Tuks Landbou nuut bekendgestel

0

Die nuwe Tuks Landbou is op 25 Augustus amptelik in Pretoria bekendgestel. Tuks Landbou word herstruktureer, herposisioneer en gee splinternuwe inhoud aan sy lede en alumni. Boonop word die organisasie nou in sy nuwe formaat ’n vennoot van die familieboernetwerk, Saai.

Tuks Landbou is ’n studente-organisasie wat reeds in 1980 deur studente gestig is vir huidige, oud- en toekomstige studente. Die organisasie is daartoe verbind om innoverend te wees en op ’n kompeterende wyse uitdagings van die toekoms aan te pak deur wetenskap en tegnologie in te span om werkbare oplossings te vind.

Die studente-organisasie se missie is om jong leiers te ontwikkel en aan hulle blootstelling te gee en hul prioriteit is om landbou- en landbouverwante studente op die toekoms voor te berei. Die organisasie wil ook verseker dat hulle ’n bydrae tot die winsgewendheid, volhoubaarheid en mededingendheid van Suid-Afrikaanse landbou in ’n snelveranderende omgewing kan lewer. Studente ontvang blootstelling in hul studieveld deur middel van plaaslike en buitelandse netwerkgeleenthede in die landbousektor.

’n Digitale era vir Tuks Landbou

Tuks Landbou het gaan kyk na wat die behoeftes, belange en aspirasies van ’n nuwe generasie landboustudente is en het sy aktiwiteite dienooreenkomstig aangepas. Dit sluit in blootstelling aan werks- en studiegeleenthede, toegang tot plaaslik en internasionale studiebeurse, skakeling, sosiale geleenthede, digitale debatte en projekte wat in samewerking met buitelandse universiteite en jongboer-organisasies aangebied word.

Tuks Landbou
Bernard du Preez, voorsitter van Tuks Landbou, en JW van Niekerk, SASAS Noordelike tak teken die Memorandum van Verstandhouding.

Die digitale era stel beide uitdagings en geleenthede vir kommunikasie, produksiepraktyke en bemarking daar, en dwing landboustudente om op die voorpunt van nuwe tegnologie te bly. In sy nuwe formaat boer die organisasie in die toekoms en maak ons seker dat ons toepaslik bly vir elke nuwe landboustudent.

Die konsul-generaal van Hongarye was tydens die bekendstelling teenwoordig om beurse aan te kondig. Dosente en akademici het ook tydens die bekendstelling gepraat oor hoe universiteite studente toerus om wetenskap in die vorm van kennis oor te dra en dit prakties uit te voer. Die uitdagings vir die nuwe generasie van landboukundiges om mededingend te bly, is ook bespreek. Landboubesighede, borge, lede en alumni was teenwoordig om van Tuks Landbou se splinternuwe struktuur verwittig te word.

’n Ooreenkoms met mentors

Verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Veekunde (SAVVV) se noordelike tak is opgewonde oor hul betrokkenheid. SAVVV is passievol oor die landboujeug se ontwikkeling in die bedryf en het hulself oopgestel om die studente via netwerkgeleenthede en mentorskap te help. ʼn Memorandum van Verstandhouding is tydens die bekendstelling in hierdie verband geteken.

Die bestuur van Tuks Landbou: Voor van links is Marlize Grobbelaar, Juana Gouws en Anelie Joubert. Agter van links is Stefan Corbett, Kobus Hendrikz, Bernard du Preez en Jean Brink.

Hiermee sal daar ʼn kwartaallikse mentorskapdag gehou word, waar studente advies oor werksgeleenthede kan kry en met kundiges in die bedryf kan netwerk. Tuks Landbou sal ook deelneem aan die tak se suksesvolle jaarlikse studente-netwerkingsdag.– Persverklaring, Tuks Landbou