Agri Wes-Kaap is trots om twee Wes-Kaapse produsente baie geluk te wens wat verlede week twee gesogte landboutoekennings Wes-Kaap toe gebring het.

Wes-Kaap kraai koning

Van links na regs staan Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, Sewis van den Horst en Johan van der Schyff.

Johan van der Schyff, eierprodusent van Plettenbergbaai en die Wes-Kaap se Jongboer van die Jaar, is Donderdagaand, 7 November in Johannesburg as die Agri SA Toyota SA Nasionale Jongboer van die Jaar aangewys.

Sewis van den Horst van Villiersdorp is by dieselfde geleentheid as die New Harvest-wenner aangewys. Hy boer met nektariene, appels en pere.

Prestasies lok nuwe toetreders tot bedryf

Die voorsitter van Agri Wes-Kaap se Jongboerkomitee, PF Theron, sê die feit dat die Wes-Kaap vanjaar skoonskip gemaak het, wys dat daar geweldige kundigheid in die provinsie se landbousektor opgesluit is.

“Johan en Sewis is ware ambassadeurs vir landbou en vir die Wes-Kaap. Hulle is vernuftige, dinamiese entrepreneurs en ek glo hulle sukses en doelgerigtheid sal vir baie jongboere en nuwe toetreders tot die landbou as inspirasie dien,” het hy gesê. – Persverklaring, Agri Wes-Kaap