Met uitgebreide geneties meerderwaardige koeifamilies en bulle met bewese prestasies, produseer Dreyer van Zyl, die Suid-Afrikaanse wildteler van die jaar vir 2018, diere wat uitstekend aangepas is sodat hulle met baie min byvoeding, gesogte teel- en trofeediere op natuurlike weiding kan lewer.

’n Stewige fondament is oor dekades met noulettende seleksie in dié wildboerdery naby Kimberley gelê, waar hoofsaaklik bastergemsbokke, swartwitpense en buffels geteel word. Die onderneming word nou deur Dreyer se skoonseun en dogter, drs Greg en Anndri Garrett, albei veeartse, na ’n nuwe vlak van prestasie geneem.

Hul oogmerk is om diere aan die stoetbedryf te lewer wat telers kan help om geneties te vorder en veral trofeediere vir die jagbedryf beskikbaar te stel wat die wêreld se voorste toegewyde jagters na die land kan lok.

Belangstelling in diereteelt

Dreyer het in die omgewing van Potgietersrus (Mokopane) grootgeword, waar hy later met beeste en graan geboer het. Hy het weens toenemende arbeidseise besluit om sy boerdery te verkoop en het die plaas Hartenbosch naby Mosselbaai gekoop, waar hy sy belangstelling in diereteelt inspan om wild te teel.

Hartenbosch was die eerste plaas in die Suid-Kaap waarop siektevrye buffels geteel is. Mettertyd het hy die plaas Brakpan naby Kimberley aangeskaf, waar swartwitpense en bastergemsbokke geteel word en waarheen die buffelteeltrop ook onlangs oorgeplaas is.

Nadat Anndri haar opleiding as veearts voltooi het, het sy in Engeland gaan werk. Sy en Greg het mekaar op ’n ski-uitstappie in Italië ontmoet, getrou en met hul terugkeer na Suid-Afrika ’n praktyk in Groot-Brakrivier gevestig. Hulle het die praktyk in 2014 verkoop en na die plaas Brakpan in die Kimberley-distrik verhuis om die wildboerdery se bestuur oor te neem.

Potensiaal van bastergemsbokke

Dreyer het in die vroeë negentigerjare bastergemsbokkoeie uit Malawi bekom waarmee hy begin woeker het. “Dié vertakking van die boerdery het byna doodgeloop toe die vraag ontstaan het of hierdie subspesie inheems aan Suid-Afrika is en ’n moratorium op die verhandeling van dié diere geplaas is,” verduidelik hy.

Dreyer het as tiener die geraamte van ’n bok in ’n diep grot op hul familieplaas naby Potgietersrus gevind, wat hy toe met behulp van ’n boek as ’n bastergemsbok geïdentifiseer het. “In 2000 is van die bene deur die WNNR ontleed en die ouderdom en DNS daarvan het bewys dat dié bokke in die gebied voorgekom het voordat die eerste wildheinings gespan is.”

Anndri sê hulle het met die ontploffing van wildpryse ’n konserwatiewe benadering gevolg. “Ons het eerder staatgemaak op streng deurdagte seleksie as om windmakerige pryse vir teeldiere te betaal, met die uitsondering van uitstaande teelbulle.” Met die aankoop van diere is seleksiemaatstawwe gebruik om hul teeldoelwit te bereik, naamlik om aangepaste en geneties meerderwaardige diere te teel.

Uitstekende horinglengtes

Die DVZ-telery het die afgelope sewe jaar 13 verskillende bastergemsbokbulle met horinglengtes bo 30 duim gebruik. Ses van hierdie bulle is self geteel, en nog vier is afstammelinge van die bekende bul, Merlin, wat ook deur Dreyer geteel is. Agt van die bulle het lengtes bo 32 duim.

Anndri glo hul grootste prestasie met die swartwitpense is die goeie gemiddelde horinglengte van hul kudde en die uitstekende aanpasbaarheid van die diere op die veld, met minimale byvoeding.

“Ons glo dit gaan met die huidige meer realistiese wildpryse al moeiliker raak om wild volhoubaar winsgewend in klein kampies aan te hou, waar hulle ruvoer en ’n volvoerrantsoen moet kry. Sedert ek en Greg aan die stuur is, het ons elke jaar minder gevoer. Ons het vanjaar eers op 20 Junie met byvoeding begin. Dit behels dat ’n koei met ’n ses maande oue kalf drie keer per week 1,2kg selfgemengde, ureumbevattende voer kry, ten spyte van die swak reënseisoen,” vertel sy.

Genetiese eienskappe

Uitmuntende genetiese eienskappe wat deur die stambome van diere gerugsteun word, is vir hulle belangrik. Hulle gebruik sedert 2012 die Cattlemax-sagtewareprogram, wat vir Texas se Longhorn-beeste ontwikkel is en voorsiening maak vir die maklike aantekening, verwerking en benutting van diere se horinglengtes.

Anndri se rekords van al die swartwitpense en bastergemsbokke op dié stelsel word verder aangevul met meer as 50 000 foto’s van diere wat tydens verskillende groeistadiums geneem is. “Hoe meer gegewens ek so aanteken, hoe meer akkuraat raak die onderskeie diere se teelwaardes.”

Haar waarneming is dat geneties meerderwaardige bulle ’n baie groot bydrae tot die hele kudde se genetiese verbetering lewer, aangesien hulle 20 tot 40 koeie dek.

Sy glo egter te min aandag word aan koeilyne gegee. “Ons het byvoorbeeld ’n koei uit ’n besondere swartwitpenskoeilyn, wat van parings met bulle met horings van 42½ duim en 44 duim seuns geteel het wat almal horings van 47 duim en langer het.”

Die eerste twee swartwitpensbulle met horings langer as 48 duim wat hulle geteel het, kom uit hul Meros-bloedlyn. Daar is ook een koei in die bastergemsbokkudde wat drie seuns geproduseer het met horings van onderskeidelik 33, 32 en net meer as 31 duim.

Seleksie van vroulike diere

Volgens Anndri word die seleksie van vroulike diere omsigtig gedoen. “Daar word na die drakrag van die veld en aanwas gekyk. Dan word ’n berekening gedoen van hoeveel diere gehou en vervang kan word sonder om die natuurlike hulpbronne onder druk te plaas.

“Verse sonder sigbare tekortkominge word gehou tot hulle sowat drie jaar oud is en begin kalf. Dan soek ons dié uit wat in die kudde opgeneem gaan word, dié wat verkoop kan word en dié wat geslag moet word,” sê sy.

Die swartwitpense is in vyf koeitroppe verdeel en die bastergemsbokke in drie. Elke drie jaar word nuwe bulle ingebring om te verhoed dat ’n bul sy eie dogters dek. Daar is nou genoeg swartwitpensbulle om grootliks in hul eie behoefte te voorsien en inteling te systap.

Welslae by veilings

Tot dusver is diere hoofsaaklik uit die hand verkoop, maar met die hoë gehalte teel- en jagdiere wat hulle deesdae teel het hulle veilings begin benut. Dat hulle welslae behaal, word weerspieël deur die feit dat ’n bastergemsbokbul uit die kudde vanjaar in April op die KWG-groep se veiling vir R875 000 verkoop is. Suiwer Malawiese bastergemsbokkoeie is vir gemiddeld R85 000 verkoop, met toppryse van R145 000.

Anndri is opgewonde oor die toekoms. “Dit is nie vir jagplase moontlik om al hul trofeediere self te teel nie. Jagters raak meer kieskeurig en dit bied aan wildtelers die geleentheid om realistiese pryse vir hul meerderwaardige diere te kry en volhoubaar met wild te kan boer,” sê sy. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Anndri Garrett by 072 080 3883 of stuur ’n epos aan info@dreyervanzyl.com.