Die trekkerverkope van 527 eenhede in Januarie is aansienlik (10%) meer as die 478 eenhede wat verlede Januarie verkoop is. Die stroperverkope van agt eenhede in Januarie is die helfte van die 16 eenhede wat verlede Januarie verkoop is.

Read it in English.

Soos in die geval van verkope in Desember, was die trekkerverkope in Januarie verrassend goed en dit dui daarop dat die mark steeds positief is. Daar is op die oomblik verskeie interaktiewe faktore wat die landbou- en landboumasjineriebedryf beïnvloed.

Hoewel goeie reën in baie van die somergewasgebiede geval het, was reën in die hele somerreënvalgebied baie wisselvallig en dit het tot wisselvallige gehalte van gewasse gelei. Weens die laat reën in sekere gebiede, het sekere boere sonneblom in plaas van mielies aangeplant.

Verkope word ook beïnvloed deur banke wat huiwer om vir boere geld te leen om kapitaaltoerusting aan te koop, ’n hoë voorraad gewasse wat oorgebly het na verlede jaar, die huidige bedrukte pryse vir gewasse en die sterker rand.

Dit is baie moeilik om die uitwerking van al dié faktore op die verkope van toerusting oor die kort termyn te bepaal. Ramings in die bedryf vir die 2018-kalenderjaar bly nietemin dat die trekkerverkope minstens teen dieselfde vlakke sal bly as die verkope vir 2017. – SAAMA

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here