Toyota SA jong afslaerskampioene aangewys @ ALFA 2018

0
1021
Fiso Hadebe (links) en Barco van Niekerk (regs) saam met Jacques Pieters van Toyota Suid-Afrika, die kompetisie se borg sedert die aanvang daarvan.

ALFA 2018 was vanjaar weer die gasheer in die finale rondte van die Toyota SA Nasionale Jong Afslaerskompetisie. Dit volg na verskeie streeksrondtes wat tydens landbougeleenthede sedert laat 2017 gehou is. Deelnemers van regoor die land is op hierdie wyse geleentheid gegee om mee te ding om die titel van Toyota SA Nasionale Jong Afslaer van die Jaar.

Read it in English.

Die doel van die kompetisie is om die bedryf te stimuleer, nuwe talent aan die bedryf bekend te stel en uiteraard dan ook nuwe talent te identifiseer.

Kompetisiekategorieë

Deelnemers word in twee kategorieë beoordeel. Die junior kategorie is gerig op deelnemers tussen die ouderdom van 13 en 18. Die doel van hierdie kategorie is om jongmense vroeg reeds aan die bedryf bloot te stel. Die jong-kategorie is gemik op deelnemers tussen die ouderdom van 19 en 30. Dié kategorie bied weer aan jong afslaers ’n platform vir toetrede tot die bedryf en beroep.

Die junior kategorie is deur Steven Mathews, ’n vorige wenner van die kompetisie, beoordeel. Mathews het ook sy kennis met skoliere gedeel en hulle ingelig oor die uitdagings wat hy moes oorkom toe hy tot die bedryf toegetree het.

Die jong-kategorie is deur twee afslaerslegendes, Louwrens Bibby en Johan van der Nest, beoordeel. Hulle het ook hul kennis en raad met die finaliste gedeel en hulle aangemoedig om kalm te bly op die rostrum, aangesien dit juis kalmte is wat grootliks bydra tot sukses al dan nie.

Die wenners

Die junior kategorie is vir die tweede jaar agtereenvolgens deur Fiso Hadebe van Weston Agricultural College gewen. Hy het vroeër vanjaar tydens die Royal-skou gekwalifiseer en is baie trots op die titel wat hy kon verdedig en weer wen.

In die jong-kategorie het Barco van Niekerk van GWK Veilings met die louere weggestap. Hy het tydens vanjaar se Bloemskou gekwalifiseer. Hierdie is ook nie die eerste keer dat Barco aan die kompetisie deelgeneem het nie. Sy volgehoue deelname het daarvoor gesorg dat hy sy vaardighede kon opskerp tot waar hy nou die titel van Toyota SA Nasionale Jong Afslaer vir 2018 kon losslaan. – Marike Brits, Veeplaas

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here