Die hoogste prys van R52 000 is vir dié silwer ram van Eric Naudé aangebied tydens die 54ste Geelbek Elite-veiling. Op die foto is Pierre Rust, koper, en Eric Naudé, verkoper. Die mede-koper, Michael Dippenaar, was afwesig.

Geelbek Elite Merino’s se 54ste produksieveiling op die plaas Leopardsvlei, tussen Middelburg en Richmond, het vanjaar heelwat nuwe kopers verwelkom. Almal was dit eens dat die gehalte van Stefan en Eric Naudé, wat die veiling gesamentlik aangebied het, se Merino-ramme besonders was.

Die aanbieding van 79 ramme is almal teen ’n gemiddelde prys van R15 300 verkoop. ’n Silwer ram van Eric Naudé het vir die hoogste prys van R52 000 gesorg, wat deur Pierre Rust van Britstown en Michael Dippenaar van Swellendam aangebied is. Die tweede hoogste prys van R42 000, ook vir ’n ram van Eric Naudé, is deur Louwrens en Pieter de Jager van Brummersdam Boerdery by Philipstown aangebied.

Jacques Esterhuysen van Britstown het ’n silwer ram vir R35 000 by Stefan Naudé gekoop, terwyl Toit Lötter van Pearston ’n poenskopram vir dieselfde prys, ook by Stefan Naudé, gekoop het.

Altesaam twaalf ramme op die veiling is vir meer as R20 000 elk verkoop.

Volgens die Naudé-familie is dit betekenisvol om te weet dat die prys van kudderamme in die verlede oor ’n tweejaarsiklus gestyg  het, en hulle skryf die noemenswaardige styging toe aan vanjaar se merkwaardige styging van wol- en vleispryse. – Carin Venter, Veeplaas