Die koste verbonde aan mastitis word maklik onderskat. Dit veroorsaak astronomiese verliese in melkkuddes en is die grootste rede waarom melkkoeie uitgeskot word. So sê drr Willem Schultheiss en Adel de Haast van MSD Dieregesondheid in ’n artikel getiteld “ ’n Strategie om sub-kliniese mastitis te voorkom”.

In die artikel verskaf hulle ’n tienpuntplan om subkliniese mastitis te voorkom:

  1. Voeding: ’n Verlies aan kondisie voor kalwing en oormatige verlies aan kondisie daarna, wat die gevolg is van ’n ernstige energietekort, is die grootste oorsaak daarvan dat die eerste lyn van verdediging (witbloedselfunksie) in die speenkanaal faal en bakterieë ’n vastrapplek in die uier kry. Peri-partale voedingsbestuur en rantsoensamestelling is van kardinale belang.
  2. Omgewingshigiëne, behuising en koeigroepering om stres te beperk: Stres veroorsaak hoër kortisolkonsentrasies in die bloedstroom en ondermyn siekteweerstand. Modder, koue en nat toestande lei tot die opbou van bakterieë in die omgewing en wanneer die groepsamestelling daarmee saam voortdurend verander, raak beeste en koeie baie meer vatbaar vir mastitis.
  3. Funksie van die melkmasjien: Drukverhoudings (hoë melklyn 48-50kPa en lae melklyn 40-44kPa) behoort gemonitor te word, omdat afwykings skade aan die speenopening en -kanaal sal veroorsaak, wat weer tot mastitis aanleiding kan gee. Speenhulse behoort gereeld vervang te word en die melkmasjien moet ten minste twee keer per dag met die regte wasmiddels skoongemaak word om melkskaal te help voorkom.
  4. Melkroetine: Vuil spene moet afgewas word en met papierhanddoeke vir elke individuele koei afgedroog word. Die tyd wat dit neem om die laatsakrefleks toe te laat om voldoende melk in die speenkanaal in te laat, is ongeveer 60 tot 90 sekondes. Indien kloustukke aangesit word voordat voldoende melk in die speenkanaal teenwoordig is, sal die speenkanaalopening en wande beskadig word en sal die somatiese seltelling hoog wees. Voormelk-sifbekerevaluasie en “stroping” behoort nie deur dieselfde persoon uitgevoer word nie, omdat die gevaar dan bestaan dat die kloustuk daarna te gou aangesit word.
  5. Na-melking speendoop: Omdat die speenopening nie onmiddellik ná die melkproses sluit nie, is dit belangrik om ’n speendoop ná melking toe te dien, wat die speenopening seël om sodoende te voorkom dat stygende infeksies die uierweefsel bereik.
  6. Droëkoeiterapie: Die belangrikste aspek hiervan is dat die konsepsiedatum bekend sal wees sodat die korrekte opdroogdatum bepaal kan word. Die meeste uierinfeksies kom voor kort ná opdroog en weer kort voor of kort ná kalwing. Die optimale droë tydperk is 60 dae, wat die nodige veiligheidsgrens van vroeër kalwing insluit. In hierdie tyd kry die rumen en uierweefsel tyd om te herstel van die vorige laktasie se metaboliese vereistes. Uitstekende langer- en korterwerkende droëkoeipreparate bestaan om die risiko van subkliniese mastitis te help voorkom tydens die tydperk met die hoogste risiko.
  7. Behandeling van kliniese gevalle: Die beste behandeling is gereelde uitmelk vier of meer keer per dag, waarna ’n antibiotikasalf in die speen ingespuit word nadat die speenopening deeglik ontsmet is. Die keuse van antibiotika moet gebaseer word op sensitiwiteitstoetse en nie noodwendig net op die prys daarvan nie. Die melkonttrekking ná die laaste behandeling moet gerespekteer word om antibiotikum-residue te voorkom. Die eenmalige toediening van ’n anti-inflammatoriese middel sal die genesingsproses bespoedig – die onttrekkingstyd hiervoor val in elk geval saam met dié van die antibiotikum.
  8. Rekordhouding: Vandag is kuddes groter en elektroniese programme is dus onontbeerlik vir rekordhouding.
  9. Monitering van somatiese seltelling (SST): Die SST is die barometer van uiergesondheid en die venster van kuddebestuur. ’n SST hoër as 250 000 selle/ml melk dui daarop dat melkopbrengs laer is.
  10. Biosekuriteit: Dit is baie belangrik dat kwartmonsters van elke vers of koei wat ingekoop word, gekweek word om vas te stel wat die draerstatus is ten opsigte van Staphylococcus aureus (STA). Nuut-ingekoopte koeie moet in ’n vliegvrye kwarantyngebied gehou word totdat die uitslae van alle toetse beskikbaar is. Let daarop dat vlieë bakterieë van die speenopening na kuddemaats kan oordra.

Toets reg, behandel reg

Die korrekte meting van die somatiese seltelling is die kern waarop doeltreffende mastitisbeheer geskoei is, volgens dr Inge-Marié Petzer van die Fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria in ’n artikel genaamd “Toets reg, behandel reg”.

Sy sê die California Milk Cell Test (CMCT) is ’n chemiese toets wat die SST in melk semi-kwantitatief bepaal. Die toets reageer op die DNS in die nukleus van die melkselle. ’n Merkbare verandering in die viskositeit van die melk is ’n aanduiding van hoër SST. Hoe meer selle teenwoordig is, hoe meer kenmerkend is die viskositeit.

Daar is twee gebruike vir die CMCT ná behandeling – om aan te dui wanneer die SST laag genoeg is om na die melktenk te stuur en om te sien of die koei mastitis-vry is ná behandeling. Ná intra-uierbehandeling sal die SST in die behandelde kwart vir ’n geruime tyd hoog bly weens die irritasie wat die behandeling veroorsaak. Dit kan die CMCT-lesing vir tot drie weke ná behandeling beïnvloed.

’n Positiewe CMCT-lesing drie weke ná behandeling kan aandui dat die behandeling nie werk nie. Een negatiewe CMCT-lesing drie weke ná behandeling sal egter nie waarborg dat die kwart vry is van bakterieë nie. Indien opvolg-CMCT-lesings elke twee weke negatief bly, is die kans goed dat die koei wel genees is.

Bepaal die tipe behandeling

Lakterende koeie kan tydens die laaste melking voor afdroging getoets word. As die data met die CMCT-lesings tydens die vierde tot sesde melking ná kalwing vergelyk word, is vier resultate moontlik.

Resultaat 1: Die kwart was positief met afdroging en negatief tydens kalwing, wat dui op genesing te wyte aan droë behandeling of spontane genesing.

Resultaat 2: Die kwart was positief tydens afdroging en is steeds positief met kalwing. Daar kan twee redes hiervoor wees:

  • Die kwart het steeds dieselfde infeksie as tydens afdroging en die behandeling is onsuksesvol. Dit kom algemeen by koeie voor wat met STA besmet is.
  • Die uier is genees, maar is voor kalwing weer deur ’n ander organisme aangetas.

Die enigste manier om tussen die twee bevindings te onderskei, is om monsters te neem van CMCT-positiewe kwarte tydens afdroging en weer tydens kalwing. As die kwarte wat tydens afdroging positief getoets het ook positief is tydens kalwing, kan die kwarte kronies aangetas wees en nie op behandeling reageer nie. Koeie wat deur die droë tydperk kronies aangetas bly, moet tydens melking afgesonder word. In so ’n geval is die organisme waarskynlik STA, wat nie op droëkoeibehandeling reageer nie. Dit sal ook nie op enige ander behandeling reageer nie.

As ’n hoë persentasie koeie nie op droëkoeibehandeling reageer nie, is ’n verandering in die droëkoei-antibiotika dalk nodig. Hou aan om die CMCT-lesings te meet tydens afdroging en dit met die lesings ná kalwing te vergelyk. Minstens 50 aangetaste koeie is nodig om ’n beslissing oor die doeltreffendheid van die nuwe antibiotika te maak.

Resultaat 3: ’n Kwart toets CMCT-negatief tydens afdroging en positief tydens kalwing. Dit beteken die koei is tydens die droë tydperk of tydens kalwing aangetas. ’n Hoë persentasie nuwe infeksies tydens die droë tydperk impliseer omgewingsorganismes. ’n Oplossing hiervoor is om die sanitasie van koeie te verbeter.

Resultaat 4: ’n Kwart toets negatief tydens afdroging en is steeds negatief tydens kalwing. Dis waarna boere moet streef. –Izak Hofmeyr, Veeplaas

Verwysings is by die outeur beskikbaar by 082 402 4494 of izak@veeplaas.co.za.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here