Tweede wolveiling van die seisoen spog met hoë verkoopspersentasie

310

Die tweede wolveiling van die seisoen het onlangs plaasgevind, met 7 578 bale wat aangebied was. Voor die veiling is 1 179 bale onttrek, met ’n algehele verkoopspersentasie van 92,21% vir die bale wat aangebied is. Naverkope het bygedra om die verkoopspersentasie op te stoot.

Fynwolverkope gee verkoopspersentasie ’n hupstoot

Die Australiese mark het met 5,9% gedaal, met ’n groter persentasie onverkoopte wol. Daarteenoor het die plaaslike mark beter gevaar, met ’n daling van 4,1%, in ag geneem dat die rand met 1,1% teenoor die Amerikaanse dollar versterk het. Dit het aanleiding gegee tot ’n verswakking van 3,1% van die plaaslike mark, uitgedruk in Amerikaanse dollarterme.

Die meerderheid van die wolveiling se aanbod het uit fynwol bestaan, wat goeie mededinging ontlok het en die algehele verkoopspersentasie opgestoot het. Kruisraswol en wol met ’n hoë saadinhoud as gevolg van die goeie reënval, is verdiskonteer.

Goeie gehalte Merinowol, en veral gesertifiseerde wol, het basies onveranderd gesluit teenoor verlede week.

Standard Wool SA, Lempriere SA, Stucken & Co en Modiano SA was van die grootste kopers op die wolveiling.

Gemiddelde pryse per kategorie

Die gemiddelde skoonwolpryse vir die seleksie binne die verskillende mikronkategorieë goeie, lang kamwoltipes (MF5) was soos volg:

  • 18 mikron daal met 1,7% en sluit teen R160,65/kg.
  • 18,5 mikron neem af met 4,8% en sluit teen R144,89/kg.
  • 19 mikron verlaag met 4,2% en sluit teen R140,65/kg.
  • 19,5 mikron verswak met 4,7% en sluit teen R135,06/kg.
  • 20 mikron is 4,8% af en sluit op R133,34/kg.
  • 20,5 mikron is 6,8% swakker en sluit op R128,80/kg.
  • 21 mikron verlangsaam met 4,2% en sluit op R129,92/kg.
  • 21,5 mikron het 6,8% afgeneem en sluit op R129,14/kg.
  • 22 mikron daal 9,5% en sluit op R125,50/kg.
  • 22,5 mikron is 10,3% swakker en sluit op R120,42/kg.

Die volgende wolveiling is vir 2 September 2020 geskeduleer, waar ongeveer 10 191 bale aangebied sal word. Cape Wools SA

Besigtig die verkope van laasweek se wolveiling hier.