Met die droogte wat tans groot dele van die land teister en bloot motreën wat hier en daar val, is die vraag tans op menige blomkyker se lippe – gaan daar vanjaar blomme wees in die blomseisoen? Volgens Mike Spies, eienaar van Namakwa Toere kan ’n goeie blomseisoen verwag word.

“Namakwaland is ’n streek wat nooit teleurstel in die blomseisoen nie. Die streek het meer as 3 500 verskillende spesies blomme wat elke jaar blom. Die blomme bly nooit weg nie en die reën ook nie. Die reën raak soms minder, maar bly nooit weg nie,” sê Mike. Bo en behalwe die Namakwalandse blomme, spog die omliggende streke soos die Bokkeveld, die suidelike dele van die Weskus en Sederberge ook met hul eie blomtapyte.

“Ons verwag ’n uitstekende blomseisoen, ondanks die droogte. Een ding wat mens altyd moet onthou, is dat in sommige plekke meer as 40 000 sade per vierkante meter is. En hierdie sade kan die droogte weerstaan. Al het die sade reeds ’n paar jaar gelede geskiet, kan hulle vanjaar ontkiem as die omstandighede gunstig is. Ons verwag ’n uitstekende blomseisoen. – Persverklaring