Bosluisbesmetting is sekerlik een van die grootste probleme waarmee Suid-Afrikaanse beesboere te kampe het. Suid-Afrika het vele bosluisspesies wat beeste jaarliks infekteer en waarvan die twee bloubosluissoorte, asook die bruinoor-, bont- en bontpootbosluis, die belangrikste is.

Nie net is bosluise direk verantwoordelik vir irritasie, huidskade en bloedverlies wat die kudde se groei, produksie en reproduksie benadeel nie, maar bosluisoorgedraagde siektes soos rooiwater, hartwater en galsiekte, kos die veebedryf jaarliks miljoene rande.

Boonop jaag pes- en plaagbeheer groot bedrae uit die beesboer se sak, in ’n poging om te verseker dat produksie en reproduksie volhoubaar kan bly. Bosluisbeheer maak ’n baie belangrike deel hiervan uit omrede bosluise ook floreer wanneer die toestande vir die vee gunstig is.

Bosluisbeheer

Die beheer van inwendige en uitwendige parasiete is van die vroegste tye af ’n uitdaging, en vele beheermaatreëls en middels is al ingespan om die probleem die hoof te bied, met chemiese bosluismiddels wat ’n deel van bosluisbestuur uitmaak. Synde ons die reënseisoen betree, sal dit die beesboer baat om sy bosluisbeheerprogram gereeld te evalueer.

Faktore wat by die samestelling van so ’n bosluisbeheerprogram ingereken moet word, sluit in die tipe bosluis teenwoordig, wanneer die bosluislading die hoogste is, wanneer die bosluisoorgedraagde siektes meestal voorkom, wanneer voorkomende (strategiese) behandeling toegepas kan word om die bosluislading te verlaag, en laastens of die doeltreffendheid van middels wat gebruik word nog optimaal is.

Weerstand teen ouer chemiese middels

Alhoewel chemiese middels ’n belangrike rol in bosluisbeheer by beeste speel, het dit oor die afgelope paar dekades duidelik geword dat bosluise, veral in sekere gebiede, nie meer so doeltreffend deur van die beskikbare middels beheer word nie. Trouens, weerstandigheid van bosluise is al teen verskillende groepe van die chemiese middels, soos amidiene, organofosfate en piretroiede, wat kommersieel gebruik word, aangeteken.

Topline Pour-on is die antwoord!

Die goeie nuus is egter dat Boehringer Ingelheim se Topline Pour-on fipronil bevat – ’n nuwer generasie aktiewe bestanddeel – en dus ideaal op sy eie of in bosluisbeheerprogramme met bestaande, ouer generasie middels afgewissel kan word. Fipronil is ’n bewese eksterne parasietmiddel wat al die afgelope 20 jaar by verskeie tipes diere en in verskillende lande suksesvol gebruik is.

Topline Pour-on is ’n gereed-vir-gebruik opgietmiddel wat 1% fipronil as aktiewe bestanddeel bevat en uiters doeltreffend teen alle tipes bosluise is. Fipronil se uniekheid lê daarin dat dit hoogs vetoplosbaar is en in die oliekliere van die vel aansamel om sodoende ’n depot-aksie te hê wat nawerking verseker. Topline Pour-on is ook met ’n spesifieke plantolie geformuleer om die vetoplosbaarheid en dus langwerkende aksie te ondersteun.

Die vetoplosbare formulasie het die ekstra voordeel dat dit waterverdraagsaam is en stabiliteit in die vel en op die haarkleed verseker, en gevolglik selfs ’n reenbui of twee sal weerstaan, mits dit nie binne ’n paar uur na aanwending plaasvind nie.

Wanneer bosluise op die Topline-behandelde bees klim, kom die bosluis in kontak met die fipronil in die olie van bees se haarkleed, en word dit deur die bosluis se dop geabsorbeer. Fipronil blokkeer regulerende reseptore in die bosluis se senuweestelsel, wat tot oorstimulasie lei. Die bosluis vrek dus van energie-uitputting weens hiperstimulasie. Die effek word dikwels waargeneem as bosluise wat op die dier rondloop voor hulle afval en vrek.



Gebruik en nawerking

Topline Pour-on word teen 1mℓ/10kg op die rug langs gegiet om blou-, bruinoor-, rooipoot-, bont- en bontpootbosluise, sowel as bytende en suigende luise en horingvlieë teen te werk. In geval van bosluise het dit ’n nawerking van soveel as ses weke, en teen luise en horingvlieë tot sowat vier weke.

Gepubliseerde navorsing het verder bewys dat Topline Pour-on ’n invloed het op die vermoë van die wyfiebosluis om ’n nageslag te lewer. Anders as gewone opgietdipstowwe, het die nawerking dus ook ’n impak op die bosluisbevolking in die omgewing.

Topline Pour-on is dus ’n uiters geskikte toevoeging tot die beesboer se arsenaal om bosluise mee te beveg. Dit is in ’n 5ℓ-kan, met die nodige opgietapparate daarby, by veeartse en dieregesondheidsinstellings beskikbaar.
dr Hein Hesse, regulerende en tegniese bestuurder, Boehringer Ingelheim

Vir meer inligting oor Topline Pour-on, kontak Boehringer Ingelheim by
011 3482400 of besoek die webwerf by www.boehringer-ingelheim.co.za.