grondbesettings
Die stuk landbougrond van die JB Marks-munisipaliteit buite Potchefstroom, wat vroeg in Januarie vanjaar beset is. Foto: Christal-Lize Muller.

Aanliggende grondeienaars en boere wag in spanning vir ’n uitsettingsbevel deur die Noordwes-hoëhof. Dit kom nadat talle grondbesetters vroeër vanjaar op ’n stuk grond van die JB Marks-munisipaliteit in die Mooibank-gebied buite Potchefstroom, toegesak het. Hans-Jurie Moolman, ʼn prokureur wat nou betrokke is, sê dít is slegs een van talle grondgrype wat in die provinsie kommer wek.

Moolman, ’n kenner op die gebied van grondregte, sê daar was die afgelope jaar ’n toename in grondbesettings in Noordwes, met sowat twaalf gevalle waarvan hy bewus is. Hy meen dit vind nie noodwendig op produktiewe landbougrond plaas nie, maar meer op landbougrond naby stedelike en dorpsgebiede. “Dit gaan oor die afstand tussen mense en hul werksplekke.”

Moolman sê verteenwoordigende organisasies van georganiseerde landbou het hom al genader vir sy regsopinie oor besettings, wat nou nie slegs op tradisionele plase ’n werklikheid is nie, maar grond wat aan begunstigdes van grondeise toegeken is, word ook geteiken. Dié toename word toegeskryf aan ’n leemte in wetstoepassing deur die polisie, wat nie in ’n bepaalde venstertydperk optree nie en sodoende die organisering van grondbesettings vergemaklik.

Hy sê dié munisipaliteit en die nasionale Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het aanvanklik met die Mooibank-besetting ’n hofinterdik verkry, om te verhoed dat verdere standplase uitgemerk word en dat informele strukture op dié grond langs die Potchefstroom Landboukollege opgerig word.

Hofaansoek vir uitsettingsbevel ingedien

Die JB Mark-munisipaliteit se regspan, onder leidingvan adv Nic Laubscher en Oupa Mothive namens die departement, het op 15 Februarie ’n hofaansoek vir ’n uitsettingsbevel ingedien. Dit is aangehoor, maar die respondente het uitstel gevra en het intussen versuim om op 18 Februarie opponerende hofstukke in te dien, waarin redes verskaf moes word waarom hulle nie van die grond verwyder moet word nie. Die hofverrigtinge duur op 4 Maart voort. Moolman sê indien die uitsettingsbevel toegestaan word, sal die hof ’n billike tyd bepaal waarin besetters die stuk grond vrywilliglik moet verlaat, en sou hulle versuim om dit te doen, sal hierdie bevel uitgevoer word.

Dipepeneneng Serage, hoof van die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling in Noordwes, sê daar was ’n poging om ’n gedeelte van ’n aangrensende stuk grond wat aan dié departement in die Mooibank-gebied behoort te beset, maar ’n interdik is verkry. Hy sê hierdie stuk grond word vir weidingsdoeleindes gebruik en ’n heining sal rondom opgerig word.

Serage rig ’n ernstige versoek aan dié en ander grondbesetters om nie gedeeltes grond in gebiede wat vir landbouproduksie gesoneer is, te beset nie. Landbougrond is nie geskik vir behuisingsdoeleindes nie en wanneer hierdie grond beset word, word landboubedrywe in omliggende gebiede benadeel. Grond verloor waarde, wat ’n impak op die verkope van eiendom tot gevolg het en die prys van kos laat styg. – Christal-Lize Muller, AgriOrbit