Gemengde gevoelens bestaan onder veeboere in Suid-Afrika oor die jaar 2017. Goeie verrassings soos goeie reën, goeie pryse vir diere en vleispryse wat die hoogte ingeskiet het, het boere weer laat asemhaal en hoop gegee vir die toekoms, maar die jaar het sy kwota dieresiektes meegebring.

As gevolg van die goeie reën wat Suid-Afrika ontvang het en die nat toestande, het veral virussiektes hul tol geëis. Dr Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk, sê veeboere moet verskeie ander tendense in dieregesondheid in ag neem vir die res van die reënseisoen in 2018.

Hy sê van die siektes wat in 2017 toegeneem het, was onder meer hondsdolheid, insekoorgedraagde siektes soos bloutong en knopvelsiekte, bosluisoorgedraagde siektes soos hartwater en rooiwater, lewerslak, rondewurm en haarwurm.

Dr Frikkie Nel van Standerton Veterinêre Hospitaal sê hy het ook ervaar dat dieresiektes soos knopvelsiekte, drie-dae-stywesiekte, E.coli onder vleiskalwers, longontsteking in melkkoeibehuising, brusellose en trigomoniase baie toegeneem het.

 Toename in hondsdolheid

Volgens dr Odendaal het heelwat gevalle van hondsdolheid die afgelope jaar in verskeie provinsies voorgekom. Veral in KwaZulu-Natal is besonder baie gevalle aangemeld en hy verwag dat dié tendens vanjaar kan voortduur.

“Hondsdolheid begin gewoonlik by honde en gaan later oor na jakkalse en vandaar na beeste. Veeartsenydienste het in 2017 verskeie groot projekte bekendgestel om veral honde in te ent om die verspreiding van dié siekte hok te slaan.”

Dr Odendaal beskryf hondsdolheid by vee as ’n ‘doodloopstraat’-siekte, omdat dit nie van een bees na ’n volgende oorgedra kan word nie. “Dit kan slegs van een dier na ’n volgende oorgedra word as ’n roofdier ’n ander dier byt en daar ’n diep wond is waardeur die virus oorgedra kan word.”

 

Insek- en bosluisoorgedraagde siektes

Suid-Afrika het in die vorige reënseisoen ’n rekord getal gevalle van bloutong en knopvelsiekte onder skape en beeste gehad. Dr Odendaal sê dié tendens word gewoonlik na so twee jaar se droogte verwag. “Ek glo dat nog heelwat gevalle in hierdie reënseisoen sal voorkom, waarna dit sal begin afneem. Daar is baie draers van hierdie siektes en diere wat nog nie ingeënt is nie of blootgestel is, kan dit steeds kry.”

Bosluisoorgedraagde siektes soos hartwater en rooiwater is ’n groot bron van kommer. Dit het in 2017 geweldig toegeneem en gaan na verwagting steeds in groot getalle voorkom. Dié siektes het die afgelope paar jaar baie versprei en kom in feitlik al die provinsies voor.

Hartwater, wat aanvanklik in Limpopo voorgekom het, het nou tot ’n groot mate na die Noordwes-provinsie versprei. Een van die redes vir dié verspreiding is dat daar al hoe meer wildplase in Noordwes is en die meergasheer-bontbosluise wat die siekte oordra, kan makliker in dié provinsie oorleef. Volgens sy ervaring kom dit al hoe meer onder kleinvee en veral bokke voor, omdat hulle nie weerstand daarteen het nie.

Voorkoms van rooiwater

Hy is bekommerd oor die voorkoms van rooiwater. “In die verlede was Afrika-rooiwater meer algemeen, maar tans wen Asiatiese rooiwater onrusbarend vinnig veld. Tot ’n paar jaar gelede is nog geen gevalle van Asiatiese rooiwater in die Vrystaat aangemeld nie, maar in 2017 is al in meer as die helfte van die Vrystaat gevalle aangemeld.

“Dit is ’n dodelike siekte, wat deur die pantropiese bloubosluis oorgedra word, en in die meeste gevalle vrek ’n aangetaste dier nog voordat siektetekens opgemerk word. Die siekte het nie dieselfde tekens as Afrika-rooiwater nie.”

Hy sê die siekte het verlede jaar so vinnig toegeneem het dat in ’n stadium geen produkte beskikbaar was vir die behandeling daarvan nie. “My raad aan boere is om oor die lang termyn ’n inentingsprogram saam met ’n veearts uit te werk. So ’n program moet noukeurig gevolg word om groot skade te voorkom.”

Toename in lewerslakke

Lewerslakgetalle het in 2017 stadig toegeneem. Dit word deur droogtes beperk. Met die droogtes van die afgelope paar jaar het die getalle drasties afgeneem, maar in die nat 2017 het dit weer begin toeneem. Na verwagting kan dit in die reënseisoen verder toeneem.

 Rondewurm en haarwurm by skape bly nog die vernaamste probleem as gevolg van weerstand teen middels wat gebruik word. “Die groot probleem is dat boere nie behoorlik ondersoek instel in die lente om te bepaal watter middels wel nog doeltreffend is in die beheer van rondewurms op die plaas nie.”

Dr Nel sê hy het opgemerk dat sekere siektes as gevolg van swak gehalte water toeneem. “In 2017 is groot moeite gedoen om water op plase te toets en entstof te maak om diere teen E. coli te beskerm. In baie gevalle moes die water met chloor behandel word om dit veilig te maak vir gebruik deur diere.”

Gevaar van brusellose

Brusellose is een van die groot kopsere van die afgelope jaar, maar die nodige ondersteuning is steeds nie van veeprodusente en -telers gekry nie. Dr Nel sê veeartse het die afgelope jaar met groot moeite projekte bekendgestel om boere bewus te maak van toetsing vir brusellose, die uitskot van diere wat positief getoets is en inentingsprogramme.

“Dit bly ’n enorme probleem in die veeteeltbedryf. Telers word dus aangemoedig om betrokke te raak by beheerprogramme, en die toets van diere is die eerste stap.

 “Sekere siektes kom dikwels in siklusse voor. Een van hulle is drie-dae-stywesiekte, wat veral onder melkkoeie weer kop uitgesteek het in ’n ses-tot-agt-jaar siklus. Die probleem kan in die komende jaar steeds in groot getalle voorkom as melkkoeie nie ingeënt is nie.”

 Wat om in 2018 te verwag

Hy sê die siektes wat verlede jaar meer as gewoonlik voorgekom het, het ’n enorme finansiële impak op die vleisbedryf gehad. Die meeste siektes het tot gevalle van aborsie, resorpsie, vrektes, swak produksie en swak reproduksie gelei. Daar was gevalle van onopvallende produksieverliese en swak finansiële prestasie van boerdery-eenhede.

“Ons kan geslagsiektes soos trigomoniase en ’n hoër voorkoms van brusellose en sponssiekte verwag. As dit vanjaar goed reën en die wêreld is baie nat, kan ons Slenkdalkoors te wagte wees. Daarom moet boere verseker dat ten minste vervangingsdiere elke jaar ingeënt word.”

Tref betyds voorsorg

Dr Nel se raad aan boere is om teen die heersende siektes in te ent en bedag te wees op biosekuriteit op hul plase. “Besoekende boere moet beskermende skoene aantrek of hul stewels afwas as hulle op jou plaas kom. Moet geen nuwe diere goedsmoeds in jou kudde toelaat nie. Dring daarop aan dat diere wat jy aankoop eers in kwarantyn moet wees om te verseker dat hulle nie nuwe siektes na jou plaas bring nie. Toets vir brusellose, tuberkulose en trigomoniase.”

Wetgewing bestaan om veeboere te help om hul kuddes skoon te hou, maar hy voel dis nie genoeg nie. Elke boer moet dus sy eie beheermaatreëls instel. Op die lang duur is dit beter om goeie voorkomingsmaatreëls te tref as om agterna te sukkel met siektes wat ’n hele kudde kan besmet.

“Die probleem met virussiektes is dat geen doeltreffende behandeling daarteen bestaan nie. Dit is gewoonlik net simptome wat behandel moet word, en dit kan ’n boer baie geld uit die sak jaag. Die beste teenvoeter is om vroegtydig in te ent,” sê hy.

Sy raad is om saam met die plaaslike veearts ’n volledige inentingsprogram op te stel, dit jaarliks te hersien en dit dan sorgvuldig te volg.

dr Frikke Nel
dr Danie Odendaal

Vir meer inligting, skakel dr Danie Odendaal by 082 454 0532 of stuur ’n epos aan vnet@absamail.co.za, en skakel dr Frikkie Nel by 017 712 2165.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here