg gehad, wat ’n potensiële bedreiging vir die Suid-Afrikaanse landboubedryf inhou en ook geleenthede vir onwettige handel skep.

Read it in English

“Groot toenames in invoere van gevriesde produkte, soos hoender en aartappels, plaas groter druk op plaaslike produsente en het ’n negatiewe impak op hul inkomste en dié van die mense wat in hul diens is,” waarsku Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA. “Storting kan die groeivooruitsigte vir een van die land se mees lewensvatbare bedrywe in gevaar stel.”

Die risiko van invoere onder die verkeerde tarieflyne kan terselfdertyd ook aanleiding gee tot onwettige handel. Dit word vererger deur die risiko van storting en moet teen gewaak word. Dit is uiters noodsaaklik dat handelsregulasies by toegangspunte afgedwing word om onbillike praktyke te verhoed. “Produsente is prysnemers en met toenemende druk op hul winsmarges, sal storting katastrofies vir menige bedrywe wees,” sê Van Zyl.

Langtermynontwikkeling van voorraadkettings

Namate die ekonomie heropen, sal die druk as gevolg van die sluiting van vinnige diens-restaurante (of quick service restaurants) en die gasvryheid- en toerismebedrywe tot ’n mate afneem. Die risiko vir die pluimvee- en gevriesde produkbedryf geld egter steeds. Tydens inperkingsvlakke 5, 4 en 3, het vraag na gevriesde hoender onderskeidelik met 18, 13 en 7% afgeneem.

“Daarom is ons daartoe verbind om by te dra tot die mededingendheid, veerkragtigheid en langtermynontwikkeling van ons produsente en voorraadkettings, wat tans ongelukkig die risiko loop om deur voortdurende internasionale stortingspraktyke ondermyn te word. Dit is noodsaaklik dat alle belanghebbendes saamwerk om verhoogde voedselsekerheid, die bemagtiging van opkomende produsente en die volhoubare groei van die Suid-Afrikaanse landbousektor te verseker,” sê Van Zyl.

Agri SA wil graag met die regering, internasionale handelsvennote en alle belanghebbendes in die waardeketting saamwerk om ons plaaslike mark te beskerm. Om hierdie rede verwelkom die organisasie die instelling van die nodige maatreëls om billike en etiese handelsaktiwiteite te bevorder. – Persverklaring, Agri SA