Charles Fitzhenry van AC Fitzhenry & Son is tydens ’n glansgeleentheid in Aberdeen op Donderdagaand, 29 November, as die wenner in die Japanse Daidoh-kompetisie vir die beste somerkleinbokkiehaarskeersels aangewys.

’n Trofee en kontantprys word jaarliks aan die produsent toegeken wat sy somerkleinbokkiehaarskeersel teen die hoogste gemiddelde prys op sybokhaarveilings verkoop het. Gewoonlik is dit die eerste skeersel van ’n Angorabok, en dus die fynste en sagste sybokhaar op die mark.

In ’n brief wat tydens die geleentheid in Aberdeen gelees is, het die president van Daidoh, Shin Okawa, die wenners geprys en bedank vir hul deurlopende harde werk om so ’n goeie produk aan die internasionale mark te verskaf.

Die Daidoh-trofee-kompetisie word sedert 1992 deur Daidoh, wat bekend is vir die hoë gehalte klere wat hulle vervaardig, in samewerking met Sybokhaar Suid-Afrika, aangebied. Daidoh is veral bekend vir hul manspakke van geweefde kleinbokkiehaar.

Volgens Sybokhaar Suid-Afrika moedig die kompetisie produsente aan om die gehalte van Suid-Afrikaanse vesel te verbeter.

Vir meer inligting, skakel Riaan Marais, media- en kommunikasiebeampte by Sybokhaar Suid-Afrika, by 041 581 1681 of stuur ’n epos aan riaan@mohair.co.za. – Carin Venter, AgriOrbit