Skaapvleis vanuit die Hardemanskaroo tot die Kamdeboo, Qualité-kase, veldgrasvleis en wildsvleis, asook Suid-Afrika se top 10 Sauvignon Blanc- en ander bekroonde wyne, is van die interessante proe-ervarings wat op fynproewers wag tydens die vierde jaarlikse Agri-Expo Landbouproereeks by die US Woordfees, wat van Vrydag 1 tot Maandag 10 Maart 2019 op Stellenbosch gehou word. Dié reeks bestaan vanjaar uit nege pas- en proesessies met bekende kos- en wynpersoonlikhede.

Wat is die storie agter die kos wat jy elke dag eet? Op Sondag 3 Maart kan jy proe-proe saam met die Veldvleisvereniging van Suid-Afrika kom leer hoe die verskillende maniere waarop ons kos produseer en verwerk unieke smake teweegbring. Die aanbieder, glanssjef Bertus Basson van die Overture-restaurant, sal ’n konvensionele lendesnit of kruisskyf, sowel as veldgrasvleis, onder die vergrootglas plaas. Kenners gesels so tussen die proe deur oor hoekom “naspeurbaar” die nuwe gonswoord is.

Dis nie elke dag dat die koning van die Karoo, Gordon Wright, saam aansit vir Sondagmiddagete nie. Op Sondag 10 Maart kan mense by hom aansluit vir ’n braai in samewerking met Skaapvleis SA – met skaapvleis vanaf die Overberg, Hardemanskaroo en Kamdeboo. Wright, skrywer van die topverkopers Farm to Fork en Karoo Food, sal gesels oor hoe Suid-Afrikaanse skaapvleis deel vorm van die internasionale “Slow Food”-beweging en inderwaarheid ’n nasionale skat geword het.

Uitstaande kase en wyne

’n Opwindende eerste is die pas-en-proe van bekroonde Qualité-kase met van Suid-Afrika se top 10 Sauvignon Blanc-wyne op Woensdag 6 Maart. Die Qualité-merk van gehalte word jaarliks tydens Agri-Expo se Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskappe aan uitnemende suiwelprodukte toegeken.

Slegs 13 uit ’n totaal van 563 kase het in 2018 hierdie prestigetoekenning ontvang – dit is soos die Oscars, net met ’n bietjie meer kultuur! RJ Botha, voorsitter van die Sauvignon Blanc Belangegroep, sal sommige van die wenners van die 2018 Sauvignon Blanc Top 10-kompetisie in die kollig plaas.

“Wit en rooi: Versnitte eie aan die Kaap” op Dinsdag 5 Maart is nog ’n nuwe proe-ervaring in samewerking met Cape Vintner Classification (CVC), wat eiesoortige terreinspesifieke Kaapse ikoonwyne bevorder. Die internasionaal bekende Franse Bordeaux wit- en rooiwyne is meestal versnitte van verskillende kultivars wat mekaar komplementeer. Kom ervaar eerstehands saam met wynmakers van Kanonkop en Vergelegen hoe hierdie beginsel ook op eie bodem toegepas word.

Proe heerlike lamsboud

Sjef Bertus bied op Vrydag 1 Maart weer die gewilde proe van Merinolamsboud uit verskillende streke in samewerking met Merino SA aan. Die vleis is van Merinolam wat telkens ewe oud is, ewe lank verouder is en op dieselfde wyse gaargemaak is, met geen geurmiddels nie.

Gaste kan dus die smaak en geure van die verskillende streke proe, en self besluit watter streek se lam die beste smaak. Die bekende Kaapse wynmeester en Veritas-visevoorsitter, Bennie Howard, sal die perfekte Veritas-bekroonde rooiwyne as pasmaats skink.

Op Donderdag 7 Maart volg ’n unieke Merinolam-proe van Konsortium-Merino, bekend vir hul aanpasbaarheid – van die Boesmanland tot op die Hoëveld, sowel as in die Overberg, Karoo en Oos-Kaap. Fynproewers kan lamsboude uit vyf verskillende streke saam met Veritas-bekroonde rooiwyne proe. Die lamsvleis is weereens ewe lank verouder en word deur sjef Bertus op dieselfde wyse gaargemaak, met geen geurmiddels nie.

Beste pasmaats vir wildsnitte

Tydens die Shiraz- en Wildsvleisproe op Saterdag 2 en 9 Maart kan besoekers ervaar hoekom Suid-Afrikaanse Shiraz-wyne as van die beste pasmaats vir wildsnitte beskou word. Edmund Terblanche, voorsitter van Shiraz Suid-Afrika, asook keldermeester en bekroonde wynmaker van La Motte-wynlandgoed, kom deel sy kennis terwyl sjef Bertus verskillende wildsnitte – sonder enige tierlantyntjies soos konfyte, souse of speserye – voorsit.

Die bekroonde Charles Back van Fairview is weer terug as die aanbieder van ’n kaas- en wynproe op Vrydag 8 Maart, propvol vermaaklike stories oor hoe nuwe kaassoorte en wynstyle geskep word.

Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, sê dat hulle as landbougenootskap die beeld van landbou op opwindende maniere bevorder. “Hierdie inisiatief by die US Woordfees, in samewerking met ons vennote – die Sauvignon Blanc Belangegroep, Skaapvleis SA, Merino SA, Shiraz SA, Fairview, CVC, Konsortium Merino, Veritas en die Veldvleisvereniging – skep ’n toeganklike en vermaaklike platform om kennis oor die oorsprong van landbouprodukte te bevorder.”

Al die proesessies vind van 12:00 tot 12:45 by Die Khaya in Ryneveldstraat, Stellenbosch, plaas. Kaartjies wissel tussen R110 en R160. ’n Beperkte aantal kaartjies is by Computicket beskikbaar. Besoek www.woordfees.co.za of www.agriexpo.co.za vir meer inligting. – Persverklaring