Van boervrou tot boerbokteler

428

Die waarde van boerbokke om weiding saam met beeste optimaal te benut, word soms vlak gekyk. Op ’n relatiewe klein plaas in die omgewing van Vryburg, word dié voordelige stelsel egter baie doeltreffend benut.

Desré sê sy mik daarna om ramme te teel wat vleis dra, aangepas is om hul werk te doen en nageslag teel wat sy met trots as teeldiere kan aanbied.

So vertel Desré Ferreira, ’n boervrou en stoetboer van Vryburg. Sy het haar eie stoetery begin toe sy besef het dat, as sy langer haar man, Marius, se Bonsmara-stoetery probeer ‘organise’, dit dalk tot huismoles kan lei. Vandag vul die boerbokke die beesboerdery uitstekend aan.

Sy sê hulle het aanvanklik deeltyds op ’n stukkie huurgrond buite Vryburg geboer wat nie eintlik ideaal vir haar boerbokstoetery was nie, omdat die infrastruktuur tekortgeskiet het. Om dit vir jouself maklik te maak om boerbokke aan te hou, moet jou krale, hanteringsgeriewe en veral die buiteheinings om die plaas, baie goed wees. ’n Mens wil nie geld spandeer om huurgrond reg te maak nie.

’n Nuwe uitdaging

In die negentigerjare het ’n paar dinge gebeur. Hulle het ’n plaas van hul eie gekoop, die kinders is uit die huis en met meer tyd beskikbaar, het Desré ’n behoefte aan ’n eie boerdery gehad. Sy het op daardie stadium al ’n klompie boerbokke gehad en dit was vanselfsprekend dat sy daarmee moes woeker.

Aanvanklik het sy kapaters vir die slagmark voorsien, maar dié bedryf het haar nie aangestaan nie en sy het besluit om ’n stoetery te begin en teeldiere te produseer. Uit die staanspoor het sy in uitstaande ramme belê.

Die grootste hupstoot wat haar onderneming gekry het, was ’n klompie ooie wat sy in 1998 op die algehele uitverkopingsveiling van die bekende boerbokteler, dr HP Maree, gekoop het, waaronder ooie van die land se voorste telers was. Uit dié ooie het sy moederlyne geteel wat sy vandag nog in haar kudde gebruik.

In 2002 het sy ’n seun van die wêreldkampioenram, Dr Pepper, aangeskaf en op die uitsoekooie gebruik, en in 2005 het sy ’n ram van die bekende teler Stefaans Malan gekoop. Die ram het baie vleis gedra en dié eienskap is nog duidelik in sy nageslag te sien.

Desré het dié ram vir R40 000 op die Ghaapseberg-veiling verkoop. Saam met haar is die koper, Bertus van Schalkwyk. Nog een van haar ramme is vir R34 000 verkoop.

Desré sê óf ’n mens hou van boerbokke, óf jy verpes hulle. Sy is gelukkig een wat van boerbokke hou. Hulle het horings wat dit maklik maak om hulle vas te hou, ’n baard om hulle te beheer en hope karakter. Hulle aard uitstekend in feitlik alle omgewings en benut op hulle plaas die vaal- en rosyntjiebosse uitstekend waar hulle saam met die beeste wei.

Teel van ’n wenstoet

Haar teeldoelwit is om ramme te lewer wat goed bespierd en manlik is en by alle omgewings kan aanpas. Hulle moet ’n sterk libido hê; ’n bokram wat heeldag in die kraal of in die koelte lê, beteken baie min vir die boer. Telers moet ook daarteen waak om oorvoerde ramme te verkoop wat uitmekaar val as hulle in die veld agter die ooie moet aanloop.

Haar oogmerk is om nog beter ramme vir die mark te teel. Sy glo die toekoms vir die boerbokbedryf is rooskleurig, want die vraag na goeie teelmateriaal neem toe. Ontluikende boere hou van hulle bokke omdat die diere so aanpasbaar is en hulle lief is vir die vleis.

Hulp aan opkomende boere

Desré is betrokke by projekte om ontluikende boere met raad en daad by te staan. Benewens haar betrokkenheid by boere- en inligtingsdae in die kommunale gebiede, het sy ook ’n groep op elektroniese media begin waar dié telers met haar en onder mekaar gedagtes kan uitruil en probleme kan bespreek.

Sy sê sy is besonder bevoorreg om veeartse en agente te hê wat haar bystaan en sy het ’n bestuursprogram vir boerbokke opgestel wat spesifiek op opkomende boere gemik is. Hulle gee ook ’n inligtingsboekie, Ghaapseberg Bokrekord, uit.

Op hul jaarlikse produksieveiling bied hulle aan ontluikende telers wat van hul ramme gekoop het, die geleentheid om gekeurde ooitjies aan te bied en te verkoop. So leer hulle hoe om diere suksesvol vir ’n veiling voor te berei, te laat keur en te verkoop.

’n Klein kudde met sorg bestuur

Sy probeer om nie meer as 150 teelooie in haar kudde te hê nie, omdat sy voel sy beter beheer het oor ’n kleiner groep en dat sy dit beter kan bestuur. Daar word noukeurige rekords van elke ooi, hul stambome en nageslag gehou. Omdat daar ’n groot vraag na haar ramme is, is dit belangrik om ooie uit die moederlyne wat goeie ramme produseer, in die kudde te hou.

Twee dektye word gebruik. Volwasse ooie word in Maart gedek en die jongooitjies in Mei, sodat hulle teen Oktober lam. Sy ondervind dat winterlammers oor die algemeen gesonder is en minder parasiete het. Die jongooitjies moet apart lam sodat sy met lamtyd ’n oog oor hulle kan hou.

Die ramlammers word gespeen as hulle sowat vier maande oud is en die ooilammers so twee tot vier weke later. Die ramlammers gaan ramkrale toe, waar die prulle uitgehaal en verkoop word. Die rammetjies wat gehou word, verdeel sy in ’n veilingsgroep en ’n groep wat uit die hand uit verkoop gaan word. Die ooitjies bly vir sowat twee weke in die kraal waar hulle drie keer per dag voer kry. Daarna gaan hulle bedags veld toe en ontvang twee keer per dag voer.

Desré is onder andere betrokke by boere- en inligtingsdae in kommunale gebiede, waar sy raad en inligting met ontluikende boere deel.

Eienskappe vir seleksie

Enkelingramme kan ’n mens binne ’n maand of wat ná geboorte selekteer, maar in die geval van meerlinge keur sy hulle aan die hand van die ooi se rekords, en word dié ooi ook geïdentifiseer as een wat ramlammers kan teel. Die ooitjies word volgens moederlyne geselekteer. Vir seleksie kyk sy eers na die moederlyne waaruit die lammers kom en dan beoordeel sy hulle met die oog.

Met die seleksie van diere wat in die kudde opgeneem gaan word, is vrugbaarheid die belangrikste eienskap. As ’n ooi nie ’n lam produseer nie, is sy net ’n passasier en ’n uitgawe. Goeie melkproduksie is ook noodsaaklik, veral waar meerlinge grootgemaak moet word.

Haar boerbokke moet op natuurlike weiding kan reproduseer en presteer, asook lammers goed grootmaak. Sy help hulle net voor en ná lamtyd met byvoeding, maar sy wil beslis nie ooie regdeur die jaar voer gee nie.

Bespiering is ook baie belangrik. Sy wil ramme bemark wat soos ’n ram lyk, sonder dat hy gevoer moet word om die indruk te skep dat hy goeie vleis dra. Net so moet die dier se bouvorm aan die rasstandaarde voldoen om gekeur te kan word. Daar is deesdae eintlik min van haar bokke wat uitgeskot moet word. Die ramlammers wat nie die paal haal nie, verkoop sy op gewone slagveeveilings en die ooilammers verkoop sy uit die hand uit.

Met uitmuntende diere wat sy uitstekend ‘organise’, is Desré vandag ’n gevestigde boerbokteler wat in haar streek ’n groot bydrae tot die boerbokbedryf lewer. Sy tree ook op as mentor vir ontluikende boere, lewer ’n bydrae tot die optimale benutting van hul plaas en sorg dat die moontlikheid van huismoles skraal bly.

Vir meer inligting, kontak Desré Ferreira by 083 440 9309 of mariusferreiravbg@gmail.com. – Andries Gouws, Veeplaas