Uitbrekings van Afrika-varkpes neem toe in Suid-Afrika

204
Afrika-varkpes
In terme van die onlangse uitbreking in die Potchefstroom-distrik, is dit in die stadium onduidelik wat die bron van besmetting was, maar dit blyk beweging van mense te wees. Foto: Christal-Lize Muller.

Die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie (Savpo) het sy kommer aangaande die toename in Afrika-varkpes (AVP) in die land uitgespreek. Johann Kotzé, uitvoerende hoof van dié organisasie, sê voorvalle vind nou vinniger plaas. Daarmee saam word meer varke in die land nou besmet, en besmetting word in meer provinsies buite die AVP-kontrolesone aangemeld.

Die rooi lig flikker ook nadat AVP laat verlede jaar by ʼn kommersiële eenheid in die westelike gedeelte van Gauteng, voorgekom het. Meer as 9 000 varke moes van kant gemaak word. Volgens Kotzé is dit sover die eerste bekende geval in Suid-Afrika waar AVP op ʼn kommersiële varkeenheid aangemeld is. Dít te midde van ʼn geval wat twee weke gelede op ʼn plaas buite Potchefstroom bevestig is, waar die boer bykans 100 besmette varke verloor het. Dit was die eerste geval wat vanjaar in Noordwes voorgekom het.

Kotzé meen dit is belangrik dat die bedryf deurlopend biosekuriteitsmaatreëls toepas, maar dit is ʼn uitdaging in kleiner eenhede waar daar met varke geboer word. Ondanks hierdie uitdagings, is verskeie strategieë in plek gestel. Konsepte word ook ten opsigte van hierdie maatreëls getoets, om seker te maak die virus versprei nie verder op ’n plaaslike vlak nie. Hy sê ondoeltreffende bestuur van AVP kan negatiewe gevolge op ʼn land se hele bedryf hê, en hy verwys na China waar die virus die helfte van die land se sôe (sowat 20 miljoen), uitgewis het.

Afrika-varkpes in Potchefstroom

Verder sê Kotzé die geval in Potchefstroom is nie by ʼn kommersiële eenheid aangemeld nie. Dr Peter Evans, ʼn veearts aan die stuur van verbruikerssekuriteit by Savpo, sê hulle het twee weke gelede van die geval kennis geneem. Sowat 15 varke het toe reeds gevrek, en nog 15 het gevrek voordat die kudde van kant gemaak is. Hy sê voor die uitbreking op die kommersiële eenheid aan die einde van November 2020, was daar in die westelike gebied van Gauteng sowat 18 kleiner uitbrekings by geriewe waar kleiner getalle varke aangehou word.

Dr Evans meen daar was die afgelope twee jaar ʼn toename in uitbrekings buite die gekontrolleerde sone, wat ʼn gedeelte van Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en ʼn deel van KwaZulu-Natal insluit. Uitbrekings is ook in die Oos-Kaap en Vrystaat aangemeld.

Kotzé sê in terme van die onlangse uitbreking in die Potchefstroom-distrik, is dit in die stadium onduidelik wat die bron van besmetting was, maar dit blyk beweging van mense te wees. ʼn Buurman wie ook met varke boer en spekuleer deur diere op veilings te bekom, het vrektes onder sy kudde waargeneem.

Kotzé meen veilings is die grootste bron van ongereguleerde biosekuritiet. “Die enigste wyse waarop AVP bestuur kan word, is deur goeie biosekuriteitsmaatreëls en op veilings is dit ongelukkig nie die geval nie,” sê hy. Beweging van diere is ʼn groot oorsaak van die verspreiding van AVP. By die betrokke eenheid in Potchefstroom was daar nie ʼn voldoende heining gewees waar die diere aangehou word nie, en toegangsbeheer is nie voldoende gereguleer nie. Die voer wat toegedien is, was ook nie gesertifiseer nie, wat die risiko aan blootstelling vergroot het.

Korrekte bestuur

Volgens Kotzé is dié Potchefstroom-eenheid onder kwarantyn geplaas en het die staat ingetree. Daar is ooreengekom oor hoe die proses bestuur gaan word. Hy sê besmette vleis is bruikbaar en het nie ʼn negatiewe uitwerking op die mens nie, maar die besmette diere moes van kant gemaak word om varkkuddes in omliggende gebiede te beskerm.

 ʼn Geskikte plek is uitgewys om die dooie varke te begrawe. Die nodige regulasies is nagekom en ontsmetting met die toediening van onder meer kalk, is gevolg. Dit neem sowat drie maande voordat klein varkies weer op die perseel geplaas kan word nadat toetse eers gedoen word, om vas te stel of die virus steeds op die spesifieke perseel teenwoordig is.

Kotzé sê die toepassing van korrekte biosekuriteitsmaatreëls is meer uitdagend vir kleiner boere. Dit gaan oor die ekonomie van skaal. Dit is duur vir kleiner produsente om die korrekte maatreëls te volg. “Ons sit met ongereguleerde produksiestelsels in Suid-Afrika en dit bly ʼn risiko vir selfs die gereguleerde stelsel.”

Die uitdaging is dus om seker te maak gereguleerde stelsels en selfs kleiner stelsels fokus daarop. Daar is sekere metodiek wat gevolg moet word. Onder andere moet toegangsbeheer toegepas word om blootstelling van varke te verhoed, voetbaddens moet beskikbaar wees vir mense om hul voete te steriliseer, en hande moet gewas word. – Christal-Lize Muller, AgriOrbit