Vir suksesvolle besproeiing is daar sekere basiese dinge wat in plek moet wees en wat ’n mens moet oorweeg:

  • Heel eerste moet daar ’n betroubare en volhoubare waterbron in die nabye omgewing wees. Vir inligting oor riviere kan die Departement van Waterwese genader word, wat volledige inligting oor die land se water het.
  • Indien bogenoemde in plek is, is die verdere voorwaarde dat die water geskik moet wees vir besproeiing. Dit beteken daar moenie te veel soute of ander skadelike elemente in die water wees nie. Dit kan in baie gevalle ’n probleem met boorgatwater wees. In damme en riviere kan ook biologiese probleme met die water wees. Om te bepaal of die water wel geskik is, sal ’n mens dit by ’n waterontledingslaboratorium moet laat toets.
  • Die tweede vereiste is dat ’n mens geskikte grond vir besproeiing moet hê. Wat hier belangrik is, is dat dit verkieslik ’n medium tot swaar tipe grond moet wees. Suiwer sand het baie min waterhouvermoë en is nie geskik vir besproeiing nie. Dan is dit ook belangrik dat die grond genoeg diepte moet hê en dat daar nie ’n beperkende laag te naby aan die oppervlakte moet wees nie. Die grond moet verder ook chemies geskik wees vir gewasverbouing. Om hiervan seker te maak, is dit nodig dat ’n paar profielgate tot ’n diepte van een meter gegrawe word, grondmonsters op ’n paar dieptes in die gat geneem word en dit deur ’n grondontledingslaboratorium getoets word. Hierdie aksie kan ook met ’n grondboor uitgevoer word, maar dit is nie heeltemal so goed as om ’n gat te grawe nie.
  • ’n Verdere vereiste wat grond betref, is die topografie van die land. Lande wat té steil is, kan nie veilig met implemente bewerk word nie. Dit skep ook drukprobleme en erosie-gevare tydens besproeiing.
  • Hoewel die klimaat nie so ’n groot beperking op besproeiing plaas as op die gewasse wat geplant kan word nie, is dit ook ’n faktor wat in ag geneem moet word. Dit het veral ’n invloed op die tipe besproeiingstelsel wat gebruik kan word. Dit is nie wenslik om ’n sprinkel-tipe stelsel te gebruik waar konstante sterk winde of baie hoë temperature is nie. Vir sulke plekke is dit eerder wenslik om drupbesproeiing te gebruik.
  • Energiebeskikbaarheid is ook ’n groot vereiste. Met deesdae se hoë brandstofkoste is dit nie ekonomies om enjins te gebruik om water te pomp nie en is dit noodsaaklik dat elektrisiteit in die omgewing beskikbaar moet wees, wat hetsy deur Eskom of deur turbines in ’n rivier verskaf word. In baie van die moderne besproeiingskemas is water onder druk beskikbaar vanuit hoërliggende damme, wat natuurlik ideaal is.
  • Eers wanneer al bogenoemde faktore in plek is, kan aan ’n besproeiingstelsel gedink word. Die belangrikste faktor wat bepaal watter tipe stelsel gebruik gaan word, is die tipe gewas wat besproei gaan word. Hier sal die kundigheid van ’n besproeiingsingenieur van onskatbare waarde wees. Wat ook hier baie belangrik is, is die beskikbaarheid van ’n verskaffer wat nie te ver moet wees nie, veral as dit kom by die naverkoopdiens van die besproeiingstelsel wat aangeskaf word.
  • Die installeerder van die stelsel is amper belangriker as die tipe stelsel. ’n Mens kan al die regte dinge in plek hê en alles van die beste hê, maar as die installering daarvan nie presies korrek gedoen word nie, gaan jy ’n stelsel hê wat jou tot in die verre toekoms oneindige probleme gaan gee.
  • ’n Faktor wat nie genoeg beklemtoon kan word nie, is dat die bestuur van die stelsel in alle opsigte korrek gedoen moet word. Besproeiingstelsels is duur en as ’n mens nie die maksimum doeltreffendheid uit die stelsel gaan kry nie, gaan jy sukkel om dit afbetaal te kry.
  • Besproeiing het ’n wetenskap geword, so ’n mens moet gebruik maak van al die besproeiings- en skeduleringshulpmiddels wat deesdae beskikbaar is. Outomatiese weerstasies is lankal nie meer ’n luukse nie, maar het noodsaaklik geword, want die besproeiingsinligting wat navorsers deesdae beskikbaar stel word alles op weerkundige data gebaseer.
  • Die nuutste neiging is om na die volkome outomatiese beheer van besproeiing oor te gaan. Hierdie ontwikkeling is deesdae so gesofistikeerd dat ’n mens op jou selfoon kan sien wat met die besproeiing aan die gang is en ’n mens kan ook besproeiingsaanpassings vanaf jou selfoon doen.
  • Die vervoer van produkte raak ’n al groter kostefaktor, so dit word sterk aanbeveel dat ’n mens die produkte eers self moet verwerk waar moontlik en dan eerder die verwerkte produkte, waarvoor jy beter pryse kan kry, na die markte stuur. – AS van Niekerk, Pr. Eng, LNR Instituut vir Landbou-ingenieurswese

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here