Unicom Braunvieh-kudde groei van krag tot krag

1099
Unicom se span tydens vanjaar se Braunvieh-kampioenskap by die Bloemskou.

Die Veeplaas Unicom Braunviehstoet word sedert 2017 by Unicom Sekondêre Landbouskool naby Tweespruit gehuisves. Dié projek, wat deel is van die Veeplaas Skole-kuddeprojek, het in 2017 tydens die Bloemskou in Bloemfontein afgeskop toe diere simbolies aan die skool oorhandig is. Sewe verse wat aan die skool geskenk is en vier vroulike diere wat die skool gekoop het, is in Julie 2017 op hul perseel afgelaai.

Braunvieh-telers wat diere geskenk het, was Gawie Naudé, Fanie Els, Leon Strauss, Kobus Bezuidenhout, Hans Bester, Christopher Havenga en Sampie Rossouw.

Die skool het op 20 Augustus 2017 saam met Braunvieh SA ’n boeredag gehou. Borge betrokke by die dag was AFGRI Veevoere, Zoetis, Standard Bank en OVK. Een van die telers, Kobus Bezuidenhout, het die leerlinge gehelp om die diere skougereed te kry.

Deelname aan skoue

Die skool het in September 2017 aan sy eerste skou by ALFA in Parys deelgeneem. Hulle het ’n eerste plek in die interraskompetisie behaal met ’n vers genaamd Riana, wat van Hans Bester afkomstig is.

Die eerste kalfie, Dawid, is op 16 Oktober 2017 gebore. Sy moeder is Happely, ’n koei wat van Christopher Havenga afkomstig is. Die bulletjie het baie mooi ontwikkel en later die leerlinge se gunsteling dier geword vir deelname aan jeugskoue. Hy het ongelukkig einde verlede jaar gevrek nadat ’n pofadder hom gepik het.

Die leerlinge het die afgelope twee jaar aan al die jeugskoue in die Vrystaat deelgeneem. Hoogtepunte was hul deelname aan jeugskoue by Landbouskool Hendrik Potgieter in Reddersburg en Hoërskool Kroonstad (die Blouskool) in Kroonstad.

Uitstekende prestasies

Die skool het in 2018 die eerste keer aan die raskampioenskap by die Bloemskou deelgeneem. Hulle het twee tweede plekke behaal met Happely en Sindy, wat van Eduan Boerdery afkomstig is.

Hulle het in 2019 drie eerste plekke in hul klas behaal met Happely in die klas vir koeie van ses tot tien jaar, Sindy in die klas vir koeie van 24 tot 30 maande en Judy, ’n kalf wat uit die projek gebore is, in die klas vir verse van 15 tot 18 maande.

Ntsane Nkopane met Happely, die koei wat ’n eerste plek verwerf het in die klas vir koeie van ses tot tien jaar.

Die skool het aanvanklik slegs kunsmatige inseminasie gedoen. Hulle het egter in 2018 die bul, Manifest, by Eduan Boerdery gekoop. Manifest se eerste kalwers wat aangekom het, lyk belowend.

Die skool se kudde bestaan tans uit 23 diere en hulle gaan steeds van krag tot krag. Fanie Els mentor die projek namens Braunvieh SA en Sunette Botha help spesifiek met skoue. – Francois Hattingh, skoolhoof, Unicom Sekondêre Landbouskool

Vir meer inligting, skakel Unicom Sekondêre Skool by (051) 963 0013 of stuur ’n epos aan unicom-hs@mwebbiz.co.za.