Tshilidzi Matshidzula
Van links is Dr Heinz Meissner, Barbara Bieldt, Jompie Burger, Tshilidzi Matshidzula en Sue Viljoen.

Tshilidzi Matshidzula, van Little Barnet Farm naby Alexandria in die Oos-Kaap, is tydens ’n seremonie by die Melkprodusente-organisasie (MPO) se virtuele jaarkongres op 4 November, as wenner van die gesogte MPO Nedbank Rentmeesterskap-toekenning aangewys,. Dié toekenning word vanjaar vir die vierde keer toegeken.

Read it in English

Coenraad en Candice de Jongh, van Blomfontein naby Groot Brakrivier, het die tweede plek verower, met Ginkel Jordaan, van Spekboomberg naby Cradock, in die derde plek. Hul prysgeld, wat deur Nedbank geborg word, beloop onderskeidelik R40 000, R30 000 en R10 000, en moet aangewend word om rentmeesterskapdoelwitte op hul plase na te streef.

MPO mik vir toekomstige volhoubaarheid in landbou

Die MPO gebruik die drie pilare van volhoubaarheid – winsgewendheid (ekonomies), mense (sosiaal) en planeet (omgewing) – om melkboere in staat te stel om in die toekoms suksesvol te kan boer. Rentmeesterskap gaan daaroor om aan al drie pilare te voldoen, met winsgewendheid wat net so noodsaaklik is as die twee ander pilare.

Die beoordelaars was uiters beïndruk met die finaliste se passie vir die mense en diere op hul plase, hul gebruik van tegnologie om doeltreffendheid te verhoog, hul kennis en praktiese benadering, hul fokus op die opleiding van plaaspersoneel en die opheffing van die omliggende gemeenskappe, en die hoë vlak van innovering wat hulle inspan.

Bestuurspraktyke en gemeenskapsopheffing geloof

Matshidzula is geloof vir sy uitmuntende plaasbestuurspraktyke en aandag aan detail, wat onder meer uitgebreide konsultasie met kundiges en eweknieë insluit, ten einde beste praktyke te kan handhaaf. Sy span plaasbestuurders is elkeen in sy mentorskapprogram vir studente opgelei. Boonop is sy uitnemende werk om die omringende gemeenskap op te hef en te bemagtig deur opleiding, mentorskap en befondsing, ongeëwenaar, sê die beoordelaars.

Die beoordelaars is beïndruk deur Matshidzula se innoverende maatreëls om die water van die spruit wat deur sy plaas loop te reinig, ten einde water van ’n aanvaarbare gehalte vir gebruik op die plaas en in die melkstal te hê.

Barbara Bieldt, bestuurder vir rentmeesterskap en regulatoriese dienste by die MPO, sê: “Tshilidzi toon buitengewone visie en weet beslis wat vereis word vir toekomstige volhoubaarheid.”

Goeie kuddebestuur en omgewingsvriendelike boerderypraktyke

Die naaswenners, Coenraad en Candice de Jongh, het die beoordelaars beïndruk met hul uitstekende kuddebestuursprogram, en veral hul uitgebreide kennis van dieregesondheid, welstand en kalfgrootmaakpraktykte. Die beoordelaars sê hul omgewingsvriendelike boerderypraktyke en die bewaring van hul grond en plantspesies is uitsonderlik.

Ginkel Jordaan se bestuur van grondvoedingstowwe op sy weiveld en sy gebruik van alternatiewe energie is uitnemend, sê die beoordelaars.

Daneel Rossouw, Nedbank se landboubestuurder vir die Suidelike Afdeling, sê Nedbank is baie trots om hierdie gesogte toekenning te borg, wat melkboere wat uitstekende bestuurders van hul boerderye is, erken.

“Dit spreek van die volhoubaarheid in die breër konteks en omvat aspekte soos die beskerming van ons natuurlike hulpbronne, regverdige en etiese hantering van mense en diere, die vervaardiging van ’n veilige en gesonde produk en winsgewende boerdery. Die standaard van inskrywings hierdie jaar was uitstekend en ons wens die verdienstelike wenners van harte geluk.”

“Geluk aan ons wenners, Tshilidzi, Coenraad, Candice en Ginkel, met jul welverdiende toekennings!” sê Bieldt. “Die MPO is trots op ons uitmuntende suiwelrentmeesters.” – Persverklaring, MPO