Verskeie uitheemse kaktusspesies is vinnig besig om veld te wen in dor, oorbeweide en geërodeerde gebiede in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap.

Volgens Ken Coetzee van Conservation Management Services in George kom ’n groot verskeidenheid kaktusspesies in Suid-Afrika voor, maar tien spesies word veral uitgesonder as indringerplante omdat dit oral in die land bestaande of potensiële indringers is wat veld inneem.

Ingevolge die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne, 1983 (Wet 43 van 1983) en die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en Biodiversiteit, 2004 (Wet 10 van 2004) word hierdie plante as pesplante geklassifiseer, wat boere verplig om dit te beheer en verkieslik uit te roei. Dit mag nie verhandel of aangeplant word nie. Indien die plante in ’n tuin staan en die eienaar voorkom dat dit vermeerder of versprei, mag dit wel aangehou word.

Voortplanting en verspreiding

Buiten die turksvy en doringlose turksvy, is al hierdie kaktusspesies ingevoer as sierplante vir tuine, maar mettertyd het die indringerspesies uit die tuine ontsnap en groot gebiede ingeneem waar die veld oorbewei en verarm is en gronderosie voorkom.

Ten spyte daarvan dat al hierdie spesies as indringer-pesplante gekategoriseer word en die verkoop en aanplant daarvan onwettig is, word dit steeds by kwekerye en selfs op die Internet te koop aangebied. Dit kom ook volop voor in voorstedelike tuine en in vetplantliefhebbers se versamelings.

Die top tien booswigte is:

Gewone turksvy

Turksvye is afkomstig uit Mexico, vanwaar dit na die Mediterreense streek, Midde-Ooste en Noord-Afrika versprei het, waar die vrugte geëet en die blare as veevoer gebruik word. Die dorings op die blare maak daarvan ’n ondeurdringbare heining, en dit word ook aangeplant om verwoestyning te stuit. Die turksvy kom tans oral in warm, droë streke voor, asook wyd in Suid-Afrika en Namibië.

Doringlose turksvy

Die doringlose turksvy, wat ook uit Suid-Amerika afkomstig is, vervuil waar dit toegelaat word en moet beheer word. Versagtende omstandighede vir die turksvy is die waarde daarvan as veevoer, wat deur die Universiteit van die Vrystaat nagevors word.

Litjieskaktus

Die litjieskaktus is uit Suid-Amerika afkomstig. Dié laaggroeiende kaktus, waarvan die stam uit segmente bestaan, versprei nie deur saad nie, maar deur stukkies van die plant wat maklik afbreek en versprei. Die venynige dorings sit vas aan mens en dier, veral wolskape, wat die waarde van die wol verlaag. Uiteindelik raak die besmetting so erg dat daar nie verder op die plaas met skape geboer kan word nie. Digte stande kom veral in die Oos-Kaap voor, maar ook in die ander provinsies, behalwe die winterreënvalstreke van die Wes-Kaap.

Suurturksvy

Die suurturksvy, wat van Noord-Amerika en die Wes-Indiese Eilande afkomstig is, bedreig die Karoo en grasveld in al die provinsies. Bobbejane en olifante is lief vir die ryp vrugte en versprei so die saad, maar blaaie wat afbreek groei net so maklik. In Suid-Afrika is dit ’n pesplant wat bestry moet word deur dit te verwyder of te vernietig, en jy mag glad nie daarmee smous of dit plant nie.

Haasoortjies

Dié kaktus met sy klossies kort, geel dorinkies op die blaaie is afkomstig uit Noord-Mexico, en is ’n probleemplant in die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Noord-Kaap en Gauteng. Dit word maklik versprei deur water, diere, mense en voertuie. Die plant bedreig inheemse spesies en die digte stande onder bome ontneem vee van skaduwee in die somer. In erge gevalle neem dit weiding in droë gebiede in en verlaag die grond se waarde.

Kruipkaktus

Die kruipkaktus is van Noord- en Sentraal-Amerika, en veral die suidwestelike VSA en Mexico, afkomstig. Dit het ’n lae, spreiende groeivorm van sowat 30cm hoog. Dit is doringloos, het klein gepunte blare, groot goudgeel blomme en rooi of pers vrugte in die somer. Dit versprei deur saad en is oral in Suid-Afrika ’n probleem.

Imbrikaatkaktus

Die imbrikaatkaktus is van Sentraal- en Noord-Mexico en die suidelike dele van Amerika afkomstig. Dit is baie moeilik om die plant uit te roei as dit eers gevestig is, want elke stukkie wat afbreek vorm ’n nuwe plant. Geen chemiese onkruidbeheer help nie, en al genade is biologiese beheer deur die skarlakenluis.

Bokshandskoen-kaktus

Die bokshandskoen-kaktus is inheems aan die suid-sentrale deel van Arizona in Amerika. Dit kom wydverspreid in die droë Noord- en Oos-Kaap, Limpopo en Namibië voor. Die kaktus word 1 tot 1,5m hoog en plant vegetatief voort wanneer die eindpunte afbreek en naby die moederplant wortel skiet, of deur water en diere versprei word. Die skerp dorings beseer mens en dier en verminder grond se waarde drasties.

Orrelkaktus

Die orrelkaktus is inheems aan die westelike dele van Argentinië, maar is wêreldwyd gewild as potplant of in rotstuine. Die regop, doringrige en ronde stam is kenmerkend, asook die roomwit blomme van sowat 15cm in deursnee, wat in Junie en Julie in die nag blom. Die orrelkaktus is veral ’n probleem in die Oos-Kaap en Karoo, waar dit die turksvy vervang het en as die grootste probleemplant-besmetting beskou word.

Dennebol-kaktus

Die dennebol-kaktus lyk nie soos ’n tipiese doringagtige kaktus nie, maar eerder soos gestapelde dennebolle. Dit is uit die westelike dele van Argentinië afkomstig. Die plant word sowat 30cm hoog en dra wit blomme. Die kurkagtige, gevlerkte sade word deur wind en water versprei, en die plant kom voor langs droë lope en seisoenale waterstrome, dreineringslote en waar die mens die omgewing versteur het. Dié probleemplant is besig om vinnig veld te wen in die Wes- en Noord-Kaap.

Vat hulle vas

Die biologiese beheer van turksvye en ander kaktusspesies berus op die verskillende spesies skarlakenluis, wat uit Sentraal en Wes-Argentinië oor Australië hierheen versprei het. Die luis, wat vir die eerste keer in 1970 in Suid-Afrika vrygelaat is, beheer die turksvye en ander kaktusse waar dit nie te koud en nat is nie. In koue, nat gebiede, soos die Wes-Kaapse winterreënvalstreek, moet van chemiese onkruiddoders gebruik gemaak word.

Die kaktusmot, waarvan die larwes die blaaie ook van binne af opvreet, help ook in ’n geringe mate om kaktusse te beheer.

Ken het saam met Wally Stroebel van Soil Conservation Services (SCS), ’n nuwe afdeling van Conservation Management Services, ’n plan bedink om deur middel van biobeheer met kaktusse klaar te speel. Hulle bou ’n tydelike kweekhuisie van plastiek in besmette veld, waar gesonde en skarlakenluis-besmette blaaie in emmers geplaas word. Sodra al die blaaie besmet is, word dit in die kaktusboord neergesit en nog gesonde blare word saam met besmette blare in die emmers geplaas om die proses te herhaal. Dit duur sowat twee jaar voordat die skarlakenluis al die plante vernietig.

SCS het ook die dienste van Tomcat Chippers in Worcester bekom, wat ’n mobiele diesel-kapmasjien het wat vinnig klaarspeel met enige digte stande ongewenste kaktusse. Die fyngekapte kaktusblare en stamme kan as deklaag gebruik word om erosie te keer en arm grond te verryk sodat weiding en inheemse plante kan hervestig. Die vrugte word afsonderlik behandel om te voorkom dat die plante deur saad versprei.

Vir meer inligting, kontak Ken Coetzee by 044 870 8472, 076 227 5056 of consken@mweb.co.za. – Tisha Steyn, Veeplaas

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here