Dit is alles net genade, sê die bekende en bekroonde veearts, dr Faffa Malan, nadat hy nog ’n toekenning gekry het vir sy diens aan die veeboere van Suid-Afrika en die wêreld. “Elke toekenning is uniek, verdien ’n plek in ’n mens se hart en maak die poging wat jy aangewend het om ’n verskil te maak die moeite werd,” sê hy.

Volgens Neville Raath, voorsitter van die beeldbou-komitee van die Vrystaatse tak van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het dié organisasie besluit om dok Faffa te vereer en hulde te bring aan die uitmuntende werk wat hy oor baie jare vir die veebedryf gedoen het. Dit is die eerste keer dat so ’n toekenning gemaak word en dit sal nie maklik herhaal word nie. Die toekenning is in Bloemfontein aan dok Faffa, soos hy algemeen bekendstaan, oorhandig.

Vir hom is dit nog ’n toekenning in die lang lys wat hy deur die jare gekry het en waarvan hy elkeen besonder baie waardeer. “Dit bly vir my ’n voorreg om ’n enkele kalfie of lammetjie aan die lewe te hou, om in ’n span te werk om die lewe vir veeboere makliker te maak, om jong veeartse en boere raad te gee wat hulle kan ophef, en om ’n bydrae tot voedselsekerheid kan maak.

“As ek terugkyk op my geseënde loopbaan, waartydens ek daarin geslaag het om my droom te verwesenlik om ’n diens aan die land se veeboere te lewer, besef ek niks gebeur per toeval nie. Ek het nie die verloop van my werk beplan nie, maar sou dit ook vir niks wou verruil nie.”

’n Droom word vervul

Die feit dat dok Faffa ’n veearts geword het, is te danke aan sy pa se neef, prof Danie Joubert, wat op sy dag rektor van die Universiteit van Pretoria (UP) was en self graag ’n veearts wou word, maar nie vir die opleiding gekeur is nie. Hy het met die jong Faffa gesels en in die destydse standerd ses (deesdae graad agt) het Faffa besluit dit is die beroep wat hy gaan volg.

Nadat hy in 1962 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool gematrikuleer het, is hy UP toe, waar hy in 1968

as veearts gekwalifiseer het. Vandag, 50 jaar later, raak hy nog net so opgewonde as hy ’n dier kan gesond maak, ’n jongeling van raad kan voorsien en iemand agter ’n koöperasie-toonbank kan help oplei.

Nadat hy ’n jaar lank by die Veeartsenykundige Instituut by Onderstepoort gewerk het, het hy ’n private praktyk op Vrede in die Vrystaat begin. Met die praktyk in een van die digste bevolkte veestreke in die land, het hy saam met dr Toit Malan ’n moderne dierehospitaal daar gebou.

Van Vrede na Malelane …

Hy het in 1977 aansoek gedoen om die pos van wetenskaplike dienstebestuurder by die bekende veeartsenykundige maatskappy, Hoechst, in Malelane. Dok Faffa is in die pos aangestel, waar hy tot in 2002 gewerk het.

Met sy aanstelling was die destydse bosoorlog aan die gang en Malelane was net ’n hanetreetjie van Mosambiek se grens af. Landmyne in paaie en huise wat opgeblaas is, was aan die orde van die dag en die kinders is in ’n skoolbus skool toe, met Casspir-voertuie voor en agter.

Mettertyd is die onderneming deur Intervet oorgeneem. In sy dienstyd by dié ondernemings het hy talle prestasies behaal. Onder sy leiding is verskeie nuwe veeartsenykundige produkte ontwikkel, geregistreer en wêreldwyd gebruik. Die navorsingseenheid het ook SANAS-akkreditasie verkry, wat aan proewe wat daar uitgevoer word wêreldwye erkenning gee.

Navorsing oor parasiete

Dok Faffa sê die prestasies wat met parasietnavorsing behaal is, wat die veebedryf wêreldwyd baie positief beïnvloed het, kan aan spanwerk toegeskryf word.

As hy vandag terugkyk op dié loopbaan, is hy dankbaar vir die geleentheid en bevestig dit dat niks toevallig gebeur nie. “Dit het my loopbaan in ’n rigting van dienslewering gestuur wat ek baie geniet. Om boere met kennis te bemagtig en inligting aan hulle te verskaf, het vir my ’n vreugdevolle lewenstaak geword.”

Dit word beklemtoon deur die talle artikels wat hy in landboutydskrifte gepubliseer het en boeke wat hy saam met kollegas en die media geskryf het, wat as handboeke vir veeboere kan dien. Die belangrikste hiervan is waarskynlik die rubriek Vra vir Faffa in Landbouweekblad, waarin hy boere se veeartsenykundige vrae beantwoord het.

Die Famacha-stelsel

Sy grootste nalatenskap aan die bedryf is die ontwikkeling van die Famacha-stelsel. In sy loopbaan het die weerstand van parasiete teen bestaande middels onder die soeklig gekom en volgehoue navorsing het na die ontwikkeling van die stelsel, wat na dok Faffa genoem is, gelei.

Hy het die Famacha-stelsel (FAffa MAlan CHArt) in samewerking met drs Gareth Bath en Jan van Wyk ontwikkel. “Dit behels dat die kleur van skape en bokke se oogvliese met die kleure op ’n kaart vergelyk word om hul bloedarmoede (inwendige parasietbesmetting) te meet. Net diere wat swaar besmet is, word dan behandel. Dit hou die opbou van weerstand teen middels in toom en identifiseer ook diere wat natuurlik weerstand teen parasiete bied.”

Prof Ray Kaplan van Amerika sê die gebruik van die Famacha-stelsel vir die waarneming van bloedarmoede in skape en bokke was die belangrikste vordering in die beheer van parasiete by dié diere in Amerika.

Dr Jan van Wyk sê dié stelsel, ’n breinkind van dok Faffa, het hoop gebring in die wêreldwye stryd teen wurms wat weerstand teen middels bied.

Elke toekenning is spesiaal

Hy waardeer elkeen van die talle toekennings wat hy in sy loopbaan ontvang het op ’n baie besondere manier. Drie toekennings wat vir hom uitstaan, is die jongste toekenning van die Vrystaatse RPO, die Kanselierstoekenning wat hy van die Universiteit van Pretoria ontvang het, en ’n toekenning as landboukundige van die jaar deur Landbouskrywers SA.

“Die Vrystaatse RPO-toekenning is uniek in die sin dat daar nog nooit voorheen so ’n toekenning gedoen is nie. Die Kanselierstoekenning is ’n verering deur my kundige kollegas aan die universiteit en die Landbouskrywers-toekenning wys vir my dat my dienslewering aan boere oor dekades nie ongesiens verbygegaan het nie. Elke toekenning was vir my ’n nuwe tenk petrol om te kan voortgaan,” vertel hy.

Dok Faffa glo die veearts-beroep gaan in die toekoms baie verander. “Nuwe tegnologie soos hommeltuie gaan ’n al hoe groter rol speel, diagnoses maak en selfs behandeling toepas. Die nuwe geslag veeartse sal hierby moet aanpas en dié wat nie bybly nie, gaan irrelevant raak.”

Vir meer inligting, skakel dr Faffa Malan by 082 908 8666 of stuur ’n epos aan dokfaffa@nashuaisp.co.za.